Laterale denke
Laterale denke is 'n manier van dink wat deur Edward De Bono verwoord is. Die tegniek is gebore uit sy teorie rondom die werking van die mens se brein en selforganiserende stelsels. Volgens hierdie teorie werk 'n mens se brein baie soos 'n landskap met 'n rivier wat daaroor vloei. Patrone raak gevestig (net soos 'n rivier se loop) en hoewel dit 'n mens se brein in staat stel om blitsvinnig te reageer op patrone wat reeds gevestig is (oorweeg as voorbeeld al die besluite wat 'n tennisspeler binne 'n fraksie van 'n sekonde moet neem), is dit geneig om 'n mens te kortwiek in die ontwikkeling van nuwe idees. Sy tegnieke is daarop gemik om hierdie spreekwoordelike rivier te forseer om sy normale loop te verlaat en oor nuwe terreine te laat beweeg. Om dit te bewerkstellig gebruik hy tegnieke wat daarop gemik is om provokasie tot die normale gedagtevloei in te voer. Sy tegnieke fokus sterk op die menslike persepsie (wat basies maar die gevestigde denkpatroon is wat deur die jare aangeleer is).
Agtergrond
wysig'n Voorbeeld van sy tegnieke om 'n mens te forseer om probleme indirek en vanuit verskeie hoeke te beskou, is:
- Dit neem twee ure vir twee mans om 'n gat vyf voet diep te grou. Hoe diep sou dit wees as tien mans die gat vir twee ure lank gegrou het?
Simplisties gesproke is die antwoord oënskynlik 25 voet diep. Dié antwoord is gebaseer op 'n paar (moontlik) verkeerde aannames:
- Die gat moet so diep as moontlik wees, eerder as langer of wyer soos in die geval van 'n sloot.
- Tien mans het net soveel ruimte om rond te beweeg om te grawe (sonder om in mekaar se pad te kom) as wat twee mans het.
- Elkeen van die tien mans sal net so hard werk as wat die twee mans gewerk het, terwyl 'n mens tipies vind dat hoe meer mense daar is, hoe meer van hulle sal aanneem dat hulle stadiger kan werk, en daar is natuurlik meer mense om mee te gesels ook.
Die korrekte antwoord—wat dit ook al mag wees—druis in teen die standaard wiskundige opleiding. Die wiskundige antwoord is dus nie noodwendig verkeerd nie, maar die punt is dat die standaard wiskundige opleidingstegnieke 'n mens nie altyd leer hoe om wiskunde in die werklike wêreld goed toe te pas nie. Laterale denke laat 'n mens toe om die beste antwoord te ontdek deur meer faktore in ag te neem: die persepsies wat in woorde opgesluit lê, word ontleed en 'n mens word dus doelbewus toegelaat om vanaf die gevestigde denkpatrone te ontsnap.
Daar bestaan die wanopvatting dat laterale denke slegs te doen het met die vrymaak van 'n mens se inhibisies en om 'n mens se kindergees toe te laat om met dikwels absurde idees vorendag te kom. Die tegnieke het egter 'n rasionele grondslag en die absurde idees is maar net een van die metodes waarop provokasie geskep word. 'n Mens kan byvoorbeeld met die idee vorendag kom om die stuurkajuit onder aan die vliegtuig te monteer in plaas van voor in die vliegtuig. Die idee op sigself het dalk weinig waarde, maar die sielkundige tegniek behels dat 'n mens in 'n mens se verbeelding inlewe in so 'n tipe vliegtuig en die voordele daarvan raaksien (soos dat die vlieënier 'n uitstekende uitsig op die landingstrook gaan hê as hy of sy land). So kan daar dus ontsnap word vanaf die geykte denkpatrone en nuwe idees rondom stuurkajuitontwerp gewerk word wat die loods 'n beter uitsig sal gee op die aanloopbaan (soos met Concorde se geboë neus).
Voorbeelde
wysigHier is 'n paar probleme om te illustreer hoe 'n goeie antwoord tot 'n probleem 'n mens kan ontwyk as gevolg van 'n mens se persepsie van die probleem.
- Hoe lank vat dit om 'n halwe gat te grou?
- 'n Mens kan nie 'n halwe gat grou nie.
- As een eier drie minute neem om gaar te kook, hoe lank vat twee eiers om gaar te word?
- Ongeveer drie minute (die energie benodig om die eiers gaar te maak is klein in vergelyking met die energie wat benodig word om die omliggende water te laat kook)
- Of: ongeveer 10 minute as jy op 'n berg sit (daar is die kookpunt van water laer)
- As 'n knoop in 'n 5-voetlange tou 5-minute neem om los te kry, hoe lank gaan dit neem om 'n knoop in 'n 10-voetlange tou los te maak?
- Ook 5 minute (die lengte van die tou het gewoonlik niks met die ingewikkeldheid van die knoop te make nie).
Tegnieke
wysigVan die formele tegnieke wat gebruik word in laterale denke is:
Sien ook
wysigVerdere leeswerk
wysig- Edward De Bono, Lateral Thinking : Creativity Step by Step, Harper & Row, 1973, sagteband, 300 bladsye, ISBN 0060903252
- Edward De Bono, Serious Creativity : Using the Power of Lateral Thinking to Create New Ideas, HarperCollins Publishers, 1992, sagteband, 338 bladsye, ISBN 0-00-637958-3