Die Teefoorlog of Soeka-oorlog (Russies: сучья война, soetsjija woina) het tussen 1945 en om en by die dood van Josef Stalin in 1953 in die Sowjet-tronke en die strafkampstelsel, die Goelag, plaasgevind.

Die Russiese woord soeka (letterlik "teef") het ’n baie negatiewer betekenis as in Afrikaans, veral in die tronke en kampe van die Sowjetunie, waar dit gedui het op ’n gevangene wat met die owerhede saamwerk, of " ’n teef geword het" (ссучился). ’n Soeka het ’n miserabele lewe in die tronk gehad. Binne die gevangenestelsel was daar ’n historiese en sosiale struktuur wat sedert die tye van die tsare bestaan het. Misdadigers het bekend gestaan as wori w zakone (воры в законе) of "diewe volgens die wet". Hulle moes hou by sekere reëls binne die tronk- of strafkampstelsel. Een van die belangrikste reëls was dat ’n gevangene nie met die tsaristiese en later Sowjet-regering mag saamwerk nie. Dit het ingesluit ooreenkomste aangaan, klik of iemand verraai.[1][2]

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Stalin aan baie gevangenes ’n aanbod gemaak dat hul vonnisse verkort sou word as hulle in die oorlog veg. Met hul terugkeer na die tronk of die Goelag het hulle hulle egter heel onder aan die gevangene-hiërargie bevind. Om te oorleef het baie met die tronkamptenare saamgewerk en in ruil daarvoor beter werk gekry.

Gevegte het uitgebreek tussen die soeki en die gevangenes wat getrou gebly het aan die wette van die diewe. Talle het in die gevegte gesterf terwyl die owerhede hulle blind gehou het. Een van die redes hiervoor was dat die tronke en kampe oorvol was en die honderde gevangenes wat na bewering dood is, het die las op die stelsel verlig.

Sien ook

wysig

Verwysings

wysig
  1. Varlam Shalamov, Essays on Criminal World, "Bitch War" (Shalamov se essay aanlyn (Russies) in: Varlam Shalamov (1998) "Complete Works" (Варлам Шаламов. Собрание сочинений в четырех томах), vol. 2, uitgewers Vagrius en Khudozhestvennaya Literatura, ISBN 5-280-03163-1, ISBN 5-280-03162-3.
  2. A. V. Kuchinsky Prison Encyclopedia, (Кучинский А.В. - Тюремная энциклопедия, ’n aanlyn-uittreksel Geargiveer 24 April 2008 op Wayback Machine (Russies)

Bronne

wysig

Notas

wysig
Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Bitch Wars