Wouter Basson

Suid-Afrikaanse geneesheer

Wouter Basson (6 Julie 1950) is 'n Suid-Afrikaanse geneesheer wat tydens die apartheidsjare die hoof van ’n geheime chemiese wapenprogram van die destydse regering was.[1] Die media het na hom as die "Gifdokter" en "Dokter Dood" verwys. Hy is in 2002 van 67 klagte teen hom vrygespreek, nadat hy in 1999 met volle salaris van sy militêre pos geskors is. Die staat se appèl teen die uitspraak en hul aansoek by die Grondwethof is van die hand gewys.

Wouter Basson
Gebore6 Julie 1950 (1950-07-06) (70 jaar oud)
NasionaliteitSuid-Afrika
BeroepKardioloog
Bekend virChemiese wapenprogram
TitelDr.

Basson is onder andere daarvan beskuldig dat hy 'n "dodelike driedubbele mengeldrankie" van kragtige spierverslappers verskaf het wat deur die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) tydens Projek "Coast" teen hulle vyande gebruik is. 'n Verslag van die Verenigde Nasies het die bestanddele van die mengeldrankie as ketamien, suksinielcholien, en tubokurarien geïdentifiseer.

In 2013, ná 'n 6 jare lange ondersoek, het 'n tugpaneel van die Raad op Gesondheidsberoepe hom op vier aanklagte van "onprofessionele" en "onetiese" gedrag skuldig bevind. Basson het hulle hof toe gesleep en gesê dat daar geen getuies teen hom geroep is nie. Vonnisoplegging kon gevolglik nie plaasgevind nie en is hy nie van die mediese rol geskrap nie.

Op 27 Maart 2019, ses jaar nadat Basson skuldig bevind is aan onetiese optrede deur 'n HPCSA-komitee, het die hooggeregshof in Gauteng beslis dat daar vooroordeel bestaan van die komiteelede wat die dissiplinêre verhoor voorgesit het. Die regter het beslis dat die verrigtinge (wat deur die HPCSA teen Basson ingestel is) onreëlmatig en onbillik was, en toon 'n totale miskenning van Basson se regte. Die verhoor (en dus die bevinding van onetiese gedrag deur die komitee) is dienooreenkomstig tersyde gestel.

Verdere naleeswerkWysig

  • Chandre Gould & Marlene Burger (2002). Secrets and Lies: Wouter Basson and South Africa's Chemical and Biological Warfare Programme. Struik Publishers. ISBN 978-1-86872-341-6.

VerwysingsWysig

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8