Wikipedia:Voorbladartikel week 21 2011
Barnsteen of amber is 'n deursigtige, deurskynende of ondeursigtige, meestal goudgeel tot geelbruin edelsteen wat uit die verharde, gefossileerde hars van prehistoriese naaldbome gevorm is.
Barnsteen het tussen 50 en 260 miljoen jare gelede uit die taai vloeiende hars van bome ontstaan waarvan die bas gewond en daarna met hars verseël is om dit teen skadelike mikro-organismes te beskerm. Die hars het geleidelik tot 'n vaste, amorfe (dit wil sê nie-kristalliene) materiaal ontwikkel. Alhoewel barnsteen geen mineraal of gesteente is nie (dit is van organiese oorsprong en brandbaar), word dit nogtans as edelsteen beskou waaruit reeds in die vroeë geskiedenis van die mensheid sierade of kunswerke vervaardig is. Sommige van die oudste voorwerpe uit barnsteen, wat in Egipte ontdek is, is meer as 6 000 jaar oud.
Die mees befaamde pronkstuk uit barnsteen was die sogenaamde Barnsteenkamer in die Katharina-paleis naby Sint Petersburg wat uit die goudgeel Baltiese barnsteen vervaardig is en waarna dikwels as die Agste Wonder van die Wêreld verwys word. Dit het gedurende die Tweede Wêreldoorlog spoorloos verdwyn, maar kon tussen 1979 en 2003 deur Russiese deskundiges met behulp van geskiedkundige fotografieë uit Baltiese barnsteen gerekonstrueer word.
Terwyl barnsteen vroeër ook vir geneeskundige doeleindes gebruik is, het dit veral vir paleontoloë wetenskaplike betekenis aangesien klein diere en plantstukkies dikwels in vloeibare boomhars vasgevang en gefossileer is. Hulle is oor 'n tydperk van miljoene jare in barnsteenklontjies gepreserveer.
Deskundiges klassifiseer die meer as 250 verskillende soorte barnsteen volgens hulle vindplek, ouderdom en veral volgens die plante wat dit geproduseer het.