Toepolef Tu-160

Russiese supersoniese strategiese bomwerper

Die Toepolef Tu-160 is 'n supersoniese bomwerper wat deur die Sowjetunie ontwikkel is. Die NAVO-verslagnaam vir die vliegtuig is Blackjack. Dit is die swaarste en kragtigste bomwerper wat nog ooit gebou is. Dit is ontwerp om teen subsoniese snelhede op lae hoogtes sowel as supersoniese snelhede op hoë hoogtes te kan vlieg. Dit beskik oor twee bomrakke wat kruisermissiele, kortafstand-geleide missiele of konvensionele wapens kan dra. Dit beskik ook oor swaaivlerke; tewens die vliegtuig is ontwerp in antwoord op die Amerikaanse Rockwell B-1 Lancer.

Toepolef Tu-160
Toepolef Tu-160 in vlug oor Rusland, Mei 2014
Tipe Bomwerper
Vervaardiger Toepolef
Nooiensvlug 18 Desember 1981
Vrygestel April 1987
Status In diens
Hoofgebruiker Russiese Lugmag
Sowjetlugmag (histories)

Die Tu-160 is egter baie groter, swaarder en vinniger as die B-1 en het ook 'n beter togafstand. Die Weste het egter reeds voor die toetsvlug geweet van die Tu-160 want 'n spioeneersatelliet het 'n foto geneem van die vliegtuig by sy basis. Toepolef het twee prototipes en een statiese model gebou vir toetsing. Produksie het in 1984 begin en die eerste bestelling was vir 100 eenhede. Produksie is egter in 1992 gestaak nadat slegs 36 eenhede afgelewer is, weens die "Strategiese wapenbeperkings".

Die Tu-160 word aangedryf deur vier Kuznetsov NK-321 enjins wat 25 000 kg stukrag elk lewer. Die enjins is in pare langs die romp geïnstalleer. Die Tu-160 kan teen 70 m/s klim en sy operasionele hoogte is 18 000 m. Dit beskik oor terreinvolgradar wat dit die vermoë gee om teen hoë snelhede op lae hoogtes te vlieg. Al vier bemanningslede beskik oor uitskietstoele. Dit kan invlug hervul word met brandstof en die vlerke kan swaai van 20 tot 65 grade wat dit toelaat om teen subsoniese sowel as supersoniese snelhede te kan vlieg.

Dit kan ses Kh-55 langafstand- sowel as twaalf kortafstandmissiele dra, asook vryvalkern- en konvensionele wapens. Dit is nie toegerus met enige verdedigingswapens nie maar slegs met elektroniese teenmaatreëls. Die vliegtuig is in April 1987 in diens gestel. Aan die einde van 1991 was 19 vliegtuie in die Oekraïne, en na die ineenstorting van die Sowjetunie het die vliegtuie daar gebly. Na besware van Rusland en samesprekinge het Oekraïne die vliegtuie en missiele behou maar 'n uitstaande gasrekening van Rusland is gekanselleer.

In Julie 1999 het die Russiese Minister van Verdediging een Tu-160 bestel, die prys was 45 miljoen roebel.

Tegniese besonderhede

wysig
 
Ortografiese projeksie van die Tupolev Tu-160
Besonderhede van die Toepolef Tu-160:
Item Statistiek
Aantal motors 4
Tipe motor Straalmotor
Vervaardiger Kuznetsov NK-321 turbowaaier
Kraglewering per motor 25 000 kg stukrag
Vlerkspan 55,7 m met vlerke wyd en 35,6 m met vlerke nou
Lengte 54,1 m
Hoogte 13,1 m
Vlerkoppervlakte 360,0 m2 (nou) – 400 m2 (wyd)
Maks. opstygmassa 275 000 kg
Maks. snelheid 2 220 km/h
Operasionele hoogte 15 006 m
Togafstand 12 300 km
Klimvermoë 70 meter per sekonde
Bewapening Tot 16 500 kg
ses Kh-55 landafstandmissiele
twaalf kortafstand Kh-55 missiele
vryval kern- of konvensionele wapens