Japie Coetzee
Japie Coetzee is ’n skrywer van Afrikaanse jeugverhale.
Lewe en werk
wysigJacob Carel Coetzee is op 12 Junie 1931 in Krugersdorp gebore. In 1948 matrikuleer hy aan Dealesville Hoërskool en studeer dan verder aan die Universiteit van Stellenbosch. Hier bekwaam hy hom as onderwyser en behaal die B.A.-graad in 1951, die Sekondêre Onderwysdiploma in 1952 en die M.Ed.-graad in 1953 met ’n verhandeling oor “John Dewey se beskouing oor vryheid en dissipline in die opvoeding”. Met deeltydse studie verwerf hy die D.Ed.-graad in 1980 met ’n proefskrif oor “Die didaktiese moontlikhede van die skool se jeugweerbaarheidsprogram, met besondere verwysing na kurrikulumbeplanning en onderwyseropleiding”. Hy is hoof van die Greyton Sekondêre Skool vanaf 1964 tot 1969, Bonnievale Hoërskool vanaf 1970 tot 1972, die Hugenote Hoërskool in Wellington vanaf 1972 tot 1975 en word dan rektor van Paul Roos Gimnasium vanaf 1975 tot 1977. In 1978 sluit hy hom as senior lektor in Didaktiek aan by die Onderwysfakulteit van die Universiteit van Stellenbosch. Hy is getroud met Rina en hulle het vyf kinders, Japie, René, Anet, Ernst en Johan.
Skryfwerk
wysig“Bakens na Brandberg” is ’n boek oor ’n reis deur die Noordweste tot in Namibië. Ander kinder- en jeugverhale uit sy pen is “Noldus”, “Die wit swaan”, “Vlugteling André de la Fontaine” en “Onheil vir die Meermin”. Sy kortverhaal “Matie” word deur Abraham H. de Vries in die versamelbundel “Steekbaard” opgeneem.
Hy skryf veral ’n groot aantal taal, godsdienstige en selfhelp-boeke. Hulp met die taal verskyn in boeke soos “Tweetalige hulp”, “Kom ons praat en skryf korrek” en “Ons algemeenste Engelse taalfoute”. Godsdienstige boeke sluit in “Ankers vir die dienspligtige”, “Twee en vyftig waarhede” (dagstukke) en “Fokus op die lewe” (godsdienstige vraagstukke), terwyl hy in die boek “Ek en die Bybel – Op soek na die waarheid” sy geloofstwyfel op skrif stel.
Publikasies
wysigJaar | Publikasies |
---|---|
Fiksie | |
1962 | Noldus |
1963 | Die wit swaan |
1969 | Bakens na Brandberg |
1989 | Vlugteling André de la Fontaine |
1992 | Onheil vir die Meermin |
Nie-fiksie | |
1960 | Tweetalige hulpboek (saam met J.G. Kock) |
1961 | Kom ons praat en skryf korrek |
1965 | Ons algemeenste Engelse taalfoute |
1979 | Jeugweerbaarheid |
1982 | Wenke vir lesse in jeugweerbaarheid |
1984 | Om mens te word |
1985 | Ankers vir die dienspligtige |
1986 | Jeugweerbaarheid en gesinsvoorligting |
1987 | Twee en vyftig waarhede |
1988 | Kom ons gesels eers |
1990 | Fokus op die lewe |
Manlief, verstaan my tog | |
1991 | Ek en ander |
1992 | Raar maar waar |
O gaats Dominee! | |
Ek en ek, selfbeeld van tiener | |
1993 | Ou seun, weet jy wat ’n man is? |
1995 | Askies, meneer die Speaker |
1997 | Broeders en susters |
1998 | Die kuns van getroud wees |
1999 | Gee my krag |
2001 | Hoe om met ander mense klaar te kom |
2002 | Juweelverhale uit die Ou Kaap |
2004 | Juweelverhale 1800–1900 |
Ek en die Bybel – op soek na die waarheid | |
2007 | Aangrypende verhale van gister |
2009 | Gister se stories vir vandag |
Boeiende ervarings |
Bronnelys
wysigBoeke
wysig- Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2” Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
Tydskrifte en koerante
wysig- De Villiers, Johannes “Hulle sê: ‘So sê die Here…’” “Die Burger” 26 Junie 2004
Internet
wysig- Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Coetzee,_Japie
- OCLC Classify: http://classify.oclc.org/classify2/ClassifyDemo?search-author-txt=%22Coetzee%2C+Japie%22&startRec=0&orderBy=hyr+asc
- Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/coetzeej.html
- Worldcat: http://www.worldcat.org/search?q=au%3ACOETZEE%2C+Jacob+Carel.&qt=hot_author