Kansas City Royals

Amerikaanse professionele bofbalspan wat in Kansas City, Missouri gebaseer is

Die Kansas City Royals is 'n Amerikaanse professionele bofbalspan wat in Kansas City, Missouri gebaseer is. Die Royals ding mee in Hoofligabofbal (MLB) as 'n lid van die Amerikaanse Liga (AL) se Sentrale Divisie (AL-Sentraal). Die span is in 1969 gestig as 'n uitbreidingsfranchise, en het reeds vier keer aan die Wêreldreeks deelgeneem en in 1985 en 2015 getriomfeer; in 1980 en 2014 was die klub aan die verloorkant. Buiten 'n oorheersende tydperk van 10 jaar tussen 1976 en 1985, en 'n kort, hoewel dominante, herlewing van 2013 tot 2015, is die Royals se wenpersentasie onder die tien swakstes in MLB.

Die span se uniformlogo
Die span se kenteken op hul pette
Kauffmann-stadion, die Royals se tuisveld

Die naam "Royals" huldig die "American Royal", 'n veeskou, perdeskou, rodeo en kampioenskapsbraaikompetisie wat sedert 1899 jaarliks in Kansas City gehou word,[1][2] sowel as twee voormalige gelyknamige Negro league bofbalspanne wat tydens die eerste helfte van die 20ste eeu gespeel het (een span was 'n semi-professionele span gebaseer in Kansas City in die 1910's en 1920's, wat in die "Midwest" van die VSA getoer het,[3] en die ander span was 'n California Winter League-span wat in die 1940's in Los Angeles gebaseer was en bestuur is deur Chet Brewer, met spelers soos Satchel Paige en Jackie Robinson).[4][5][6][7] Die Los Angeles-span het personeelverbindings met die Kansas City Monarchs gehad, maar kon nie die Monarchs se naam gebruik nie. Die Royals bofbalspan se naam pas ook in by die temas van ander professionele sportfranchises in die stad, soos die Kansas City Chiefs van die National Football League, die voormalige Kansas City Kings van die National Basketball Association, en die voormalige Kansas City Monarchs van die Negro National League.

In 1968 het die span 'n kompetisie gehou om 'n nuwe naam te bepaal en meer as 17 000 inskrywings ontvang. Sanford Porte, 'n brugingenieur van die voorstad Overland Park, Kansas, is aangewys as die wenner vir sy "Royals"-inskrywing. Sy rede het niks met koninklikes te doen gehad nie. "Kansas City se nuwe bofbalspan moet die Royals genoem word vanweë Missouri se miljard-dollar-vee-inkomste, Kansas City se posisie as die land se voorste vee- en voermark en die Amerikaanse Royal-parade en skouspel wat oor die hele land bekend was," het Porte geskryf. Die span se direksie het 6–1 oor die naam gestem, met die enigste teenkanting van spaneienaar Ewing Kauffman, wat uiteindelik sy stem verander het en gesê het dat hy uiteindelik byval daarby gevind het.[1][8]

Die klub het in 1969 saam met die Seattle Pilots die Amerikaanse Liga betree, en is gestig deur Ewing Kauffman, 'n sakeman uit Kansas. Die franchise is gestig na aanleiding van die optrede van Stuart Symington, destydse VSA Senator uit Missouri, wat geëis het dat die stad 'n nuwe franchise moet kry, nadat die Oakland Athletics (Kansas City se vorige groot ligaspan wat van 1955 tot 1967 gespeel het) in 1968 na Oakland, Kalifornië verskuif het. Die Royals speel al sedert 10 April 1973 by die Kauffman-stadion, voorheen bekend as Royals-stadion.

Die nuwe span het spoedig een van die mees gevreesde spanne geword, en het van 1976 tot 1985 nie minder nie as sewe keer in die uitspeelrondtes verskyn en een Wêreldreeks en nog 'n AL-wimpel gewen, gelei deur sterre soos Amos Otis, Hal McRae, John Mayberry, George Brett, Frank White, Willie Wilson en Bret Saberhagen. Die span het deur die vroeë 1990's mededingend gebly, maar het toe slegs een wenseisoen van 1995 tot 2012 gehad. Vir 28 opeenvolgende seisoene (1986–2013) het die Royals nie gekwalifiseer om in die MLB-naseisoen te speel nie: een van die langste naseisoense droogtes in bofbal se huidige wildcard-era. Die span het hierdie toedrag van sake in 2014 beëindig deur die franchise se eerste wildcard-plek te verseker en deur te dring na die 2014 Wêreldreeks, waar hulle teen die San Francisco Giants in sewe wedstryde verloor het. Die Royals, onder leiding van spelers soos Salvador Perez, Alex Gordon, Johnny Cueto, Danny Duffy, Eric Hosmer, Mike Moustakas, Lorenzo Cain en 'n elite-groep bullpen-boulers, het dit opgevolg deur die span se eerste titel in die Amerikaanse Liga se Sentrale Divisie in 2015 te wen. Die Royals het die New York Mets in vyf wedstryde gedurende die 2015 Wêreldreeks verslaan om hul tweede Wêreldreekskampioenskap te wen.

Met ingang 2023 beskik die Royals oor 'n algehele wen-verloor-gelykop rekord van 4,122-4,547-2 ('n wenpersentasie van .475).[9] Met die aanvang van die 2023-seisoen is die span gewaardeer op VSA$1,2 miljard, wat hulle 27ste plaas uit MLB se 30 spanne.[10] Die sakeman John Sherman besit sedert 2019 'n meerderheidsaandeel in die span, met verskeie ander sake-eienaars en entrepeneurs uit Kansas City wat minderheidsaandele besit.

Verwysings

wysig
  1. 1,0 1,1 Flanagan, Jeffrey (1 Desember 2021). "How they came to be called the Royals". MLB.com. MLB Advanced Media. Besoek op 29 Julie 2024.
  2. Chase, Chris (17 Oktober 2014). "The Kansas City Royals are named for cows, not kings and queens". USA Today. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2020. Besoek op 29 September 2020.
  3. "Kansas City Royals 1924". Newspapers.com. 7 Junie 1924. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2018. Besoek op 4 November 2018.
  4. "Kansas City Royals 1947". Newspapers.com. 20 Oktober 1947. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 November 2018. Besoek op 4 November 2018.
  5. "StackPath" (PDF). Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 27 Maart 2016.
  6. Nelson, Curt. "Jackie Robinson: Kansas City Royal?". Royals.com. MLB Advanced Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2020. Besoek op 29 September 2020.
  7. "7 Jun 1924, Page 5 – The Chillicothe Constitution-Tribune at". Newspapers.com. 7 Junie 1924. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2018. Besoek op 4 November 2018.
  8. Chase, Chase (17 Oktober 2014). "The Kansas City Royals are named for cows, not kings and queens". USA Today. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2020. Besoek op 6 Desember 2020.
  9. "Kansas City Royals Team History & Encyclopedia". Baseball-Reference.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Oktober 2023. Besoek op 25 Oktober 2023.
  10. Ozanian, Mike; Teitelbaum, Justin (23 Maart 2023). "Baseball's Most Valuable Teams 2023: Price Tags Are Up 12% Despite Regional TV Woes". Forbes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Maart 2023. Besoek op 28 Maart 2023.

Eksterne skakels

wysig