Anna Pavlovna Pavlova (Russies: Анна Павловна Павлова, eintlik Анна Матвеевна Павлова Anna Matvejevna Pavlova) (1881 - 1931) was 'n Russiese meesterdanseres van klassieke ballet wat in die laat 19de en vroeë 20ste eeu as een van die hoofdansers van die Sint Petersburgse Mariinskiteater se Keiserlike Russiese Ballet en Sergei Diaghilev se Ballets Russes opgetree het.

Anna Pavlovna Pavlova
Anna Pavlova
Agtergrondinligting
Gebore12 Februarie 1881
Ligowo, Sint Petersburg, Rusland
Sterf23 Januarie 1931
Den Haag, Nederland
GenresKlassieke ballet
Beroep(e)Ballerina en filantroop
Jare aktief1891 - 1931
AssosiasiesBallets Russes
Anna Pavlova se as word in die Londense Golders Green-krematorium se columbarium bewaar

Anna Pavlova is aangewys as die wêreld se beste ballerina wat veral met haar eteriese solodans Die Sterwende Swaan in Tsjaikofsi se Swanemeer internasionale bekendheid verwerf het. Met haar eie balletgeselskap was sy die eerste ballerina wat 'n wêreldtoer begin het. In 1925 het sy in die ou Kaapstadse operahuis opgetree.

In Parys, ná die Eerste Wêreldoorlog die toevlugsoord vir duisende vlugtelinge uit Rusland, is Anna Pavlova emosioneel geraak deur die lot van Russiese weeskinders wat dikwels 'n lewe op straat in die gesig gestaar het. Sy het geld, wat sy met dansoptredes verdien het, asook verdere fondse wat ingesamel is (soos donasies van die Camp Fire Girls of America wat haar tot erelid verklaar het), gebruik om 'n gebou in Saint-Cloud naby Parys aan te koop wat as weeshuis ingerig is. Vyftien Russiese meisies het hier 'n tuiste gevind. Ook hul opleiding is deur die danseres geborg.

Pavlova het haar hele lewe aan haar danspassie gewy. Optredes dwarsoor die wêreld het lang en uitputtende reise beteken. Nogtans het sy volgens oorlewering nooit een enkele geskeduleerde optrede misgeloop nie. In Desember 1930 het haar trein op pad na Nederland tegniese probleme ondervind en passasiers in die bitterkoue nag laat strand. Pavlova het verkoue gekry wat tot longontsteking en vervolgens borsvliesontsteking vererger het. Vir die eerste keer in haar lewe was sy genoodsaak om 'n dansoptrede te kanselleer. Sy is op 23 Januarie 1931 in Den Haag oorlede.[1]

Pavlova is in die Golders Green-krematorium te Londen, haar woonplek sedert 1912, veras. Daar is voorstelle gemaak om haar as na haar geboorteland te neem.

Verwysings

wysig