Beverly Hills, Kalifornië
Beverly Hills is ’n onafhanklike welvarende voorstad van Los Angeles, Kalifornië, waar baie beroemde rolprentsterre woon.[1] Volgens algemene reg is dit 'n stad en munisipaliteit[2] in die distrik Los Angeles County van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië. Sy stadsgebied word volledig omsluit deur die buurstede Los Angeles en West Hollywood (wat self ook byna volledig deur Los Angeles omsluit word).
Ligging in Kalifornië | Seël |
Vlag | |
Land | Verenigde State |
Deelstaat | Kalifornië |
County | Los Angeles County |
Koördinate | 34°4′23″N 118°23′58″W / 34.07306°N 118.39944°W |
Stigting | 1914 |
Geïnkorporeer op | 28 Januarie 1914 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 14,79 vk km |
Hoogte bo seevlak | 79 m |
Bevolking: | |
- Totaal (skatting 2015) | 34 870 |
- Bevolkingsdigtheid | 2357,7/vk km |
Tydsone | PST (UTC -8) Somertyd: PDT (UTC -7) |
Klimaat | |
- Tipe | Mediterreense klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 17,7 °C |
- Gem. temp. Januarie/Augustus | 14 / 22,4 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 374 mm |
Burgemeester | Julian A. Gold |
Amptelike Webwerf | Beverly Hills |
Die gebied het oorspronklik deel uitgemaak van 'n Spaanse plaas en is vir die verbouing van limabone aangewend. In 1914 is Beverly Hills deur 'n groep beleggers geïnkorporeer wat op soek na 'n oliebron was, maar in plaas daarvan op water afgekom en besluit het om die plek as 'n nedersetting te ontwikkel.
In 2015 het Beverly Hills, waarna ook dikwels as "90210" verwys word (na aanleiding van een van sy hoofsaaklike poskodes), 'n bevolking van 34 870 gehad. Die stad, wat as een van die welvarendstes in die Verenigde State beskou word, staan onder meer bekend vir sy Rodeo Drive-winkeldistrik en die Beverly Hills-olieveld, een van min wat temidde van 'n stadsgebied geleë is en steeds ontgin word.
Beverly Hills se ekonomiese basis vergelyk gunstig met dié van groter nedersettings met enkele honderdduisend inwoners. Saam met pendelaars, wat bedags na die stad stroom, het Beverly Hills tydens dagure 'n bevolking van tussen 150 000 en 200 000. As 'n sogenaamde voldiens-gemeenskap verskaf die munisipaliteit aan sy burgers alle dienste soos polisie, brandweer, watervoorsiening en -suiwering, afvalverwydering en bouinspeksie. Beverly Hills het daarnaas sy eie skooldistrik met sommige van die beste skole in die hele Verenigde State.[3]
Verwysings
wysig- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- ↑ Nota: Vir nedersettings in Kalifornië word die terme stad (city) en dorp (town) as sinonieme gebruik. Die munisipale bevoegdhede van nedersettings volgens algemene reg word deur die deelstaat se Government Code (ook California Codes genoem) bepaal.
- ↑ www.beverlyhills.org: About Beverly Hills. Besoek op 10 Maart 2016
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Beverly Hills, Kalifornië.