Triumviraat
'n Triumviraat (Latyn: triumvirātus), triargie of driemanskap is 'n politieke instelling wat deur drie magtige mense oorheers of regeer word, soos wat in Latyn as triumvirs (triumviri) bekend is. Die reëling kan formeel of informeel wees.
Hoewel die drie veronderstel is om gelyk te wees, is dit in werklikheid selde die geval. Die term kan ook gebruik word om 'n staat te beskryf met drie verskillende militêre leiers wat almal daarop aanspraak maak dat hy die enigste leier is.
In die geval van die Sowjetunie en Rusland word die term troika (Russies vir 'n "groep van drie") gebruik.
Die term "triumviraat" word veral in die Romeinse geskiedenis gebruik vir die Eerste Triumviraat van Julius Caesar, Marcus Licinius Crassus en Pompeius, en die Tweede Triumviraat van Augustus Octavianus (later Caesar Augustus), Marcus Antonius en Marcus Aemilius Lepidus.
Voorbeelde van triumvirate of driemanskappe uit die geskiedenis:
- Die Driemanskap van 1813 het kortstondig (vanaf 20 November 1813 tot 6 Desember 1813) die huidige Nederland regeer aan die einde van die Napoleontiese tydperk, voordat Willem I van die Nederlande die troon bestyg het. Die driemanskap het bestaan uit Gijsbert Karel van Hogendorp, Frans Adam van der Duyn van Maasdam en Leopold van Limburg Stirum.
- Die Driemanskap was 'n groep leiers wat die Zuid-Afrikaansche Republiek van 1880 tot 1883 bestuur het totdat die Republiek herstel is nadat dit deur Brittanje geannekseer was. Die drie leiers was Paul Kruger as Onder-President, Piet Joubert as Kommandant-Generaal en Marthinus Wessel Pretorius.
Skakels
wysig- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.