Ratched (TV-reeks)

Ratched is 'n Amerikaanse sielkundige rillerreeks vir televisie wat deur Evan Romansky geskep en deur Ryan Murphy ontwikkel is, en met Sarah Paulson in die titelrol van verpleegster Mildred Ratched. Dit gaan die gebeure van die 1975-rolprent van Miloš Forman, One Flew Over the Cuckoo's Nest, vooraf. Dié is weer geskoei op Ken Kesey se 1962-roman met dieselfde naam.

Ratched

Sarah Paulson vertolk die rol van verpleegster Mildred Ratched.
Genre
Geskep deur Evan Romansky (geskoei op verpleegster Mildred Ratched van One Flew Over the Cuckoo's Nest.)
Geregisseer deur
  • Shelly Westerman
  • Peggy Tachdjian
  • Ravi Subramanian
  • Ken Ramos
  • Danielle Wang
Met
Temamusiekkomponis Mac Quayle
Oorsprong VSA
Taal Engels
Aantal seisoene 1
Aantal episodes 8
Produksie
Uitsending
Oorspronklike kanaal Netflix
Oorspronklike lopie 18 September 2020 (2020-09-18)

Die reeks beeld die lewe van Mildred Ratched uit voor dié in die fliek, hoewel dit in Kalifornië afspeel en nie in Oregon nie. Ratched sou twee seisoene geduur het. Die eerste seisoen se première was op 18 September 2020 op Netflix.[1] In Augustus 2022 het Paulson gesê sy is onseker of daar steeds 'n tweede seisoen gaan wees. In Februarie 2024 is die tweede seisoen gekanselleer.[2][3]

Storielyn

wysig

In 1947 kom Mildred Ratched in Noord-Kalifornië aan om werk by 'n vooraanstaande psigiatriese hospitaal te soek waar nuwe en onthutsende eksperimente op die menslike brein begin het.

Mildred is op 'n ongeoorloofde sending en doen haarself voor as die perfekte voorbeeld van wat 'n toegwyde verpleegster behoort te wees, maar terwyl sy die geestesorgstelsel en die mense daarin begin infiltreer, versluier Mildred se stylvolle uiterlike 'n groeiende donkerte wat al lank in haar sluimer.

Dit onthul dat ware monsters so gemaak en nie so gebore word nie.[4]

Hoofkarakters

wysig
  • Sarah Paulson is Mildred Ratched, 'n verpleegster wat deur dr. Hanover van die Lucia-staatshospitaal in Kalifornië in diens geneem word. Haar motief is om haar aanneem-"broer", Edmund, te help om uit die hospitaal te ontsnap waarin hy beland het nadat hy verskeie priesters vermoor het.
  • Finn Wittrock is Edmund Tolleson, die moorddadige en geestelik onstabiele "broer" van Ratched.
  • Cynthia Nixon is Gwendolyn Briggs, goewerneur Willburn se perssekretaris en veldtogbestuurder, en Ratched se liefdesbelangstelling.
  • Jon Jon Briones is dr. Richard Hanover / dr. Manuel Bañaga, die direkteur van die Lucia-staatshospitaal wat Ratched in diens neem.
  • Charlie Carver is Huck Finnigan, 'n mediese ordannans by die hospitaal wie se gesig erg vermink is weens 'n oorlogsbesering. Hy word later bevorder tot hoofverpleër nadat Betsy die hospitaal by dr. Hanover oorgeneem het.
  • Judy Davis is verpleegster Betsy Bucket, die hoofverpleegster en 'n mededinger van Ratched. Sy neem later die hospitaal van dr. Hanover oor nadat hy vir die polisie gevlug het weens misdade in sy verlede.
  • Sharon Stone is Lenore Osgood, 'n ryk vrou wat 'n moordenaar huur om dr. Hanover te vermoor en onthoof omdat hy haar seun vermink het nadat sy hom gehuur het om haar seun se geestesiekte te behandel.

Episodes

wysig
 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
1 "Pilot" Ryan Murphy Evan Romansky 18 September 2020 (2020-09-18)

In 1947 vermoor Edmund Tolleson vier priesters, onder andere een wat hy beweer sy pa is. Ses maande later word hy aangekeer en gevonnis tot 120 dae in die Lucia-staatshospitaal, 'n geestesinrigting in Kalifornië. Mildred Ratched steel die posisie van verpleegster in dieselfde hospitaal deur afpersing. Terwyl goewerneur George Wilburn die hospitaal besoek op sy verkiesingsveldtog, gee Ratched vir 'n ou pasiënt medisyne wat sy bloeddruk verlaag. Toe die pasiënt in skok gaan, red Ratched hom voor die pers en die goewerneur. Sy spoor dan 'n pasiënt, Salvatore, aan om selfmoord te pleeg in dr. Hanover se kantoor. Ratched verseker dr. Hanover sy sal die daad verdoesel en wen so sy vertroue.

 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
2 "Ice Pick" Ryan Murphy Ian Brennan 18 September 2020 (2020-09-18)

Dr. Hanover doen 'n breinoperasie op 'n pasiënt, maar dit misluk. Hy stel dan 'n geriefliker prosedure met 'n yspik bekend. Ratched besoek vader Andrews, 'n oorlewende en ooggetuie van Edmund se moorde, en oorreed hom om 'n onderhoud met dr. Hanover te doen. Gwendolyn Briggs, die goewerneur se veldtogbestuurder, neem Ratched na 'n vroueklub in Monterey. Ratched voel gebelg dat sy vir 'n lesbiër aangesien is. Ratched neem vader Andrews na haar motelkamer en neem alles wat hy sê op, kamtig vir dr. Hanover. Sy verdoof hom en nadat sy erken Edmund is haar broer, voer sy die yspikprosedure op hom uit. Die prosedure laat vader Andrews in 'n toestand van spanningswaansin.

 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
3 "Angel of Mercy" Nelson Cragg Ian Brennan 1 Desember 2017 (2017-12-01)

Wainwright, 'n privaat speurder, besoek Lenore Osgood met die nuus dat Hanover 'n skuilnaam is vir Manuel Bañaga, wat verantwoordelik was vir die verminking van haar seun, Henry, wat hom sonder ledemate gelaat het. Sy huur Wainwright om Hanover te vermoor. Hanover ontwikkel 'n nuwe terapie wat behels dat pasiënte in uiters warm water geplaas word. Ratched vind uit verpleegster Dolly het 'n seksuele verhouding met Edmund. Hanover ontsnap van 'n sluipmoordaanval. Ratched het 'n avontuur met Wainwright in haar hotelkamer. Ratched vra Hanover hoekom hy gejag word, en hy verduidelik hoe hy Henry se beserings veroorsaak het nadat Henry hom bedwelm het. Ratched bied aan om hom te help wegkruip.

 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
4 "Angel of Mercy: Part Two" Michael Uppendahl Evan Romansky 18 September 2020 (2020-09-18)

Die goewerneur is gretig dat Edmund geskik verklaar moet word om verhoor te word, want dit sal hom laat goed lyk in die komende verkiesing. Dolly erken aan Ratched sy voel aangetrokke tot gevaarlike mans. Hanover dien homself waarheidserum toe. Die ordonnans Huck Finnigan saboteur die baddens om te voorkom dat nog 'n pasiënt verbrand word. Wainwright soek steeds na Hanover. Ratched bied aan om te help. Hulle het seks en Gwendolyn hoor dit. Ratched en Finnigan help die twee pasiënte wat Hanover met die warm water aangerand het om te ontsnap. Ratched help Wainwright om in die hospitaal in te sluip. Hy gaan na Hanover se kontoor, maar dié slaan hom bewusteloos. Ratched en Hanover maak Wainwright in 'n warmwaterbad toe, maar hy ontsnap. Hy word dan deur 'n hospitaalwag doodgeskiet. Ratched kontak Osgood om vir haar te vertel Wainwright is dood en stel voor sy kom self na Lucia. Finnigan sê vir Ratched sy is 'n engel van genade omdat sy die twee pasiënte help ontsnap het, en dit laat Ratched terugdink aan hoe sy aan 'n soldaat in die oorlog die genadedood toegedien het.

 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
5 "The Dance" Michael Uppendahl Ian Brennan 18 September 2020 (2020-09-18)

Ratched pers Hanover af om te bevind Edmund is nie geskik om verhoor te word nie en om haar hoofverpleegster te maak. Ratched sê vir Edmund hy moet waansinning optree tydens die naderende hospitaaldans. 'n Uiters gespanne Charlotte Wells word met 'n gesplete persoonlikheid in die hospitaal opgeneem. Edmund vra Ratched om vir hom 'n mes vir die dans te gee en sê hy wil homself daarmee sny om dit oortuigend te laat lyk dat hy waansinig is. Hanover het 'n deurbraak met Charlotte. Bucket, die huidige hoofverpleegster wat deur Ratched mislei is, probeer dat Hanover haar raaksien. Hanover sien hoe Osgood hom bekruip en gaan na Ratched vir hulp. Ratched ontmoet Osgood en stem in om Hanover te vermoor. Op die dans verloor Hanover sy humeur en vertel vir Bucket hoe hy haar haat. Edmund vermoor die wag en ontsnap saam met Dolly, wat Gwendolyn skiet.

 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
6 "Got No Strings" Jessica Yu Jennifer Salt, Ian Brennan 18 September 2020 (2020-09-18)

Edmund en Dolly kruip in 'n verlate plaashuis weg. Gwendolyn herwin haar bewussyn in die hospitaal. Ratched begin gevoelens vir Gwendolyn ontwikkel. Sy kry terugflitse na haar vreeslike kinderjare terwyl sy saam met Gwendolyn na 'n poppekasvertoning kyk, en veroorsaak 'n bohaai. Sy erken later aan Gwendolyn dat Edmund haar broer is. Edmund en Dolly word gevang, en Dolly probeer haar pad deur die polisie oopskiet, maar sterf in die skietery. Edmund word in kettings na die hospitaal teruggebring. Die goewerneur is woedend, en oortuig Hanover om te sertifiseer dat Edmund geskik is om verhoor te word. Hy verminder ook sy geldbystand aan die hospitaal en dank Gwendolyn af.

 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
7 "The Bucket List" Jennifer Lynch Ian Brennan 18 September 2020 (2020-09-18)

Bucket vind uit van die verwantskap tussen Ratched en Edmund, en hoe Ratched die yspikprosedure op vader Edwards uitgevoer het om hom stil te maak. Sy konfronteer Ratched, wat erken sy is uit die weermag geskors omdat sy die genadedood aan soldate toegedien het. Bucket is simpatiek en stem saam dat Edmund nie tereggestel moet word nie. Hulle voer samesprekings met 'n ryk weldoener, wat belowe om die hospitaal te bly steun en saamstem dat Hanover aan die polisie gerapporteer word word. Ratched help Hanover om saam met Charlotte te ontsnap. Terwyl hulle in 'n motel wegkruip, kry Charlotte 'n psigotiese toeval en vermoor Hanover. Toe sy herstel, bel sy Ratched om hulp. Ratched help Charlotte ontsnap, sit Hanover se kop in 'n boks en gee dit vir Osgood. Osgood wys die kop vir Henry, en dié se butler vermoor haar. Ratched vertel vir Gwendolyn dat sy haar liefhet. Gwendolyn vertel vir Ratched dat sy terminale kanker het. Osgood laat in haar testament haar goed aan haar troetelapie na en sê dat Henry vir die res van sy lewe na 'n psigiatriese hospitaal moet gaan. Bucket neem oor as hoof van die hospitaal en stel Huck Finnigan op versoek van Ratched as hoofverpleër aan.

 Episode  Titel  Regisseur  Skrywer  Uitgereik
8 "Mildred and Edmund" Daniel Minahan Ian Brennan, Evan Romansky, Jennifer Salt 18 September 2020 (2020-09-18)

Edmund word tot die elektriese stoel gevonnis. Ratched en Gwendolyn vra die goewerneur vergeefs om genade. Hulle gesels met Bucket. Ratched doen 'n voorstel aan die hand dat sy Edmund 'n genade-inspuiting sal gee om hom te help om menslik te sterf. Charlotte kom by die hospitaal aan en glo sy is Hanover. Sy sweer sy sal keer dat Edmund tereggestel word. Sy ontdek 'n wapen in Hanover se lessenaar en raak aggressief. Sy vermoor Huck en 'n wag. Sy laat Edmund vry. Dié vat die wag se wapen en dwing Bucket om hom van Ratched se plan te vertel. Hy en Charlotte ontsnap, en neem later die moteleienaar Louise aan as 'n medepligtige.

Drie jaar later bel Edmund vir Ratched nadat hy haar, Bucket en Gwendolyn in Mexiko opgespoor het. Hy belowe om haar te vermoor, maar sy sê sy sal hom eerste kry.

Verfilming

wysig

Die verfilming van die reeks het vroeg in 2019 in Los Angeles en 20th Century Fox se ateljees plaasgevind.[5] Een van die stelle was die historiese Adamson House in Malibu.[6]

Ontvangs

wysig

In die eerste week ná sy uitreiking was Ratched nommer een in die Nielsen-beoordeling (wat die grootte en samestelling van TV-gehore in die VSA bepaal), wat aangekondig het die reeks is altesaam 972 miljoen minute lank gekyk.[7] Volgens Netflix is die reeks in die eerste vier weke deur 48 miljoen mense gekyk.[8]

Op Rotten Tomatoes was daar 96 resensies, waarvan 61% positief was, met 'n gemiddelde punt van 6,3/10.[9] Metacritic het daaraan 'n punt van 50 uit 100 gegee, gebaseer op 32 resensies, wat 'n louwarm punt is.[10]

In 'n resensie waarin 'n punt van 5/5 aan die reeks gegee is, skryf Nicholas Barber van BBC Online: "Ratched haak (ratchets) alles op, van die kleurryke ontwerp tot die Bernard Herrmann-agtige musiek tot die noiragtige sepiestorielyn wat drup van seks en geweld. Maar dit is nie suiwer kamp nie. Romansky se uitstekende skryfwerk hou streng beheer oor die karakters en hulle ineengevlegte stories, en daar is 'n paar rillend korrekte uitbeeldings van wrede psigiatries behandelings uit die 1940's." Hy sê verder: "Die karakters is 'n klomp skurke, van wie nie een as heldhaftig geklassifiseer kan word nie, maar hulle is almal kwesbaar, en die meeste word deur liefde gemotiveer – selfs al inspireer daardie liefde hulle om 'n moordenaar te huur om 'n ou vyand te onthoof."[11] The Independent se Alexandra Pollard, wat dit 4 uit 5 gegee het, het gedink die storie is "nadenkend en bekoorlik".[12]

TVLine het nie veel daarvan gedink nie en het dit 'n D gegee.[13]

Verwysings

wysig
  1. Ausiello, Michael (29 Julie 2020). "Ratched: Sarah Paulson Channels Iconic Cuckoo's Nest Villainess in Netflix Prequel Series — First Look". TVLine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Julie 2020. Besoek op 29 Julie 2020.
  2. "Sarah Paulson Isn't Sure of Her 'American Horror Story' or 'American Crime Story' Future". Variety. 2 Augustus 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Augustus 2022. Besoek op 2 Augustus 2022.
  3. Franken, Claire (4 Februarie 2024). "Ratched Not Returning to Netflix for Season 2, Sarah Paulson Says — Watch". TVLine. Besoek op 5 Februarie 2024.
  4. "Ratched". Netflix Media Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 November 2020. Besoek op 11 Augustus 2020.
  5. Steves, Ashley (1 April 2019). "L.A. What's Filming: New Ryan Murphy Netflix Series 'Ratched'". Backstage.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 April 2019. Besoek op 5 September 2020.
  6. Blake, Lindsay (29 September 2020). "On 'Ratched,' Sarah Paulson Checks into the Adamson House, One of Malibu's First Homes". Variety.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 September 2021. Besoek op 29 Junie 2021.
  7. Porter, Rick (16 Oktober 2020). "'Ratched' Debuts at No. 1 in Nielsen Streaming Rankings". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2020. Besoek op 20 Oktober 2020.
  8. Netflix [@netflix] (16 Oktober 2020). "In its first 28 days, 48 million members have booked an appointment with Nurse Ratched, making it our biggest original Season 1 of the year" (Tweet). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2020 – via Twitter.
  9. "Ratched: Season 1 (2020)". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 November 2020. Besoek op 17 Maart 2021.
  10. "Ratched: Season 1 Reviews". Metacritic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Januarie 2021. Besoek op 4 Februarie 2021.
  11. Barber, Nicholas. "Ratched: Five stars for blackly comic melodrama". BBC.com (in Engels). BBC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2020. Besoek op 19 September 2020.
  12. Pollard, Alexandra (18 September 2020). "Ratched is a thoughtful and beguiling origin story for a One Flew Over the Cuckoo's Nest icon – review". The Independent (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Desember 2021. Besoek op 29 Junie 2021 – via independent.co.uk.
  13. Nemetz, Dave (14 September 2020). "Ratched Review: Netflix's Gory Melodrama Is Too Cuckoo to Endure". TVLine.com (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 September 2020. Besoek op 19 September 2020.

Skakels

wysig