Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë

Die Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë (CSAR) was van 1902–1910 die operateur van openbare spoorweë in die Transvaalkolonie en Oranjerivierkolonie in wat nou Suid-Afrika is.

Spoornetwerk van die Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë in 1910, net vóór die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog, soos die Britse magte inbeweeg het in die gebied van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek, is die Oranje Vrijstaatsche Gouvernementsspoorwegen (OVGS), die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Spoorweë Maatskappy (NZASM) en die Pretoria Pietersburg Spoorweg Maatschappij (PPS) oorgeneem deur die Imperiale Militêre Spoorweë onder luitenant-kolonel sir Percy Girouard. Aan die einde van die oorlog het die Imperiale Militêre Spoorweë die Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë geword.

Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910, het die CSAR saamgesmelt met die Kaapse Regeringspoorweë en die Natalse Regeringspoorweë om die Suid-Afrikaanse Spoorweë te vorm.