B.B. (Bertie) Brodrick, 'n Mynwerkersunie van Suid-Afrika (MWU)-trustee, is in 1941 na die ontslag van Fred Kukkuk as hoofsekretaris aangestel. Sy ampstermyn is deur MWU-lede as 'n “persoonlike diktatorskap” beskou. Daar was klagtes oor die eiegeregtigde optrede van die uitvoerende bestuur met betrekking tot die MWU se geldsake. Nie net is die lidmaatskapsgelde gedurende 1943 verdubbel nie, maar die outokratiese bestuur is in beheer geplaas van 'n vergrote inkomste wat hulle na willekeur kon aanwend. In daardie jaar het die uitvoerende bestuur ook 'n versekeringskema ingestel waartoe elke lid verplig was om 'n maandelikse bydrae te lewer om in die geval van die afsterwe van sodanige lid finansiële voorsiening vir sy weduwee te maak. Die beswaar van die mynwerkers teen die skema was egter dat hulle eise nooit gerealiseer het nie, aangesien Brodrick, wat in beheer daarvan was, meestal ongeldige verskonings aangevoer het om nie die uitbetalings te doen nie.

MWU-lede was woedend oor 'n gebrek aan salarisaanpassings en tweedens bitter ontevrede oor die MWU-bestuur se eiegeregtigde optrede en hulle gedienstigheid aan die wil van die Kamer van Mynwese (KVM). Oor die aanwending van fondse het daar ook spoedig weer 'n algemene klag van korrupsie en wanbeheer van fondse teen die bestuur van die MWU voortgevloei. Die outokratiese bestuurstyl van die Brodrick-bewind is verder onderstreep toe dit, ten spyte van vroeëre beloftes, in gebreke gebly het om die MWU-grondwet onder sy lede te versprei. Sodoende het die bestuur 'n belangrike regsbeginsel geïgnoreer en sy lede in die duister gehou aangaande die bepalings van die grondwet.

Hierdie ongeruimdhede het onder andere daartoe gelei dat die regering die Williamson Kommissie van Ondersoek na die aangeleenthede van die MWU in April 1946 ingestel het. Intussen is Brodrick in Mei 1946 summier van sy amp as hoofsekretaris onthef. Die Williamson-kommissie het op die volgende sake gesentreer: die onbevredigende wyse waarop ledegeld hanteer is; die gebrek aan amptelike inligting oor inkomstes en uitgawes veral met betrekking tot plaas- en behuisingskemas van die MWU; die onreëlmatige wyse waarop die uitvoerende bestuur die aankope, verkope, verspreiding van produkte en ander kommoditeite van die MWU-plase hanteer het; die wyse waarop aanstellings in die bestuur en veral dié van die hoofsekretaris gemaak is; die hoë salarisse en toelaes wat hierdie amptenare ontvang het en die ondemokratiese en aanmatigende wyse waarop die hoofsekretaris, die uitvoerende bestuur en die betaalde beamptes opgetree het.

Die kommissieverslag het bevind dat die mynwerkers verhinder is om op hoogte te bly van die finansiële posisie van die MWU.  Maand- en balansstate is nie aan hulle voorgelê nie, terwyl die ouditeursverslag ook (soos teen 1941) só opgestel is dat gewone lede moeite ondervind het om iets daaruit wys te word. Die onnoukeurige wyse waarop die MWU se boekhoudingstelsel op datum gehou is en die wye magte waaroor die uitvoerende bestuur met betrekking tot finansiële sake beskik het, het hoofsaaklik tot die finansiële chaos in die MWU bygedra. Ofskoon die MWU 'n jaarlikse toekenning van die KVM ook vir behuising- en ander skemas kon aanwend, het hierdie bepaling tot 'n grootskaalse spekulasie in plase, waarvan sommige oneffektief en onproduktief geadministreer is, aanleiding gegee.

Die hoofsekretaris het 'n aandeel aan die swak administrasie gehad omdat hy versuim het om weeklikse vergaderings tussen hom en die organiseerders te belê. Op vergaderings wat wel belê is, het die betaalde amptenare die uitvoerende bestuur slegs met feite gekonfronteer sodat daar geen sprake van wedersydse oorlegpleging was nie en persoonlike ambisies toegelaat is om die botoon te voer. Brodrick is juis deur die algemene raad ontslaan as gevolg van sy slegte taalgebruik, sy aggressie teenoor die mynwerkers, sy neerbuigende houding teenoor die uitvoerende bestuur en die algemene raad en die feit dat sy optrede nie in belang van die mynwerkers was en ook nie altyd bo verdenking gestaan het nie. So het mynwerkers getuig dat Brodrick gedreig het om hulle te skors indien hulle teenstrydig met sy wense sou optree, terwyl 'n MWU-sekretaresse getuig het dat hy dikwels die notules verander en vervals het.

Bronnelys

wysig
  • Nasionale Argief van Suid-Afrika, Pretoria, K 145, MWU Commission of Inquiry, 1946-1948, Band 1, Minutes of Meetings and Verbatim Reports, Minute Book, Vol.I: Minutes of the twenty-first meeting, 6.5.1946, pp. 5, 7-8.
  • Ibid., Band 3, Lêer III, Memoranda: Mine Workers” Union, ongedateerd, p. 1 en Memorandum of Agreement, 20.9.1944.
  • (UG) 36-1946 Union of South Africa: Report of the Mine Workers’ Union Commission of Enquiry 1946, pp. 2-6, 10, 15, 21-22.
  • Die Mynwerker, Junie 1941, pp. 3-7 (Kameraad B.B. Brodrick, Alg. Sekretaris, Antwoord op die Kommissie se Verslag)
  • L. Naudé, Dr. A. Hertzog, die Nasionale Party en die Mynwerkers, NRT, Pretoria, 1969, pp. 202-205.
  • D. O’ Meara, Volkskapitalisme. Class, Capital and Ideology in the Development of Afrikaner Nationalism 1934-1948, Ravan Press, Johannesburg, 1983, p. 93.
  • R.H. Davies, Capital, State and White Labour in South Africa 1900-1960. An Historical Materialist Analysis of Class Formation and Class Relations, Humanities Press, New Jersey, 1979, pp. 301-302.
  • L. de Kock, “Die Stryd van die Afrikaner in die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie aan die Witwatersrand, 1936-1948”, Ongepubliseerde MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, 1983, pp. 171-173, 190-193.
  • The Star, 22.6.1946, pp. 1, 5 (Commission Reports on Mine Union Affairs).
  • Sunday Times, 23.6.1946 (Irregularities Alleged by Mineworkers’ Union Commission).
  • Die Transvaler, 24.6.1946 (Bestuur van Mynbond was Beroerd).

Sien ook

wysig