Lakewood, Kalifornië
Lakewood is 'n stad en munisipaliteit volgens algemene reg[1] in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië se distrik Los Angeles County met 'n bevolking van 80 048 volgens die sensus van 2010. Die stadsgebied word begrens deur Long Beach in die weste en suide, Bellflower in die noorde, Cerritos in die noordooste, Cypress in die ooste en Hawaiian Gardens in die suidooste. Die snelweg San Gabriel River Freeway (Interstate 605) loop deur Lakewood se oostelike buurte.
City of Lakewood | |
Lakewood se stadsaal | |
Ligging in LA County en Kalifornië | |
Land | Verenigde State van Amerika |
---|---|
Deelstaat | Kalifornië |
County | Los Angeles County |
Geïnkorporeer op | 16 April 1954 |
Regering | |
- Burgemeester | Jeff Wood |
Oppervlakte | |
- Totaal | 24,517 km² (9,5 myl²) |
Bevolking (2010) | |
- Totaal | 80 048 |
- Digtheid | 3 300/km² (8 547/myl²) |
ZIP code | 90711-16, 90805 |
Areakode(s) | 562 |
Webwerf: lakewoodcity.org |
Soms word na Lakewood verwys as 'n "kitsstad" - 'n sinspeling op die stad se beplande ontwikkeling enkele jare ná die Tweede Wêreldoorlog om die behuisingstekort in Los Angeles County te verlig. Lakewood het vanaf 1950 op die limaboonvelde van 'n voormalige landbouterrein ontstaan as deel van 'n grootskaalse behuisingsprojek waarvolgens 17 500 huise binne 'n tydperk van vyf jaar op 'n industriële manier gebou is. In 1951 het die Lakewood Center Mall ontstaan as die destyds grootste winkelsentrum in die Verenigde State. Drie jaar later was Lakewood die eerste Kaliforniese nedersetting sedert 1939 wat geïnkorporeer is nadat inwoners die insluiting by naburige Long Beach verwerp het.
Die nuut geïnkorporeerde City of Lakewood het 'n vernuwende en kostebesparende idee van die advokaat John Todd verwesenlik om munisipale administrasie en dienslewering te vergemaklik. Volgens die sogenaamde Lakewood Plan word munisipale dienste soos polisie, brandweer en straatonderhoud nie deur die stad self voorsien nie, maar op 'n kontrakbasis deur Los Angeles County verskaf. Lakewood het sodoende die eerste Amerikaanse "kontrakstad" geword. Intussen het 'n kwart van Kaliforniese nedersettings asook tientalle stede elders in die VSA Lakewood se voorbeeld gevolg.[2]
Teen 1960 was Lakewood 'n vol-ontwikkelde nedersetting wat vandag steeds as die klassieke voorbeeld van 'n naoorlogse Amerikaanse voorstad beskou word.
Verwysings
wysig- ↑ Nota: Vir nedersettings in Kalifornië word die terme stad (city) en dorp (town) as sinonieme gebruik. Die munisipale bevoegdhede van nedersettings volgens algemene reg word deur die deelstaat se Government Code (ook California Codes genoem) bepaal.
- ↑ Los Angeles Almanac: A New Kind of City... Lakewood. Besoek op 9 Junie 2016