Omanse nasionale krieketspan

Die Omanse nasionale krieketspan verteenwoordig Oman in die spel van krieket en word geadministreer deur die Omanse Krieketraad.[6] Hulle het in 2000 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR), en in 2014 ’n assosiaatlid geword. Die nasionale span het wedstryde op T20-vlak gespeel. Op 24 April 2019 het Oman vir die eerste keer tot 2022 EDI-status ontvang, nadat hulle die gasheer Namibië met vier paaltjies tydens die 2019 Wêreldkrieketliga se afdeling twee kon klop.[7]

Oman
Flag of Oman.svg
KonferensieOmanse Krieketraad
Personeel
KapteinZeeshan Maqsood
AfrigterVlag van Sri Lanka Duleep Mendis
Internasionale Krieketraad
IKR-statusAssosiaatlid met EDI-status (2014)
IKR-streekAKR (Asië)
IKR-ranglys Tans[1] Beste rang tot dusver
EDI14de14de (op 12 Februarie 2020)
T20I17de14de (op 20 Oktober 2019)
Internasionale eendagwedstryde
Eerste EDIt Vlag van Namibië Namibië op Wanderers-krieketgrond, Windhoek; 27 April 2019
Laaste EDIt Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State op Tribhuvan Universiteit se Internasionale Krieketveld, Kirtipur; 11 Februarie 2020
EDIs Gespeel Gewen/Verloor
Totaal[2]118/3
(0 gelykop, 0 geen uitslag)
Vanjaar[3]65/1
(0 gelykop, 0 geen uitslag)
verskynings tydens wêreldbeker-kwalifiserings2 (eerste in 2005)
Beste uitslag9de plek (in 2005)
Twintig20s
Eerste T20It Vlag van Afghanistan Afghanistan op Castle Avenue, Dublin; 25 Julie 2015
Laaste T20It Flag of the Maldives Maledive op Al Amerat-krieketstadion, Maskat; 25 Februarie 2020
T20Is Gespeel Gewen/Verloor
Totaal[4]3616/19
(0 onbeslis, 1 geen uitslag)
Vanjaar[5]32/1
(0 onbeslis, 0 geen uitslag)
Verskynings by T20-wêreldbeker-toernooie2 (eerste in 2016)
Beste uitslagGroepfase (in 2016)
Verskynings by T20-wêreldbeker-kwalifiserings2 (eerste in 2012)
Beste uitslag6de plek (in 2015 en 2019)
EDI- en T20I-klere

Oman se eerste internasionale wedstryde was tydens die AKR-trofee 2002, en die span het aan baie AKR-toernooie deelgeneem, tydens die AKR-trofee 2004 as naaswenner geëindig en twee keer die AKR T20-beker gewen. Oman het aan krieketwêreldbekerkwalifikasietoernooie deelgeneem sonder om vir die uiteindelike toernooi te kwalifiseer, die negende plek tydens die IKR-trofee in 2005 behaal en elfde tydens die 2009-wêreldbekerkwalifikasie. In Julie 2015 het Oman met sy oorwinning oor Namibië tydens die 2005 T20-wêreldbekerkwalifikasie T20-status behaal en kon vir die T20-wêreldbeker 2016 in Indië kwalifiseer, hul eerste vername internasionale toernooi.[8]

Krieket word in Oman oorwegend deur emigrante uit beide Indië en Pakistan (en hul nasate) gespeel, maar minder deur inheemse Omanis – teen 2010 was net 100 van die 780 spelers in die nasionale liga Arabiere, sowat 13 persent.[9] Die samestelling van die Omanse nasionale span het dit in die algemeen weerspieël, hoewel verskeie Arabiere vir die span verskyn het. Kwotas van Arabiese spelers is vir klubspanne sowel as vir die nasionale span ingestel om krieket se gewildheid onder die Arabiese bevolking te bevorder.

In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle Twintig20-status toe te ken. Vervolgens sal elke T20-wedstryd wat Oman ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as volle T20I erken word.[10] Oman is tans (25 Februarie 2020) 14de op die eendagranglys, en 17de op die Twintig20-wêreldranglys.[11][12]

GeskiedenisWysig

Vroeë jare en IKR-lidmaatskapWysig

Krieket is na Oman gebring toe dit ’n Britse protektoraat was. Oman het in 2000 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad geword. Oman het sy internasionale debuut tydens die AKR-trofee in 2002 gemaak, waar hulle versuim het om tot die tweede rondte te vorder, nadat hulle net teen Katar gewen het. ’n Groot vordering is tydens die 2004-toernooi behaal, nadat Oman die eindstryd bereik, maar teen die Verenigde Arabiese Emirate nasionale krieketspan verloor het. As naaswenner het hulle vir die IKR-trofee in 2005 gekwalifiseer, die laaste kwalifiseringsfase vir die Krieketwêreldbeker in 2007. Daardeur het hulle ook vir die Asiatiese beker in 2006 gekwalifiseer. Later in 2004 het Oman die Midde-Oosterse beker ná ’n gelykopwedstryd teen Bahrein ingepalm. Oman het dié toernooi gewen, aangesien hulle Bahrein in die groepfase verslaan het. Tydens die AKR se Premierliga 2014 in Maleisië het hulle ná drie oorwinnings die vierde plek behaal.

IKR-trofee 2005 en nadraaiWysig

In 2005 het Oman die eerste assosiaatlid geword om aan die IKR-trofee deel te neem. Ondanks hul status as ’n onbekende span tydens dié toernooi het hulle alle groepwedstryde verloor, maar Oman het later daarin geslaag om hul uitspeelwedstryde teen Uganda en die Verenigde State te wen; laasgenoemde nadat hulle ’n teiken van 345 lopies suksesvol gejaag het, waaronder ’n vennootskap van 127 lopies om die agtste paaltjie. Hierdeur het hulle die negende plek onder die twaalf deelnemende spanne behaal, genoeg om aan afdeling twee van die Krieketliga in 2007 deel te neem.

In 2006 het Oman se vertoning verswak, nadat hulle tydens die groepfase van die AKR-beker uitgeskakel is en hulle net ’n oorwinning teen die Maledive aangeteken het. Oman sou oorspronklik aan die Asiatiese beker in 2006 deelneem en tydens dié toernooi sy eerste EDI-wedstryde teen beide Pakistan en Indië speel. Dié toernooi is egter tot 2008 uitgestel, en die AKR het daarop besluit om die AKR-trofee in 2006 as ’n kwalifiseringstoernooi in te span, waarvolgens Oman deur Hongkong vervang is.

2007–2013Wysig

In Oktober/November 2007 het Oman aan die eerste AKR se T20-beker in Koeweit deelgeneem, waar hulle in Groep A teen Afghanistan, Maleisië, Nepal en Katar gespeel het. Oman het in sy groep tweede geëindig en tot die halfeindstryd gevorder. Oman het Koeweit in die halfeindstryd verslaan, en daarna die beker met Afghanistan gedeel, nadat hulle in die eindstryd gelykop gespeel het.

In November 2007 het Oman na Namibië vertrek om aan afdeling twee van die Wêreldkrieketliga deel te neem. Hulle het teen Denemarke, die gasheer en die VAE, bykomend tot die twee kwalifiseerders van die afdeling drie – Uganda en Argentinië – gespeel. Alhoewel Oman al sy groepwedstryde gewen het, het hulle teen die VAE in die eindstryd verloor. Op grond van hul vierde plek tydens dié toernooi het Oman tot die Wêreldbekerkwalifisering in 2009 gevorder, die laaste kwalifiseringstoernooi vir die Krieketwêreldbeker in 2011.

In Januarie 2009 het Oman aan die AKR-beker deelgeneem, ’n uitdagtoernooi in Chiang Mai, Thailand. Hulle het dié toernooi maklik gewen, nadat hulle die Maledive en Bhoetan onderskeidelik in die halfeindstryd en eindstryd verslaan het. Die gunsteling voor die toernooi was egter die gasheer Thailand, wat die vierde plek behaal het.

In April 2009 het Oman na Suid-Afrika getoer om aan die Wêreldbekerkwalifisering 2009 deel te neem, die laaste kwalifiseringstoernooi vir die Krieketwêreldbeker in 2011. Tydens dié toernooi het Oman op die laaste plek van hul groep geëindig en in die uitspeelwedstryd om die elfde plek het hulle Denemarke met 5 paaltjies verslaan.

Tydens die AKR se T20-beker in 2009 is Oman in Groep B geloot. Tydens die groepfase het hulle al hul vyf wedstryde gewen, en sodoende hul groep gewen en tot die halfeindstryd gevorder. In die halfeindstryd het Oman teen die VAE verloor, waardeur hulle die kans misgeloop het om rug-aan-rug titels in te palm. In die uitspeelwedstryd om die derde plek het hulle Koeweit verslaan. Met hierdie oorwinning het Oman die laaste plek vir die kriekettoernooi tydens die Asiatiese Spele in 2010 bespreek. Hulle het aan die Wêreldkrieketliga se afdeling drie deelgeneem, waartydens hulle op die derde plek geëindig en sodoende in dié afdeling gebly het.

Sedert 2014: Assosiaatlid, EDI- en T20I-statusWysig

Tydens die jaarlikse IKR-vergadering in Melbourne, Australië, in Junie 2014, is die Omanse Krieketraad van ’n geaffilieerde lid tot ’n assosiaatlid opgegradeer.[6] Hierdie aankondiging was tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling vier, waartydens Oman die vyfde plek behaal het en vervolgens tot die afdeling vyf in 2016 afgegradeer is. Ondanks Oman se slegter vertoning in EDI-krieket het Oman daarin geslaag om sy volgende groot internasionale toernooi, die AKR se T20-beker in 2015, te wen, en sodoende vir die T20-wêreldbeker in 2015 in Ierland en Skotland gekwalifiseer.[13]

Nadat Oman Namibië in ’n uitspeelwedstryd tydens die T20-wêreldbekerkwalifisering verslaan het, was Oman onder die ses boonste spanne tydens dié toernooi en het sodoende vir die T20-wêreldbeker 2016 gekwalifiseer en T20-status tot in 2019 verkry.[8] Oman het sy T20I-debuut tydens die uitspeelwedstryd om die vyfde plek teen Afghanistan gemaak, en later die jaar bilaterale T20I-reekse teen Afghanistan, Hongkong en die VAE gespeel.

In 2016 het Oman tydens die T20-wêreldbeker in Indië verskyn, waar hulle ’n verrassende oorwinning oor Ierland aangeteken het.[14]

Oman het ook aan die kwalifisering vir die Asiatiese beker in 2016 deelgeneem.[15]

In Januarie 2017 het Oman aan die Desert T20-uitdaging in 2017 deelgeneem. Hulle het die halfeindstryd van dié toernooi behaal, nadat hulle Hongkong in die groepfase verslaan het, maar hulle is deur Afghanistan uitgeskakel.

In April 2019 het Oman, saam met die VSA, vir die eerste keer EDI-status tot in 2022 verkry.[7] Oman het daarin geslaag om vir die T20-wêreldbeker 2020 te kwalifiseer.

IKR Wêreld-Twintig20-rekordWysig

Jaar Uitslag
2007 Nie gekwalifiseer nie
2009 Nie gekwalifiseer nie
2010 Nie gekwalifiseer nie
2012 Nie gekwalifiseer nie
2014 Nie gekwalifiseer nie
2016 13de plek uit 16 spanne
2020 Gekwalifiseer
2021 N.v.t.

VerwysingsWysig

  1. (en) "ICC Rankings". Internasionale Krieketraad.
  2. (en) "ODI matches – Team records". ESPNcricinfo.
  3. (en) "ODI matches – 2020 Team records". ESPNcricinfo.
  4. (en) "T20I matches – Team records". ESPNcricinfo.
  5. (en) "T20I matches – 2020 Team records". ESPNcricinfo.
  6. 6,0 6,1 "Oman becomes International Cricket Council associate member" (in Engels). Times of Oman. 26 Junie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Januarie 2020. Besoek op 25 Februarie 2020.
  7. 7,0 7,1 "Oman and USA secure ICC Men's Cricket World Cup League 2 places and ODI status". Internasionale Krieketraad (in Engels). 24 April 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 April 2019. Besoek op 25 Februarie 2020.
  8. 8,0 8,1 "Oman secure World T20 spot with memorable win". ESPNcricinfo (in Engels). 23 Julie 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 November 2019. Besoek op 25 Februarie 2020.
  9. "More men in Oman" (in Engels). Asiatiese Krieketraad. 27 Julie 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2019. Besoek op 25 Februarie 2020.
  10. "All T20 matches between ICC members to get international status". Internasionale Krieketraad (in Engels). 26 April 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 November 2019. Besoek op 25 Februarie 2020.
  11. "Men's ODI Team Rankings" (in Engels). Internasionale Krieketraad. 15 Februarie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2020. Besoek op 25 Februarie 2020.
  12. "Men's T20I Team Rankings" (in Engels). Internasionale Krieketraad. 15 Februarie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 25 Februarie 2020.
  13. "ACC TWENTY20 CUP, 2014/15" (in Engels). ESPNcricinfo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Julie 2019. Besoek op 17 November 2015.
  14. "Joy for underdogs Oman, Ireland stunned". ESPNcricinfo (in Engels). 8 Maart 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Januarie 2020. Besoek op 28 Januarie 2020.
  15. Andrew Nixon (2 November 2015). "Busy month in UAE for associates" (in Engels). Cricket Europe. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op 17 November 2015.

Eksterne skakelsWysig