Reptile (rolprent)

Reptile is 'n Amerikaanse misdaadrillerrolprent van 2023 waarvan Grant Singer die regisseur is. Die draaiboek is deur hom, Benjamin Brewer en Benicio del Toro geskryf. Hy en Brewer het die verhaal geskryf. Del Toro is in die hoofrol saam met Justin Timberlake, Alicia Silverstone, Eric Bogosian, Ato Essandoh, Domenick Lombardozzi en Michael Pitt.

Reptile
Regisseur Grant Singer
Vervaardiger
  • Molly Smith
  • Thad Luckinbill
  • Trent Luckinbill
Draaiboek
Met
Musiek deur Yair Elazar Glotman
Kinematografie Michael Gioulakis
Redigeerder Kevin Hickman
Ateljee Black Label Media
Verspreider Netflix
Speeltyd 136 minute[1]
Land VSA
Taal Engels
IMDb-profiel

Die première was op 7 September 2023 op die Toronto-rolprentfees. Die prent is op 22 September in uitgesoekte teaters in die VSA uitgereik voordat Netflix dit op 29 September gestroom het.

Storielyn

wysig

Bederwingswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.


Will Grady kom af op sy meisie, Summer Elswick, wat wreedaardig vermoor is in 'n plattelandse huis in Maine wat hulle as eiendomsagente gewys het. Tom Nichols en sy maat Dan Cleary, polisiespeurders vir die saak, ondervra Will, wat onthul hy wou met Summer trou, maar kon nie omdat sy steeds met Sam Gifford getroud is. Op 'n sekuriteitsvideo kan 'n donkerkleurige motor met 'n vermiste wieldop gesien word wat later deur Tom se vrou, Judy, korrek geïndentifiseer word as 'n Chrysler Imperial.

Ná Summer se begrafnis vertel Will vir Tom van Eli Phillips, wat 'n paar nagte tevore probeer het om met geweld sy ma sy huis binne te kom. Will verduidelik dat sy pa, toe hy hoof van die familie se eiendomsagentskap was, Eli se familie gedwing het om hulle plaas te verkoop. Eli se pa het selfmoord gepleeg en Eli het Will daarvoor blameer. Toe Tom en Dan vir Eli ondervra, beskuldig hy Will daarvan dat hy Summer vermoor het.

DNS wat in Summer gevind word, stem ooreen met dié van Sam. Volgens die getuienis van 'n vriend van die twee het hulle mekaar steeds gesien om seks te hê. Tom keer terug na Sam met 'n lasbrief. Sam gryp Dan se wapen en Tom skiet hom dood toe hy probeer vlug. In die huis word 13 kg heroïen gevind.

Sam word verklaar as Summer se moordenaar, maar Tom is huiwerig om te verklaar dat die saak opgelos is. Eli kom een aand by Tom se huis aan en gee hom 'n geheuestafie met 'n bewys dat Summer betrokke was by 'n skema deur die Gradys om dwelmgeld te was. Die Gradys, wat werksaam is onder 'n dopmaatskappy met die naam White Fish, koop eiendom goedkoop nadat dwelms in die huis geplant en deur die polisie gevind is. Summer is vermoor om te keer dat sy die skema rapporteer.

Daar is bewyse dat die polisieman Wally Finn agter die White Fish sit, want hy besit ook 'n privaat sekuriteitsmaatskappy, Active Duty Consulting, wat dieselfde posbus as White Fish gebruik. Will daag by Eli se huis op en eis die geheuestafie terug. Nog iemand daag op. Tom kom later by Eli se huis aan en vind uit hy is weg, met sy kombuis skoongeskrop en 'n leë bleikmiddelbottel wat agtergelaat is.

Tom woon die verjaardagpartytjie by van kaptein Robert Allen, sy hoof en Judy se oom. Hy probeer vir Allen van Wally se rol in Summer se moord en die geldwasskema vertel, maar word onderbreek. Later op die partytjie ontdek Tom 'n Chrysler Imperial in Allen se motorhuis wat nuut oorgeverf is. Allen kom op Tom af en sê vir hom om die saak te los.

Tom is bang vir sy veiligheid. By die huis vertel hy vir Judy wat hy weet en sê hulle moet dié nag nog weggaan. Allen bel en sê Tom moet die volgende dag na hom toe kom sodat hy die saak kan verduidelik. Tom stem in. Hy gee die geheuestafie aan die polisiehoof, Marty Graeber, en die twee gaan na Allen se huis. Marty verskoon homself om 'n draai te loop, en Allen smeek Tom om die huis te verlaat om sy eie lewe te red. Allen loop met die trap op, waar 'n onbekende persoon hom doodskiet. Tom konfronteer Marty, wat by die skema betrokke is, in die badkamer. Marty reik na sy wapen, maar Tom skiet hom dood. Hy skiet dan vir Wally (wat Allen op die trap geskiet het).

Die FBI arresteer daarna vir Will terwyl hy gholf speel.

Rolverdeling

wysig
Benicio del Toro.
Justin Timberlake.

Ontvangs

wysig

Op Rotten Tomatoes was 45% van die 84 resensies positief, met 'n gemiddelde punt van 5,5/10. Op Metacritic het die prent "gemengde of gemiddelde" resensies gekry, met 'n punt van 52/100, gebaseer op 23 resensies.

Op 10 Oktober 2023 was Reptile in die eerste plek vir Engelse rolprente wêreldwyd op Netflix, met 19,9 miljoen kykers vir die week. Op 17 Oktober 2023 was dit weer in die eerste plek, met 14,2 miljoen kykers.

Op 19 Oktober 2023 het The Wrap berig Reptile was vir die derde agtereenvolgende week die fliek/TV-program wat wêreldwyd die meeste op enige stromingsdiens gekyk is.[2]

Verwysings

wysig
  1. "Reptile (15)". British Board of Film Classification. 19 September 2023. Besoek op 19 September 2023.
  2. Strain, Cole (19 Oktober 2023). "Netflix's 'Reptile' Shreds the Streaming Competition". The Wrap. Besoek op 18 April 2024.

Skakels

wysig