Jaco Barnard-Naudé

Suid-Afrikaanse skrywer
Weergawe deur 185.132.186.51 (besprekings) op 16:26, 30 November 2024 (redaksioneel)

Jaco Barnard-Naudé is 'n Suid-Afrikaanse navorser en skrywer wat in die laat sewentigerjare in Pretoria gebore is. Tans is hy Professor in Regsfilosofie en Mede-Direkteur van die Sentrum vir Retoriekstudie (CRhS) in die Departement Privaatreg aan die Regsfakulteit van die Universiteit van Kaapstad (UCT). Sedert 2022, dien hy ook as die Regsfakulteit se Direkteur van Navorsing.[1]

Lewe en werk

Hy gaan skool in Brits in die Noordwes Provinsie en studeer dan verder aan die Universiteit van Pretoria vir 'n B.Com.-graad in die Regte (wat hy in 2000 met lof behaal) en 'n LL.B.-graad (wat hy in 2002 summa cum laude behaal). Een van sy deurlopende byvakke is uitvoerende musiek en hy speel die tjello. Na voltooiing van sy voorgraadse studies is hy kortstondig betrokke in 'n prokureurspraktyk in Johannesburg, maar wend hom dan eerder tot die akademie. In 2003 skryf hy in vir 'n doktorsgraad in kritiese regsfilosofie wat hy in 2005 aan die Universiteit van Pretoria verwerf met 'n proefskrif oor die beregtiging in die Suid-Afrikaanse kontraktereg in transformasie.[2] Tydens sy regstudies verwerf hy vele bekronings vir sy prestasies, onder andere die Grotius-medalje, die Sanlam-prys vir Ekonomie en die Gauteng Regsraad-prys. Sedert 2004 is hy verbonde aan die Departement Privaatreg aan die regsfakulteit van die Universiteit van Kaapstad, waar hy tans professor is. 'n Gedeelte van elke jaar spandeer hy in Londen om as ere-navorsingsgenoot by die Birkbeck Instituut vir die Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Londen te werk. Hy spandeer ook tyd aan navorsing aan die Max Planck Instituut vir Internasionale Privaatreg in Hamburg in Duitsland en die Regskool aan Birkbeck-Kollege aan die Universiteit van Londen.[3]

Sedert 2004 is hy verbonde aan die Departement Privaatreg aan die regsfakulteit van die Universiteit van Kaapstad, waar hy sedert 2012 Professor in Regsfilosofie is. In 2005 voltooi hy sy doktorale proefskrif tydens 'n navorsingsbesoek aan die Max Planck Instituut vir Internasionale Privaatreg (onder direkteurskap van Prof Reinhard Zimmermann) in Hamburg, Duitsland. In 2006 ontvang hy die Universiteit van Kaapstad se Fellows Award vir uitnemende navorsing deur 'n jong akademikus. In 2010 vorm hy deel van die inhuldigende groep uitgenooide studente van die London Critical Theory Summer School, aangebied deur die Birkbeck Instituut vir die Geesteswetenskappe, Universiteit van Londen, met lesings deur, onder andere, Slavoj Žižek, Etienne Balibar, Jacqueline Rose, Wendy Brown, Drucilla Cornell en Costas Douzinas. Sedertdien spandeer hy gereeld kort periodes aan navorsingsbesoeke in Londen, eers as besoekende akademikus in die Regskool van Birkbeck-Kollege aan die Universiteit van Londen[4] en later as ere-navorsingsgenoot aan die Birkbeck Instituut vir die Geesteswetenskappe, Universiteit van Londen (onder internasionale direkteurskap van Slavoj Žižek met Jacqueline Rose as plaaslike mede-direkteur). Hy behaal die M.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns (Afrikaanse Poësie) onder leiding van Prof Joan Hambidge aan die Universiteit van Kaapstad in 2011.

In 2012 ontvang hy sy eerste Nasionale Navorsingstigting Gradering (Y1) en in 2018 word hierdie gradering met twee kategorieë opgegradeer na B2 en daarmee word hy een van slegs drie professors aan die Universiteit van Kaapstad met 'n B2-gradering onder die ouderdom van veertig. In 2024 word sy gradering weer opgegradeer, hierdie keer na die B1-kategorie wat as onafhanklike bewys dien dat hy deur sommige eweknie-beoordelaars as 'n internasionale leier in sy navorsingsveldveld erken word.

Sedert 2016 is hy 'n gereelde Besoekende Professor in die Trame Sentrum (gestig deur Umberto Eco) van die Departement Filosofie en Kommunikasie, Universiteit van Bologna. In 2017 word hy aangewys as die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Westminster Law & Theory Lab, Skool vir Regte, Universiteit van Westminster, Londen - 'n posisie wat hy tot en met 2020 beklee. Tydens die genootskap bied hy openbare lesings aan vir gehore in Parys, Frankryk, Londen en by die Distrik Ses Museum in Kaapstad. In 2017 organiseer hy die Vice-Chancellor's Open Lecture van die Universiteit van Kaapstad, aangebied deur Prof Jacqueline Rose onder die titel The Legacy, Or What I Have Learned From You.

Jaco is die skrywer of mede-outeur van 52 vakkundige artikels wat in tydskrifte soos The South African Journal on Human Rights, Law and Critique, Stellenbosch Law Review, South African Law Journal, die South African Journal on Criminal Justice en LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn het. Daarby verskyn 30 van sy hoofstukke as outeur of mede-outeur in internasionale en plaaslike versamelings by uitgewers soos Routledge, Cambridge University Press, Edinburgh University Press en Brill, asook nasionale uitgewers soos Oxford University Press (Suid-Afrika), Wits University Press en Juta. Hy is die redakteur of mede-redakteur van vyf eweknie-beoordeelde redaksionele versamelings vir uitgewers soos Routledge en Juta en hy tree in hierdie hoedanigheid op as redakteur van akademiese bydraes deur, onder andere, Prof Alain Badiou, Prof Judith Butler, Prof Jacqueline Rose en Prof Achille Mbembe. In 2023 verskyn sy eerste eweknie-beoordeelde monograaf, Spectres of Reparation in South Africa: Re-encountering the Truth and Reconciliation Commission in Routledge se Contemporary South Africa reeks.

Hy was vir meer as tien jaar 'n lid van die uitvoerende raad en 'n direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IJR) in Kaapstad en was saam met Prof Pumla Gobodo-Madikizela die medestigter van die Living Reconciliation Forum aan die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Vrystaat.

Skryfwerk

Hy begin skryf in standerd agt. Na 'n mislukte poging tot 'n liefdesverhouding met 'n heteroseksuele man skryf hy aan die einde van standerd nege 'n aantal gedigte op 'n ou tikmasjien in sy koshuiskamer op Brits en stuur hierdie “bundel” na Tafelberg-Uitgewers.[5] Die antwoord (in die vorm van 'n brief onderteken deur Nèlleke de Jager) is dat die manuskrip nie publiseerbaar is nie, maar Charles Fryer, op daardie stadium Tafelberg se Hoof van Fiksie, bring uitvoerige kommentaar in potlood op die manuskrip aan, wat as besondere motivering dien. In die vroeë 2000s publiseer hy van sy gedigte op LitNet[6] en vyf daarvan word in 2013 opgeneem in Nuwe stemme 5, onder redaksie van Heilna du Plooy en Loftus Marais.[7] In Mei 2024, verskyn sy debuutdigbundel, om my kastele in Spanje te sloop by Human & Rousseau (nou met Nèlleke de Jager as sy redakteur), na die verloop van 'n periode van vyftien jaar sedert sy registrasie vir die MA-graad in Kreatiewe Skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Prof Joan Hambidge.[8]

Ander Verwysings

Verwysings

  1. https://law.uct.ac.za/department-private-law/contacts/jaco-barnard-naude
  2. http://www.privatelaw.uct.ac.za/pvl/staff/jbarnard
  3. https://za.linkedin.com/pub/jaco-barnard-naud%C3%A9/6a/a2b/142[dooie skakel]
  4. LinkedIn: https://za.linkedin.com/pub/jaco-barnard-naud%C3%A9/6a/a2b/142[dooie skakel]
  5. Lourens, Amanda “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 51 no. 2, Vierde reeks Lente 2014
  6. http://www.litnet.co.za/author/jaco-barnard-naude/
  7. "Nuwe stemme 5 by Heilna du Plooy, Loftus Marais (Ebook) - Read free for 30 days". Everand.
  8. "NB Publishers | om my kastele in Spanje te sloop". www.nb.co.za.
Verwysingfout: <ref> tag with name "uct" defined in <references> is not used in prior text.