Gloster Javelin
Die Gloster Javelin is 'n Britse tweemotorige straalaangedrewe deltavlerkvegvliegtuig. Dit is die eerste Britse vliegtuig wat as alleweerstoestand- en nagvegter ontwerp is. Die ontwerp van die vliegtuig het in 1948 begin en die prototipe het sy nooiensvlug op 26 November 1948 voltooi. Na kompeterende toetse met die de Havilland 110 (wat later die de Havilland Sea Vixen word) in Julie 1952 besluit die Britse Lugdepartement om eerder met die Javelin voort te gaan om al hulle alleweersvegvliegtuigeskaders daarmee toe te rus. Nadat drie prototipes in ongelukke verlore gegaan het, het produksie eers in 1954 aan die gang gekom.
Gloster Javelin | |
---|---|
Tipe | Vegvliegtuig |
Vervaardiger | Gloster Aircraft Company |
Nooiensvlug | 26 November 1948 |
Bekendstelling | 29 Februarie 1956 |
Onttrek | April 1968 |
Status | Onttrek |
Hoofgebruiker | Britse Lugmag |
Aantal gebou | 436 |
Ontwerp
wysigDie Javelin was ontwerp met hoë werkverrigting en 'n lang togafstand sodat dit Sowjetunie bomwerpers, wat teen hoë snelhede en hoogtes vlieg, kon onderskep. Dit het op daardie stadium oor die beste radar beskikbaar beskik en was toegerus met die beste elektronika en kon in dag of nag in alle weerstoestande vlieg. Die Javelin se deltavlerke het verseker dat dit goeie vermoëns het teen hoë hoogtes. Die stertvlerke was ook in deltaformaat en bo-aan die stertvin geheg. Dit het verseker dat die vliegtuig se landingshoek binne veiligheidsperke kon bly vir dag/naglandings in alle weerstoestande.
Die Mk 1 model is in 1956 in die Britse Lugmag in diens gestel, dit was die eerste van 427 en daar was altesaam nege verskillende modelle. Mk 2 is in Augustus 1957 in diens gestel met verbeterde motors (3770 kg stukrag teen 3702 kg) en verbeterde Westinghouse-radar. Daarna was die T.3 opleidingmodel in diens gestel; dit het nie oor radar beskik nie maar was wel toegerus met 30 mm kanonne.
Daar was 50 eenhede van model Mk 4 gebou. Die vliegtuig was as vlieëniervriendelik beskou en die hele stertvlerk kon beweeg. Die Mk 6 was toegerus met interne brandstoftenks wat 1 137 liter kon bevat. Die Mk 6 was slegs 'n Mk 5 toegerus met 'n Amerikaanse radar.
Die Javelin FAW.7 (FAW: Fighter All Weather) was 'n totale herontwerp en daar is die meeste van dié model gebou, naamlik 142. Dit het oor kragtiger 4 996 kg stukrag Sapphire 203 motors beskik en was ook toegerus met vier Firestreak infrarooigeleide lug-tot-lug missiele in stede van die twee 30 mm kanonne. Hierdie model is in Julie 1958 in diens gestel.
Die Mk 8 is toegerus met nabranders wat die stukrag tot 6 082 kg verhoog het. Mk 9 was die finale model, dit was 'n opgradering van Mk 7's na Mk 8 en toegerus met 'n invlugbrandstofhervulpyp. Vier eskaders het die voordeel van die invlughervulfasiliteit bevestig toe dit ononderbroke tot in Singapoer gevlieg het in 1960. FAW 9's is in Desember 1959 afgelewer aan 25 Eskader te Waterbeach.
Die Javelin was die laaste produk wat gebou was deur Gloster, die maatskappy het hierna saamgesmelt met Hawker-Siddeley. Die laaste Javelin is eers in Junie 1967 uit diens onttrek. Die gebruik van die vliegtuig het sy hoogtepunt bereik toe 14 eskaders van die Britse Lugmag met die vliegtuig toegerus was.
Tegniese besonderhede
wysigItem | Statistiek |
---|---|
Aantal motore | 2 |
Tipe motor | Straler |
Vervaardiger | Armstrong Siddeley Sapphire ASSa.6 turbostraler |
Kraglewering per motor | 3 629 kg stukrag |
Vlerkspan | 15,85 m |
Lengte | 17,15 m |
Hoogte | 4,88 m |
Vlerkoppervlakte | 86,12 m2 |
Maks. opstygmassa | 14 324 kg |
Maks. snelheid | 1 141 km/h |
Operasionele hoogte | 16 000 m |
Togafstand | 1 530 km met weggooibare tenks |
Klimvermoë | 15 250 m in 9,25 minute |
Bewapening | Twee 30 mm kanonne in elke vlerk |
Sien ook
wysigBron
wysig- Crosby, Francis: THE WORLD ENCYCLOPEDIA OF FIGHTERS & BOMBERS. 2015. ISBN 978-1-84476-917-9