Frans Coetzee
Frans Coetzee is ’n Afrikaanse joernalis en skrywer.
Lewe en werk
wysigFrans Coetzee is ’n joernalis verbonde aan Die Volksblad, waar hy later aangestel word as nuusredakteur en redakteur vir die Noord-Kaap-Kontrei. Na aftrede bly hy op Hartenbos, waar hy sy tyd verwyl deur wetenskapfiksie te skryf.
Skryfwerk
wysigHy skryf ’n soort rillerversameling kortverhale wat hy in 1985 bundel onder die naam “Vir onskuldiges[1]”. In hierdie verhale verbind hy telkens die alledaagse met die magiese in verwantskap met ’n skrywer soos Roald Dahl.[2] Onskuldiges in alle betekenisse van die woord word ondersoek, terwyl die bisarre deurgaans met die reële vermeng word en die verhale dan gelyktydig op twee vlakke beweeg.[3] Een van die hoogtepunte in die boek is “Skaakmat”, waar die seksuele fiksasie van die ek-verteller uitgebeeld word, net om totaal onkundig (onskuldig) blyk te wees wanneer die seksuele verhouding tussen twee vroue openbaar word. “Rikus en die dinge met die Dukse[4]” is ’n ruimteverhaal vir die jeug. Rikus is op soek na sy pa wat op een of ander planeet moet wees en word gedwing om ’n noodlanding op Duksa te maak.[5] Hier ontmoet hy drie bevolkingsgroepe wat onverdraagsaam totaal apart woon. Hulle is die Deduksiane wat hardwerkend is maar nooit iets voltooi nie, Reduksiane wat meer wetenskaplik werk en Aduksiane wat net lees. Om sy ruimtetuig herstel te kry, roep Rikus die hulp van al drie groepe in, wat sodoende met mekaar versoen raak.
Publikasies
wysigJaar | Publikasies |
---|---|
1985 | Vir onskuldiges |
1986 | Rikus en die dinge met die Dukse |
Bronnelys
wysigBoeke
wysig- Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
- Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel I” J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
Internet
wysig- Coetzee, Frans Volksblad: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2014/04/09/3/ktkonfrans_23_0_42077474.html
- Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Coetzee,_Frans