Verskil tussen weergawes van "J.C. Kannemeyer"

Vanaf [[1 April]] [[1969]] is hy senior lektor in die Nederlandse letterkunde aan die [[Randse Afrikaanse Universiteit]]. In [[1971]] neem hy studieverlof en vertrek saam met sy gesin na Europa, waar sy vrou en kinders in [[Spanje]] agterbly by haar ouers. Hy bestudeer die Nederlandse letterkunde onder Karel Meeuwese van die Katholieke Universiteit van Nijmegen, terwyl hy ook van hierdie geleentheid gebruik maak om Europa te deurreis en die Skandinawiese lande te besoek. In hierdie tyd verlaat sy vrou hom en keer hy alleen met die kinders terug na [[Suid-Afrika]]. Die Universiteit van Kaapstad bied hom nou ’n posisie aan as lektor en hy keer in [[1973]] terug na [[Kaapstad]]. Hy is in 1973 ’n tweede keer getroud, hierdie keer met Estelle, dogter van die gewese eerste minister [[Hans Strijdom|J.G. Strijdom]]. Die huwelik is egter ’n mislukking en die egpaar is binne ’n paar maande uitmekaar. In die middel van [[1974]] trou hy met Althea Roberts van [[Mosselbaai]], wat ’n dogter uit ’n vorige huwelik het. Hulle besoek Europa vir hulle huweliksreis van vyf weke. Vanaf Januarie [[1975]] is hy lektor en vanaf [[1976]] senior lektor in Nederlandse studies aan die Universiteit van Stellenbosch en in hierdie tyd voltooi hy sy in-diepte navorsing vir die skryf van die geskiedenis van die [[Afrikaanse letterkunde]]. Na publikasie van die eerste band van hierdie omvattende studie onderneem hy in Oktober [[1978]] weer ’n studiereis van drie maande in Europa. Hy is redaksielid van ''Standpunte'' en in die tydperk tussen Februarie [[1977]] tot Desember [[1983]] is hy eindredakteur van hierdie tydskrif, waarna hy weens werkdrukte bedank.
 
Vanaf Januarie [[1982]] tot Maart [[1987]] is hy professor en hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die [[Universiteit van die Witwatersrand]] in [[Johannesburg]]. Wanneer hy hierdie pos aanvaar, verkies sy vrou Althea om in die Kaap agter te bly en eindig die huwelik in ’n egskeiding. Hy trou dan in [[1984]] met Sugnèt Dekker (néé Kriel), wat saam met hom aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. Hulle onderneem in 1985 ’n reis van twee maande deur Europa. Hy is in 1987 besoekende professor aan die Katholieke Universiteit van Leuven en doen weer navorsing in [[Amsterdam]]. In April 1987 aanvaar hy ’n pos as senior navorsingspesialis by die Instituut vir Taal- en Kunstenavorsing van die [[Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing]] in [[Pretoria]]. Hierdie pos stel hom in staat om voltyds navorsing te doen. In September [[1992]] keer hy terug na Stellenbosch, waar hy voltyds navorsing doen en as vryskut werk. Om [[C.J. Langenhoven|Langenhoven]] se biografie te voltooi, reis hy wyd in die Klein Karoo om met Langenhoven se wêreld vertroud te raak en hy raak entoesiasties oor hierdie streek se unieke geskiedenis, natuurskoon en gasvrye mense. In [[1993]] neem hy ’n paar kollegas deur hierdie streek op ’n driedaagse Langenhoven-toer, waarna een van sy reisgenote, [[Wium van Zyl]], op die idee kom om hierdie ekskursie aan die groter publiek te bemark. So ontstaan samewerking tussen Kannemeyer as kundige en geestige kommentator en Van Zyl as organiseerder om die publiek op verskeie letterkundige toere op Langenhoven en ander [[Lys van Afrikaanse skrywers|Afrikaanse skrywers]] se voetspore te neem.<ref>http://www.oulitnet.co.za/mond/kannemeyer.asp</ref>
 
Hy word in [[2004]] vir drie jaar by die Universiteit van Stellenbosch aangestel as buitengewone professor in Afrikaans en Nederlands, met die taak om Dokumentasiekunde aan nagraadse studente te doseer. By verskeie geleenthede bring hy studiebesoeke aan die Universiteite van Nijmegen, Utrecht, Amsterdam en Leuven, waar hy as gasprofessor lesings aanbied oor die Afrikaanse letterkunde. Om navorsing te doen vir sy biografieë oor Blum, Leipoldt en [[Uys Krige|Krige]] besoek hy in 1992, [[1997]], [[2001]] en [[2002]] plekke soos Londen, Amsterdam, Spanje, Frankryk en [[Indonesië]], terwyl hy in [[1999]] gasdosent is aan die universiteite van Wroclaw en Poznan in [[Pole]]. Hy is vanaf 1975 lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden. In 2000 is hy vir geruime tyd buite aksie wanneer hy ’n rugoperasie en kort daarna ’n hartomleiding ondergaan. Vir die laaste tien jaar van sy lewe het hy ’n ernstige verhouding met Santa Hofmeyr-Joubert. Hy spandeer sy laaste jare in ’n woonstel in die aftree-oord Agapé op [[Stellenbosch]].<ref>http://www.stellenboschwriters.com/kannemey.html</ref>
109 485

wysigings