Bloodline (TV-reeks)

Bloodline is 'n Amerikaanse sielkundige rillerreeks vir televisie[1][2] wat deur Sony Pictures Television vervaardig is.[3] Die eerste seisoen van 13 episodes het op 20 Maart 2015 op Netflix begin[3] en die tweede reeks van 10 episodes op 27 Mei 2016.[4][5] Op 13 Julie 2016 het Netflix Bloodline vir 'n derde seisoen van 10 epiodes hernu.[6][7] Dit is op 26 Mei 2017 uitgereik.[8]

Bloodline

Kyle Chandler vertolk die rol van John Rayburn.
Genre Drama
Sielkundige riller
Geskep deur
  • Todd A. Kessler
  • Glenn Kessler
  • Daniel Zelman
Met
Temamusiekkomponis Book of Fears
Openingstema "The Water Lets You In"
Oorsprong VSA
Taal Engels
Aantal seisoene 3
Aantal episodes 33
Produksie
Uitvoerende vervaardiger(s)
  • Todd A. Kessler
  • Glenn Kessler
  • Daniel Zelman
  • Chris Mundy
  • Michael Morris
  • David Manson
  • Mark A. Baker
Vervaardiger(s) Sony Pictures Television
Venue(s) Florida Keys
Produksiemaatskappy
  • KZK Productions
  • Sony Pictures Television
Uitsending
Oorspronklike lopie Maart 20, 2015 (2015-03-20) – Mei 26, 2017 (2017-05-26)

Die eerste seisoen het baie positiewe resensies gekry, veral vir die toneelspel van Ben Mendelsohn en Kyle Chandler en vir die kinematografie. Die tweede en derde seisoen het agter gemengde resensies ontvang.

Hoofkarakters

wysig
  • Kyle Chandler is John Rayburn, die tweede oudste seun. Hy is 'n polisieman en tweede in bevel in die plaaslike sheriff se kantoor.[3][9]
  • Ben Mendelsohn is Danny Rayburn, die oudste seun en die swartskaap van die gesin.[3]
  • Linda Cardellini is Meg Rayburn, die dogter en jongste kind. Sy is 'n prokureur en die vredemaker in die gesin.[3][10]
  • Norbert Leo Butz is Kevin Rayburn, die warmbloedige jongste seun. Hy restoureer bote by die Indian Key Channel Marina.[3]
  • Jacinda Barrett is Diana Rayburn, John se vrou. Sy bedryf 'n kwekery.[3]
  • Jamie McShane is Eric O'Bannon, Danny se vriend en Chelsea se broer. Hy is op parool.[3]
  • Enrique Murciano is Marco Diaz, Meg se ekskêrel. Hy is John se vennoot by die sheriff se kantoor.[11]
  • Sam Shepard is Robert Rayburn, die patriarg.[3]
  • Sissy Spacek is Sally Rayburn, die matriarg.[3]
  • Katie Finneran is Belle Rayburn, Kevin se vervreemde vrou.[11]
  • John Leguizamo is Ozzy Delvecchio, 'n man uit Danny se verlede.[12]
  • Andrea Riseborough is Evangeline "Eve" Radosevich, die man van Nolan Rayburn, Danny se seun.[13]
  • Chloë Sevigny is Chelsea O'Bannon, Eric se jonger suster en 'n verpleegster.[14]
  • Beau Bridges is Roy Gilbert, 'n politieke ondersteuner en vennoot van John Rayburn en 'n dwelmhandelaar.

Storielyn

wysig

Bederwingswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.


Seisoen 1

wysig

Danny Rayburn keer terug huis toe in Islamorada, Florida, vir die 45ste herdenking van sy ouers, Robert en Sally Rayburn, se kusoord, Rayburn House. Danny is die swartskaap van die gesin, wat sy drie jonger sibbes insluit: John, Kevin en Meg. John is 'n polisieman in die plaaslike sheriff se kantoor, Kevin besit 'n plaaslike marina en Meg is 'n prokureur by 'n plaaslike regsfirma. Danny wil permanent terugkom om sy ouers in hulle oord te help. Robert is teensinnig om Danny te laat bly, maar laat die besluit aan sy sibbes oor.

Die sibbes besluit daarteen dat Danny bly. John vertel vir Danny, maar jok vir hom deur te sê dis hulle pa wat dit nie wil hê nie. Danny kry 'n geleentheid saam met John na die busterminus, maar klim nie op die bus nie. Hy konfronteer sy pa, en dit lei tot 'n paar beroertes en eindelik Robert se dood.

Die Rayburns se verlede is vol donker geheime, wat deur die loop van die seisoen onthul word. Danny se disfunksionele verhouding met die gesin spruit uit die voortydige dood van sy jonger suster, Sarah, toe hy 'n tiener was. Hy het Sarah op 'n boot uitgeneem en sy het verdrink toe sy haar halssnoer uit die water probeer kry nadat dit daarin geval het. Robert verloor beheer en slaan Danny wreedaardig omdat hy glo Danny was vir haar dood verantwoordelik. Sally probeer dié mishandeling toesmeer en dwing John, Kevin en Meg om vir die polisie te jok oor Danny se beserings. Hulle sê hy is deur 'n dronk bestuurder getref.

Robert se dood maak dit moontlik dat Danny permanent by die oord kan werk. Dit lyk of hy 'n nuwe blaadjie omgeslaan het danksy harde werk, en hy beland in Sally se goeie boekies. Sy donker verlede word egter onthul weens sy verbintenis met sy skoolvriend en plaaslike moeilikheidmaker, Eric O'Bannon. Die twee begin petrol smokkel vir die mensehandelaar Wayne Lowry. Hulle kry al hoe groter take om te voltooi en Danny gebruik eindelik sy werk by Rayburn House as 'n front om kokaïen vir Lowry te smokkel.

John en die sheriff se kantoor werk saam met die dwelmeenheid (DEA) in 'n ondersoek na die dood van onbekende vroue en dwelmsmokkelary deur Lowry en sy manne. Dit lei John direk na Danny en sy onlangse bedrywighede. John vind uit daar is dwelms in 'n tuinhuisie by die oord en die drie sibbes John, Kevin en Meg besluit die enigste manier om om nie die gesin se oord in gevaar te stel nie, is om die dwelms stilletjies na Danny se kondominium in Miami te skuif sonder om vir Danny daarvan te vertel. Lowry glo Danny het die dwelms gesteel en hy stuur 'n huurmoordenaar om Danny te vermoor, maar in plaas daarvan vermoor Danny die huurmoordenaar.

Onder druk begin Danny onsamehangend optree. Hy probeer John intimideer deur sy dogter, Jane, op 'n boot uit te neem en hy gee haar 'n seeperdhalssnoer, soortgelyk aan die een wat aan hulle oorlede suster behoort het. John beskou dit as 'n dreigement teen sy gesin en tydens 'n konfrontasie verdrink hy Danny in die see. John kry 'n hartaanval en vra Meg se hulp. Sy en Kevin besluit om die moord toe te smeer deur Danny se liggaam te skuif. John steek eindelik 'n boot aan die brand om te maak of Danny in die boot dood is. Ontevrede met wat aan haar vertel word, wend Sally haar tot 'n ou vriend, die afgetrede speurder Lenny Potts, om die saak privaat te ondersoek. Ná Danny se dood verhuis Meg na New York om vir 'n groot firma te werk. Kevin herenig met sy vervreemde vrou, Belle, wat nou hulle kind verwag. Die seisoen eindig met die aankoms van Danny se seun, Nolan, by John se huis om uit te vind wat met sy pa gebeur het.

Seisoen 2

wysig

Danny se dood spook voortdurend by die Rayburn-gesin. Wayne Lowry konfronteer John en beweer hy het 'n kasset wat Danny opgeneem het wat gebruik kan word om John af te pers. John se vennnoot, Marco Diaz, hou aan om mense in verband met Danny se dood te ondervra. insluitende Eric O'Bannon. Meg keer van New York af terug, John stel hom verkiesbaar as sheriff en Kevin probeer om sy kwynende besigheid te red. Nolan en sy ma, Eve, kom by Rayburn House aan en ontmoet Sally om Danny te bespreek. Deur Nolan en Eve vind die Rayburns baie oor Danny se verlede uit, soos dat hy by Robert wou geld leen vir sy restaurant. Robert het hom egter laat kies tussen die leen van die geld en die stuur van geld aan Eve om Nolan te onderhou. Ozzy, 'n ou vriend van Danny in Miami, het by Eve betrokke geraak en werk saam met haar om te reël dat geld weer aan haar gestuur word nadat Meg dit ná haar pa se dood gekanselleer het.

John probeer die kasset by Lowry kry deur vir hom te sê hy moet homself aan die DEA oorgee, maar Lowry wys dit van die hand en gee vir Kevin van die dwelms wat Danny gehad het. Lowry word vermoor deur die pa van 'n slagoffer van mensehandel. Terwyl John as sheriff verkiesbaar is, kom Marco nadar aan die oplossing van Danny se dood. Eric O'Bannon sê vir Marco hy het bewyse dat John Danny vermoor het. Kevin gaan sien Marco om vir hom te sê John het Danny vermoor; Marco sê vir hom hy, John en Meg gaan almal tronk toe. In die rusie wat volg, slaan Kevin Marco dood.

Seisoen 3

wysig

Ná Marco se moord vra Kevin Roy Gilbert se hulp om die moord toe te smeer. Gilbert maak die plan om O'Bannon valslik vir die moord te laat aankla, maar Kevin sterf byna in die proses. Die dreigende hofsaak veroorsaak verdere spanning tussen die Rayburns; Meg verdwyn, Kevin raak verder by Gilbert betrokke en John word gery deur skuldgevoelens oor Danny se dood. Meg gaan in Los Angeles wegkruip. Sally onthul die waarheid oor die Rayburns se geheime.

O'Bannon verloor sy saak en gaan tronk toe. Kevin word in hegtenis geneem oor sy dwelmsmokkelary vir Gilbert. Sally erken Danny was haar gunsteling en dat sy Kevin en John haat. John weet nie of hy Nolan die waarheid oor Danny moet vertel nie; die reeks eindig net toe hulle gesprek sou begin.

Verwysings

wysig
  1. Petski, Denise (9 Februarie 2015). "Bloodline trailer: Kyle Chandler-led drama premieres March 20 on Netflix". Deadline.com. Besoek op 11 Maart 2015.
  2. Welch, Chris (23 Oktober 2014). "Netflix series 'Bloodline' starring Kyle Chandler will premiere in March". The Verge. Besoek op 23 Oktober 2014.
  3. 3,00 3,01 3,02 3,03 3,04 3,05 3,06 3,07 3,08 3,09 Spangler, Todd (23 Oktober 2014). "Netflix Sets Premiere for Original Drama 'Bloodline' from 'Damages' Creators". [Variety. Besoek op 23 Oktober 2014.
  4. Andreeva, Nellie (31 Maart 2015). "'Bloodline' Renewed For Second Season By Netflix". Deadline.com. Besoek op 31 Maart 2015.
  5. Rich, Katey (21 Maart 2016). "First Look at Bloodline Season 2". Vanity Fair. Besoek op 21 Maart 2016.
  6. Ausiello, Michael (13 Julie 2016). "Bloodline Renewed for Season 3". TVLine. Besoek op 13 Julie 2016.
  7. Prudom, Laura (14 September 2016). "'Bloodline' Ending After Season 3 on Netflix". Variety. Besoek op 14 September 2016.
  8. Otterson, Joe (17 April 2017). "'Bloodline' Season 3 Premiere Date, First Trailer Released". Variety. Besoek op 17 April 2017.
  9. Travers, Ben (3 Maart 2015). "Review: 'Bloodline' Offers Stacked Cast & Netflix Pedigree, But Lacks Heart in the Darkness". Indiewire. Besoek op 2 April 2015.
  10. Kabango, Shad (Host) (25 Maart 2015). "AsapSCIENCE founders, rising songwriter Tobias Jesso Jr., actress Linda Cardellini". WNYC. Besoek op 26 Maart 2015.
  11. 11,0 11,1 "Video: Netflix Releases Trailer and Key Art for New Family Thriller, "Bloodline"". The Futon Critic. 9 Februarie 2015. Besoek op 11 Maart 2015.
  12. Ausiello, Michael (20 Augustus 2015). "Bloodline Season 2: John Leguizamo Nabs 'Violent' Series-Regular Role". TVLine. Besoek op 20 Augustus 2015.
  13. Ausiello, Michael (3 September 2015). "Bloodline Season 2: Birdman Actress Joins Cast as New Series Regular". TVLine. Besoek op 3 September 2015.
  14. Rife, Katie (21 Mei 2014). "Chloe Sevigny and Steven Pasquale join Netflix drama with Kyle Chandler". The A.V. Club. Besoek op 6 Januarie 2015.

Skakels

wysig