F.H. Kukkuk

Suid-Afrikaanse arbeidsaktivis

F.H. (Fred) Kukkuk was eers waarnemende hoofsekretaris in die plek van Charles Harris voor hy na Harris se dood, as die nuwe hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU), deesdae bekend as Solidariteit, aangestel is.

As ‘n organiserende sekretaris van die vakbond was Kukkuk ‘n SAAP-ondersteuner en bittere teenstander van die Nasionaal-gesinde ABM en Hervormingsorganisasie in die MWU. In April 1940 is hy met 26 stemme bo Faas de Wet van die Hervormers as die nuwe hoofsekretaris van die MWU verkies.

Kukkuk, wat ook ‘n ouderling in die Gereformeerde Kerk was, is in 1899 in Ladybrand in die Vrystaat gebore. Hy het eers betrekkinge op die Spoorweë te Bloemfontein en die Gevangenisdiens in Durban beklee voordat hy in 1923 na die Witwatersrand gekom het waar hy ‘n mynwerker in die Village Deep-, Crown Mines en CMR-goudmyne was. In 1927 is hy tot die algemene raad van die MWU verkies en het vanaf 1932 in die uitvoerende bestuur gedien. In 1934 is hy as organiseerder vir Sentraal-Rand aangestel.

Onder die Kukkuk-bewind het die administrasie van die MWU egter spoedig verkeerd geloop. Reeds tydens sy verkiesing as hoofsekretaris was daar bewerings oor onreëlmatige verkiesingsprosedures en stembusbedrog. Klagtes oor die administrasie en sake van die MWU, die outokratiese optrede van die vakbondbestuur, onbevoegde amptenare wat in bestuursposte aangestel is en swak finansiële bestuur, wanbestuur en wanbesteding van MWU-fondse, asook ‘n verwaarlosing van pligte deur amptenare, het ook na vore gekom. Gevolglik was die staat genoop om ‘n amptelike kommissie van ondersoek na aanleiding van die klagtes in 1941 in te stel. Die kommissie het uiteindelik bevind dat daar inderdaad finansiële wanbestuur in die MWU plaasgevind het. Daar was talle finansiële wanpraktyke, korrupsie en geldverkwisting. Groot bedrae geld is vir lang periodes nie reg gebank nie en organiseerders kon nie rekenskap gee van geld wat hulle ingevorder het nie.

Die kommissie het verder bevind dat ‘n gebrek aan opleiding in besigheids- en administratiewe vaardighede, tesame met sy drankprobleem, die hoofsekretaris onbevoeg gemaak het om sy verantwoordelike pligte op bekwame wyse uit te voer. Gevolglik is Kukkuk in April 1941 summier uit die amp van hoofsekretaris ontslaan. Bertie Brodrick, ‘n MWU-trustee, is in sy plek aangestel.

Bronnelys

wysig
  • Nasionale Argief van Suid-Afrika, Pretoria, (SAB) K6, Band 2, Verbatim Reports, Vol.8: S Schoeman testifies (8 November 1940), pp. 493-522, 544-547.
  • Ibid., Vol.9: S Schoeman testifies (12 November 1940), pp. 518, 552, 558-559, 586, 593-594, 603-608, 611-615, 630-631.
  • Ibid., Vol.10: JS de Wet testifies (13 November 1940), pp. 650, 661-663.
  • Ibid., Vol.11: JS de Wet testifies (14 November 1940), pp. 766-774, 776.
  • Ibid., Vol.12: JS de Wet testifies (18 November 1940), pp. 787-795.
  • Ibid., CC Hudson testifies (18 November 1940), pp. 854, 866, 871.
  • Ibid., Vol.14: (20 November 1940), pp. 1023, 1025, 1027, 1029.
  • Ibid., Band 3, Verbatim Reports, Vol.19: JJ Grobler testifies (4 December 1940), pp. 1558, 1560-1564, 1566.
  • Ibid., Band 4, Lêer VI, Final Reports, findings and recommendations (7 January 1941), pp. 1-6, 9-10, 14, 27, 29-47, 57-75 en Findings and Recommendations, pp. 3, 5-6.
  • MWU-Argief, Pretoria, Minutes of Annual General Council Meeting, 28-29.4.1941, p. 4.
  • L Naudé, Dr. A. Hertzog, die Nasionale Party en die Mynwerkers, NRT, Pretoria, 1969, pp.142-143, 151-170.
  • L de Kock, “Die Stryd van die Afrikaner in die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie aan die Witwatersrand, 1936-1948”, Ongepubliseerde MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, 1983, pp. 144-150.
  • RH Davies, Capital, State and White Labour in South Africa 1900-1940. An Historical Materialist Analysis of Class Formation and Class Relations, Humanities Press, New Jersey, 1979, p. 300.
  • Die Mynwerker, Julie 1939, p. 4 (Foto)
  • Ibid., November 1939, pp. 4-5 (FH Kukkuk; Conciliation in our ranks) en (FH Kukkuk: Vrede in ons Unie).
  • Ibid., Desember 1939, p. 11 (Aan Julle Bekend-1).
  • Ibid., Januarie 1940, p. 3 (Hoofartikel), pp. 6-8 (FH Kukkuk: Vir wie moet die mynwerker stem?), (L Beneke: Letter from a miner) en BB Brodrick: Antics of the Performers), p. 22 (L Cronje: Louis Cronje se aanval op Hervormers).
  • Ibid., Junie 1940, pp. 25-26 (FH Kukkuk: Verduideliking van die Algemene Sekretaris).
  • Ibid., Junie 1941, pp. 26-32 (Bevindings en Aanbevelings van die Mynwerkersunie-Kommissie, 1941).
  • Rand Daily Mail, 20.1.1940 (Support for Mr. Kukkuk).

Sien ook

wysig