Verskil tussen weergawes van "Anna Bliss"

119 grepe bygevoeg ,  3 jaar gelede
geen wysigingsopsomming nie
Anna Bliss was ’n dogter van eerw. Z. Bliss, 'n predikant van die [[Kongregasionalistiese Kerk]] wat uit 'n puriteinse geslag gestam het. Sy het as een van 'n gesin van 13 op Amherst naby Mount Holyoke, 'n belangrike opvoedingsentrum in die deelstaat [[Massachusetts]], grootgeword. Op 15-jarige leeftyd het sy haar skoolloopbaan voltooi en moes 'n jaar wag voor sy vir graadstudie aan Mount Holyoke kon inskryf, waar sy wiskunde as hoofvak en daarna ook 'n eenjarige onderwyskursus gevolg het. Terwyl sy onderwys in Massachusetts gegee het, het ’n beroep van ds. [[Andrew Murray]], predikant van die [[NG gemeente Wellington]], gekom waarin hy gevra het dat ’n onderwyseres gestuur moes word om op Wellington 'n inrigting in die lewe te roep wat soortgelyk sou wees aan die kollege op Mount Holyoke, waarvan Murray baie gelees het en geweet het dat vroue daar "onderrig is om hul hoof, hart en hand te gebruik". Murray se ideaal was om die meisieskool op Wellington uit te bou tot 'n seminarie en eindelik tot 'n inrigting vir die opleiding van onderwyseresse en vrouesendelinge.
 
Op [[20 September]] [[1873]] het mejj. Bliss en [[Abbie Park Ferguson]] uit [[New York]] vertrek na die destyds "verre Afrika", waar hulle by hul aankoms op [[15 November]] [[1873]] deur ds. Murray ontmoet is. Saam met hom sou hulle meer as 40 jaar lank grootse arbeid verrig ten bate van die dogters en vroue van Suid-Afrika. Op [[19 Januarie]] [[1874]] het Bliss met haar lewenstaak as onderwyseres op Wellington begin as een van mej. Ferguson se twee assistentes aan die [[Hugenote-seminarie]] en in Julie van daardie jaar is sy bevorder tot prinsipale van die primêre afdeling. 'n Jaar later het sy hoof van die primêre kosinrigting White House geword, terwyl mej. Ferguson hoof van hul nuwe koshuis, Murray Hall, geword het. Ondanks periodieke besoeke aan haar vaderland het Bliss 'n ware Suid-Afrikaner geword en saam met haar vriendin mej. Ferguson het sy haar lewe aan die Hugenote-seminarie en –kollege gewy. Hulle is albei op [[5 Oktober]] [[1874]] as lidmate van die [[NG gemeente Wellington|plaaslike NG gemeente]] opgeneem.
 
In Desember 1898 is die Hugenote-kollege geopen in die pas voltooide Cummings Hall, waarheen mejj. Ferguson en Bliss in 1899 verhuis het. Bliss het prinsipale geword van die Hugenote-hoërmeisieskool tot 1910, behalwe 'n tydperk van drie maande toe sy in die plek van mej. Ferguson waargeneem het as hoof van die kollege. In 1904 is die nuwe koshuis Bliss Hall in gebruik geneem. Hoewel die skoolgebou deur 'n brand vernietig is, kon die nuwe gebou in Mei 1908 oopgestel word. Voor sy mej. Ferguson in 1911 opgevolg het as presidente van die Hugenote-kollege, het mej. Bliss 'n besoek gebring aan haar alma mater, waar 'n eredoktorsgraad in die letterkunde aan haar toegeken is vir haar baanbrekerswerk op die gebied van hoër onderwys vir vroue in Suid-Afrika. In 1922 het sy 'n dergelike eregraad ontvang van die [[Universiteit van Suid-Afrika]], waarvan die Hugenote-kollege in 1918 'n konstituerende kollege geword het. Vanweë haar opregte trou teenoor mej. Ferguson het sy altyd die voorrang aan haar verleen, maar as opvoedkundige het sy in geen opsig by haar agtergestaan nie. As presidente het sy bewys gelewer van dieselfde begaafdheid wat haar as prinsipale gekenmerk het. Haar administratiewe bekwaamheid, gawe van leierskap, puik dissipline en boweal haar godsdienstigheid, het 'n onuitwisbare stempel op die jong inrigting afgedruk en skitterende resultate verseker.
84 871

wysigings