Verskil tussen weergawes van "William Rowland"

Daarna is hy in 1959 na [[Londen]] waar hy as fisioterapeut opgelei word by die Royal National Institute for the Blind en in 1962 kwalifiseer. In [[Engeland]] het hy ook ʼn drieman poporkes. Ná kwalifikasie werk hy ʼn paar maande lank in Engeland om geld te spaar om deur [[Europa]] te reis.
 
Met sy terugkeer uit Europa werk hy eers as fisioterapeut by die Lady Michaelis Ortopediese Hospitaal en daarna in privaat praktyk, waarna hy in 1966 ʼn betrekking aanvaar as skakelbeampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes. Hy studeer verder aan die [[Universiteit van Suid-Afrika]] en behaal die [[Baccalareus artium|B.A.]]-graad en in 1968 die B.A. Honneurs-graad met onderskeiding, insluitende die Tafelberg-prys vir die beste student in Afrikaans. Die M.A.-graad in wysbegeerte behaal hy in 1977 met onderskeiding aan Unisa, met ʼn verhandeling oor die waarneming en ruimtebegrip van die blinde getitel “Space and blindness – a philosophical study”. Aan die Universiteit van Kaapstad behaal hy in 1984 sy Ph.D. met ʼn proefskrif getitel “Being-blind-in-the-world – a phenomenological analysis of blindness and a formulation of new objectives in rehabilitation”. Hierdie proefskrif word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes gepubliseer en versprei in meer as 25 lande.
 
In Mei 1975 word hy bevorder tot assistent-direkteur, in Januarie 1976 tot direkteur en in 1996 tot uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes. Hy verteenwoordig Suid-Afrika op talle internasionale konferensies oor blindes, onder meer in [[Madrid]] in 1972, [[Oxford]] in 1978, [[Washington]] in 1982, [[Trieste]] in [[Oostenryk]] in 1983 en [[Riyadh]] in [[Saoedi-Arabië]] in 1984, en hy lewer ook referate op laasgenoemde twee konferensies. Hy neem ook deel aan die Wêreldunie vir Blindes se Komitee vir Rehabilitasie en Indiensneming wat in 1986 in [[Sofia]] in [[Bulgarye]] gehou is.