Bethlehem-museum
Die Bethlehem-museum, ‘n kultuur-historiese dorpsmuseum in die Vrystaat, word gehuisves in die voormalige Nazareth-sendingkerk. Hierdie op een na oudste kerkgebou van die NG-sendingkerk in die provinsie dateer uit 1906, is gebou op inisiatief van ds. H.A. Roux en bestaan uit blou ysterklip.
Om saam te val met die dorp Bethlehem se eeufeesviering is die museum op 14 Februarie 1964 geopen.
Veral items uit die geskiedenis van die dorp, sy gemeenskap en omstreke in die noordooste van die provinsie word uitgestal, soos plaasgereedskap, meubels. Voortrekkerklere, huisorrels, draaiorrels, ‘n “Edison talking machine”, kantoorgereedskap, horlosies en skilderye. Opvallend is die landswapen van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. In die versameling wapens is Westley-Richards-pistole, voorlaaiers, Duitse mausers, kruithorings en ‘n kruitwa. In 1972 het die spoorweë ‘n stoomlokomotief gemaak deur die Sharp-Stewart-maatskappy in Skotland aan die dorp geskenk. Dit is sedert 1896 op die spoortrajek tussen Kaapstad en Mafeking gebruik.
Bibliografie
wysig- Fransen, Hans (samesteller): Guide to the museums of Southern Africa. Kaapstad: Southern African Museums Association, 1978.