Köpenick
Köpenick is 'n stadsdeel in die administratiewe distrik Treptow-Köpenick in die suid-ooste van Berlyn by die samevloeiing van die Spree- en Dahme-riviere, met 'n bevolking van sowat 60 000.
Köpenick | |
---|---|
Stadsdeel | |
Die Salvador Allende-woonbuurt | |
Ligging in Berlyn | |
Koördinate: 52°26′45″N 13°34′38″O / 52.44583°N 13.57722°O | |
Land | Duitsland |
Deelstaat | Berlyn |
Distrik | Treptow-Köpenick |
Eerste verwysing | 1210 |
Oppervlak | |
• Totaal | 34,9 km2 (13,5 vk. myl) |
Hoogte | 35 m (115 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 60 152 |
• Digtheid | 1 723/km2 (4 460/vk. myl) |
Tydsone | UTC+1:00 (MET) |
• Somertyd | UTC+2:00 (MEST) |
Poskode | 12459, 12555, 12557, 12559, 12587 |
Skakelkodes | 030 |
In teenstelling met die meeste ander van die altesaam 95 Berlynse stadsdele, wat uit voormalige dorpe of woonbuurte ontstaan het wat eers ná die nywerheidsomwenteling aangelê is, is Köpenick naas Spandau in die uiterste weste van Berlyn die enigste stadsdeel wat reeds in die Middeleeue as nedersetting met stadstatus bestaan het. Köpenick beskik net soos Spandau oor 'n historiese middestad, wat grotendeels bewaar gebly het, en sy eie voorstede.
Köpenick is op 1 Oktober 1920 ingevolge die bepalings van die Wet oor Groot-Berlyn by Berlyn ingesluit. Tot met die administratiewe hervorming van 1 Januarie 2001 het Köpenick as selfstandige administratiewe distrik bestaan (en was tot 1990 een van die stadsdistrikte van Oos-Berlyn). Naas die stadsdeel Köpenick maak ook ander stadsdele deel uit van die groter distrik Köpenick. Die huidige stadsdeel Köpenick behels alle woonbuurte van die voormalige stad Köpenick en beslaan vanweë sy uitgestrekte bosgebiede 'n oppervlakte van byna 35 km². Dit is sodoende die grootste stadsdeel van Berlyn.