'n Plat-6 of horisontaal-teenoorstaande-6 is 'n platenjin met ses silinders horisontaal in twee banke van drie silinders aan elke kant van 'n sentrale krukkas geplaas. Dit moet nie verwar word met die teenoorstaande-suierenjin nie. Die suiers word so op die krukas gemonteer dat opponerende suiers heen-en-weer beweeg in teenoorgestelde rigtings op dieselfde tyd, 'n bietjie soos 'n bokser sy handskoene saamslaan voor 'n geveg, wat daartoe gelei het dat dit as 'n bokserenjin bekend staan.

Die plat-6-enjin van die Honda Valkyrie-motorfiets

Die uitleg lewer 'n resultaat met inherente goeie balans van die resiprokerende dele, 'n lae swaartepunt, en 'n baie kort enjinlengte. Die uitleg leen hom ook tot effektiewe verkoeling. Die vorm van die enjin pas beter in agter- en mid-enjin ontwerpe, waar die lae swaartepunt 'n voordeel is; in voorenjinontwerpe bemoeilik die breedte van die enjin die vermoë van die voorste wiele om te stuur. Dit is egter 'n intrinsieke duur ontwerp om te vervaardig, wat dit meer geskik maak vir luukse sportmotors, toermotorfietse en sekere vliegtuie.[1]

Slegs 'n paar motorfabrikante, insluitend Porsche en Subaru, gebruik tans horisontaalteenstaande enjins. Porsche gaan voort as die mees prominente vervaardiger van die plat-6-enjin in sy luukse sportmotors, terwyl Subaru dit gebruik in sy allewieldryf motors, waar die probleme van die pas van die enjin tussen die voorste wiele geneutraliseer word deur die doeltreffendheid van die toevoeging van vierwielaandrywing. In die verlede het 'n paar ander vervaardigers platsesse gebruik, veral die 1948 Tucker Sedan en Chevrolet in hul Corvair van die 1960's met 'n plat-6 lugverkoelde enjin. Die Citroën DS was oorspronklik bedoel om toegerus te wees met 'n lugverkoelde plat-6, maar dit het nooit gebeur nie.

Balans en gladheid

wysig

Die beweging van die suiers in 'n horisontale enjin is op dieselfde vlak, dus veroorsaak dit minder vibrasie as in 'n V-opset enjin; veral 'n V6-enjin, met 'n onewe getal silinders aan elke kant van die enjin. In teenstelling met die V6, maar soos die inlyn-6, is die plat-6 'n ten volle gebalanseerde opset wat in perfekte primêre en sekondêre balans loop. Die drie silinders aan elke kant van die krukas is geneig om end-tot-end te wieg, soos 'n paar inlyndriesilinderenjins, maar in die gewone bokser-enjin word die wanbalanse aan elke kant uitgekanselleer, wat 'n perfekte gladde enjin oplewer.

 
Die enjin van 'n 1966 Porsche 911

Platsesenjins is wyd, en kan stuurwielbeweging aan bande lê indien dit in die konvensionele posisie (voorenjinuitleg) geplaas word in 'n moderne motor. Dus is die meeste platsesmotorontwerpe agterenjin- of agtermidenjin-ontwerpe, en is onderhewig aan die beperkings en nadele van hierdie ontwerpe. Die langslewende platsesenjinmodel, die Porsche 911, is 'n agterenjinsportmotor met aanvaarbare verlies aan binneruimte en 'n lang geskiedenis van veringontwikkeling, om die goeie eienskappe van die dryfuitleg uit te buit.

Subaru, 'n Japannese motorvervaardiger met 'n geskiedenis in die vervaardiging van vliegtuigenjins, het 'n voorenjin-opset aangeneem vir gebruik met hul platenjins. Die enjin word in die lengte vóór die vooras gemonteer, en die ratkas in die lengte ágter die vooras. Hoewel hierdie uitleg intrinsiek duurder is om te vervaardig, minder kompak is, en minder ruimtedoeltreffendheid is vir voorwieldryf as 'n dwars-V6, laat dit die toevoeging van vierwieldryf toe deur krag af te neem aan beide die voor- en agterkante van die transmissie, aangesien die transmissie nou presies tussen die voor- en agterasse geleë is. In ooreenstemming met die positiewe eienskappe van só 'n uitleg, spesialiseer Subaru nou uitsluitlik in kragtige alwieldryfvoertuie.

Vliegtuigenjins

wysig

Lycoming is 'n groot Amerikaanse vervaardiger van burgerlike vliegtuigenjins. Hulle het 'n reeks van die plat-4 en plat-6 vliegtuigenjins ontwikkel en produseer dit tans, asook een plat-8 enjin. In 'n lugverkoelde enjin kan daar verkoelingsprobleme opduik by die middelste silinderpare. Die plat-6 loop ook gladder as 'n plat-4-ontwerp. Porsche het hul 911 plat-6-silinderlugverkoelde enjins aangepas tot die Porsche PFM 3200 aero-enjin teen die einde van 1985. Ná lae verkope en 'n VS$75 miljoen belegging, is produksie egter gestaak in 1991.

Verwysings

wysig
  1. Nunney, M J (2007). Light and Heavy Vehicle Technology. Butterworth-Heinemann. p. 13. ISBN 0-7506-8037-7.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.