Tom Mathews
Tom Mathews was ‘n prominente leiersfiguur van die vroeë Suid-Afrikaanse arbeidersbeweging.
Mathews is in 1866 in Newlyn, Cornwall gebore. In 1882 het hy na Montana in die VSA geëmigreer en spoedig by die plaaslike vakbonde en arbeiderpolitiek betrokke geraak in die Butte-afdeling van die Western Miners’ Federation. In 1892 is hy as Arbeiderkandidaat tot die deelstaatvergadering van Montana verkies. As enigste Arbeiderlid tussen twee ander strydende partye het hy ook die Speaker van die Huis geword. Daarby is Mathews vir die tydperk 1892-1894 as mynkommissaris aangestel. Na vyftien jaar in die VSA is hy terug na Cornwall om ‘n kursus aan die Camborne-mynskool te gaan voltooi.
In 1897 het Mathews na die Witwatersrandse goudvelde geëmigreer waar hy ook spoedig aan die voorpunt van die plaaslike arbeiderbeweging beland het. Van 1908 tot sy dood in 1915 was hy die algemene sekretaris van die Transvaal Miners’ Association (die voorloper van die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie) wat in 1902 gestig is. Die vakbond is aan die einde van 1913 herdoop tot die SAMWU. Mathews was prominent in die mynstaking van 1907, het ‘n hoofrol in die mynstaking van 1913 gespeel en was ondanks swak gesondheid ook op die voorgrond tydens die algemene staking van 1914. In 1913 was hy ‘n bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Arbeidersparty (SAAP).
Op 10 Maart 1915, op 48-jarige ouderdom, is Mathews aan myntering oorlede.
Bronnelys
wysig- DW Krüger (red), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Deel II, RGN, Pretoria, 1986, p. 464.
- RK Cope, Comrade Bill. The Life and Times of W.H. Andrews, Workers’ Leader, Stwart Printing Co., Cape Town, p. 1943, pp. 92-93.
- E Gitsham and JF Trembath, A First Account of Labour Organisation In South Africa, E.P. & Commercial Printing Co., Ltd., Durban, 1926, p. 160.
- IL Walker and B Weinbren, 2000 Casualties. A History of the Trade Unions and the Labour Movement in the Union of South Africa, SATUC, Johannesburg, 1961, p. 293.