Négrette is 'n donker, rooiwyn druifsoort wat hoofsaaklik in suidwes-Frankryk in die streek tussen Albi en Toulouse verbou word. Die druifsoort word onder andere gebruik in die Côtes de Gascogne-streek. Dit kan ook gevind word in Haute-Garonne, Tarn-et-Garonne, Tarn, Vendée, Île de Ré, Gascogne en Kalifornië.

Die blare van die Négrette-druif

Kenmerke

wysig

Die druif spruit vroeg in die jaar, en is geneig tot 'n effens te hoë suurinhoud. Die tipiese geure wat geassosieer word met die wyn is frambose en rooibessies. Afhangende van die streek en die verbouingsmetode lewer dit gladde, vrugtige wyne, soms eenvoudig en soms intens, donkerkleurig, ryk en pittig. Die wyn het 'n hoë tannieninhoud, wat beteken dat dit nie gewoonlik in eikehoutvate verouder word nie. Die druif is veral geskik vir die warm, droë klimaat van die Côtes de Gascogne-streek. In vogtiger klimate is dit veral sensitief vir botritis (Botryotinia fuckeliana, sinoniem: Botrytis cinerea).[1]

Die wyn wat van hierdie druifsoort gemaak word is veelsydig, aangesien dit goed verouder, maar ook as jong wyn gedrink kan word. In Kalifornië het die druifsoort tot 1997 bekend gestaan as Pinot St-George, toe die BATF ("Bureau of Alcohol, Tobacco, Firearms and Explosives") bevind het dat dié naam nie meer gebruik mag word nie.[2] In die Fiefs Vendeens van die Loire-vallei staan Négrette ook bekend as Ragoûtant. Die verbouing van die druif het afgeneem vanweë sy vatbaarheid vir die Uncinula necator (sinoniem, Erysiphe necator) swam[3] en botritis[4].

Sinonieme

wysig

Négrette staan ook bekend as: Bourgogne, Cahors, Cap de More, Chalosse noire, Couporel, Dégoûtant, Folle noire, Morelet, Morillon, Mourelet, Mourrelet, Négralet, Negraou, Négret, Négret de Gaillac, Négret du Tarn, Négrette de Fronton, Négrette de Longages, Négrette de Nice, Négrette de Rabastens, Négrette de Villaudric, Négrette de Villemur, Négrette Entière, Négrette Poujut, Negretto, Noirien, Petit Négret, Petite Négrette, Petit noir, Petit Noir de Charentes, Petit Noir de Fronton, Pinot Saint Georges, Pinot St. George, Ragoûtant, Saintongeais, Vesparo noir en Villemur.[5]

Verwysings

wysig
  1. Botritis is 'n parasiet wat saailinge sowel as ander plantdele (blaar, blomdele, stam, vrugte) aantas. Die swam groei voort op sterwende of dooie plantmateriaal, en van hier af kan dit ook lewende plantmateriaal aantas. Soms word die skade eers heelwat later sigbaar.
  2. "Archived copy" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 20 Oktober 2011. Besoek op 1 Oktober 2012.{{cite web}}: CS1 maint: archived copy as title (link)
  3. Uncinula necator is 'n swam wat 'n poeieragtige skimmel op druiwe veroorsaak. Dit is 'n algemene patogeen van die Vitis-spesies, insluitend Vitis vinifera (wingerdstokke). Daar word vermoed dat die swam in Noord-Amerika ontstaan het. Europese wingerdstokke is ook vatbaar vir die swam. Uncinula necator besmet alle groen weefsel op die wingerdstok, insluitend blare en jong bessies. Dit kan oesverliese en swak wyngehalte veroorsaak indien dit onbehandeld bly.
  4. Robinson, Jancis (1986). Vines, Grapes & Wines, Mitchell Beazley, pp. 204, ISBN 1-85732-999-6
  5. Negrette Geargiveer 30 April 2012 op Wayback Machine, Vitis International Variety Catalogue, besoek op 2010-10-20

Eksterne skakels

wysig