Fourie Botha
Fourie Botha is ’n uitgewer en Afrikaanse digter.
Lewe en werk
wysigFourie Botha word groot in Bethal op die Hoëveld en op Nietverdiend in die Marico-Bosveld duskant Gaborone. Aan die Universiteit van Pretoria studeer hy Uitgewerswese en Engels en gee vir ’n paar jaar opvoedkundige boeke uit. In 2008 voltooi hy ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en skryf daarna by die Universiteit van Kaapstad in vir ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk onder Joan Hambidge. In 2008 sluit hy as redakteur van die Umuzi-drukmerk by die uitgewershuis Penguin Random House in Kaapstad aan. Tans is hy die uitgewer van plaaslike fiksie vir Penguin Random House. Hy woon in Kaapstad.
Skryfwerk
wysigSy gedigte word opgeneem in die versamelbundel “Nuwe stemme 4”, waarna hy debuteer met die digbundel “Donkerkamer”.[1] Die gedigte in hierdie bundel is tegnies goed versorg en afgerond.[2] Die titel van die bundel verwys na die plek waar foto’s en afdrukke (indrukke) ontwikkel word, maar betrek ook die donker kamer wat in gay klubs aangetref word en die homoseksuele seksualiteit beklemtoon.[3] Die gay-subkultuur oorheers dan ook die bundel, waarbinne drie afdelings (“Bedgebied”, “Skoot” en “Roberts Birds”), verse gebundel word oor onder andere die homo-erotiek,[4] beroemde kunswerke en kunstenaars met homo-erotiese verbintenisse, en die jeugervarings. Die gedigte sluit aan by veral die werk van Johann de Lange, wat dan ook in sommige van die gedigte intertekstueel betrek word. Interessant is die gebruik van illustrasies en gedigte daarby, waar beeld en gedig nie langs mekaar nie maar op verskillende bladsye afgedruk word en die leser sodoende dwing om met noukeuriger aandag die verbande tussen beeld en gedig te probeer identifiseer. “Ombalantu” is so ’n beeldgedig, gebaseer op ’n foto van twee soldate wat skynbaar ongestoord kyk na ’n verkoolde lyk op ’n draagbaar.[5]Die spreker is eroties aangetrokke tot die soldate, waardeur die teenwoordigheid van die lyk ook skending en geweld uitbeeld en so hierdie eienskappe by die erotiek betrek. “Donkerkamer” is in 2013 op die kortlys vir die toekenning van die Ingrid Jonkerprys. In 2017 verskyn 'n tweede bundel, Krap uit die see.
Publikasies
wysigJaar | Publikasies |
---|---|
2011 | Donkerkamer |
2017 | Krap uit die see |
Bronnelys
wysigTydskrifte en koerante
wysig- Rautenbach, Elmari “As jy pa staan vir boeke” “Beeld” 20 November 2015
Internet
wysig- LinkedIn: https://za.linkedin.com/in/fourie-botha-09675013[dooie skakel]
- NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/8022 Geargiveer 17 Augustus 2016 op Wayback Machine
- Versindaba: http://versindaba.co.za/tag/fourie-botha/ Geargiveer 10 November 2016 op Wayback Machine
Resensie
wysig- ↑ Cochrane, Neil “Rapport” 2 Oktober 2011
- ↑ Crous, Marius “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 49 no. 2 Lente 2012: http://www.letterkunde.up.ac.za/resensies/49_2/18%20Resensie%20Crous%20WEB%2001.pdf Geargiveer 13 Mei 2020 op Wayback Machine
- ↑ Naudé, Charl-Pierre “Beeld” 8 Augustus 2011
- ↑ Visagie, Andries Slipnet: http://slipnet.co.za/view/reviews/fourie-botha-se-pragdebuut/; Nuwe stemme 4
- ↑ Cochrane, Neil “Beeld” 14 Junie 2010