Marcel Duchamp
Marcel Duchamp [maʁ'sɛl dy'ʃɑ̃] (volle naam: Henri Robert Marcel Duchamp, * 28 Julie 1887; † 2 Oktober 1968) was 'n Frans-Amerikaanse skilder, beeldende kunstenaar, skaakspeler, en skrywer. Duchamp was een van die grondleggers van moderne konseptuele kuns (konsepkuns) en word ook as 'n wegbereider van kubisme, dadaïsme en surrealisme beskou. Die kunsprys Prix Marcel Duchamp is na hom vernoem.
Marcel Duchamp | |
---|---|
Marcel Duchamp, ca. 1927 | |
Gebore | Henri Robert Marcel Duchamp 28 Julie 1887 Blainville-Crevon, Frankryk |
Sterf | 2 Oktober 1968 (op 81) Neuilly-sur-Seine, Frankryk |
Nasionaliteit | Frankryk Verenigde State (vanaf 1955) |
Beroep | skilder en skrywer |
Bekend vir | Nude Descending a Staircase, No. 2 (1912) Fountain (1917) The Bride Stripped Bare By Her Bachelors, Even (1915–23) Étant donnés (1946–66) |
Ouer(s) | Eugene en Lucie Duchamp |
Sedert die 1960's word Duchamp deur baie kunshistorici en -kritici as die belangrikste kunstenaar van die 20ste eeu beskou, terwyl die Franse digter en skrywer André Breton (1896–1966) hom as die "mees intelligente man van die eeu" beskryf het. Duchamp het waarnemers gedwing om nuwe gedagtes te vorm oor wat kuns is.[1] Sy nuwe definisie van kuns was dié van 'n konsep eerder as dié van 'n blote produk.[2] Deur gewone alledaagse gebruiksvoorwerpe, wat buite 'n kunsmuseum nooit as kunswerke beskou sou word nie, na 'n galery te neem en hulle met klein aanpassings as kunswerke te vertoon, het Duchamp bestaande konsepte van kuns radikaal bevraagteken. Tydgenote het in vurige debatte oor Duchamp se kuns geraak, en verskeie kere het dit tot skandale gelei.
Sy skildery Nu descendant un escalier ("Ontblote vrou wat 'n trap afklim") het in 1913 emosies opgesweep, net soos die opvoering van Igor Strawinski se ballet- en orkesstuk Le Sacre du printemps (Die Lenteoffer) in dieselfde jaar in Parys. 'n Resensent van die gesiene dagblad The New York Times het die werk beskryf as "'n ontploffing in 'n dakteëlfabriek".[3]
Oorgang van kuns na skaak
wysigIn 1918 het Duchamp afskeid geneem van die New Yorkse kunstoneel, sy werk op die Large Glass onderbreek en na Buenos Aires gegaan, waar hy vir nege maande gebly het en dikwels skaak gespeel het. Hy het sy eie skaakstel uit hout gekerf met die hulp van 'n plaaslike vakman wat die ridders gemaak het. Hy het in 1919 na Parys verhuis, en toe terug na die Verenigde State in 1920. Met sy terugkeer na Parys in 1923 was Duchamp in wese nie meer 'n praktiserende kunstenaar nie. In plaas daarvan was sy hoofbelangstelling skaak, wat hy vir die res van sy lewe bestudeer het met die uitsluiting van die meeste ander aktiwiteite.
Verwysings
wysig- ↑ Kuns en kralewerk: Sinergie tussen die Weste en Afrika. In: Rapport, 15 Januarie 2006. Besoek op 12 Mei 2016[dooie skakel]
- ↑ Art Knowledge News: Speed Art Museum Presents Marcel Duchamp. Besoek op 12 Mei 2016[dooie skakel]
- ↑ Moderne kuns wat VSA ’n eeu gelede oorbluf het. In: Beeld, 17 Februarie 2013. Besoek op 12 Mei 2016
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Marcel Duchamp.