Britse Ambassade in Berlyn
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Die Britse Ambassade in Berlyn is die hoofsetel van die Verenigde Koninkryk se diplomatieke sending in die Bondsrepubliek Duitsland. Dit is geleë in die stadsdistrik Mitte in Wilhelmstraße 70-71, naby die Hotel Adlon en die Brandenburgse Poort. Die huidige ambassadeur en amptelike verteenwoordiger van Haar Majesteit, Koningin Elizabeth II, en die Regering van die Verenigde Koninkryk is Sir Sebastian Wood, KCMG wat die pos sedert September 2015 beklee.
Die Britse sending word in 'n postmoderne gebou gehuisves wat deur die Londense argitek Michael Wilford ontwerp en in 2000 deur koningin Elizabeth II ingewy is wat in 1992 ook die hoeksteen gelê het. Dit was die eerste keer dat 'n Britse ambassaade deur 'n regerende monarg amptelik geopen is.[1] Dit is ook die eerste ambassade in Duitsland wat deur privaat beleggers befonds is en aan die Britse sending verhuur word.[2]
Die gebou het op die perseel van die vroeëre Britse ambassade in Berlyn ontstaan wat vanaf 1876 tot die Tweede Wêreldoorlog bestaan het en destyds in die spoorwegentrepreneur Bethel Henry Strousberg (1823–1884) se paleis (Palais Strousberg) gevestig is.[3] Aanvanklik was dit 'n gehuurde eiendom wat eers in Desember 1884 deur die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland gekoop is.
Die gebou is gedurende die Tweede Wêreldoorlog ernstig beskadig deur geallieerde lugaanvalle en in 1950 volgens 'n besluit van die destydse Oos-Duitse owerheid afgebreek – ondanks sy oorspronklike status as historiese monument. Die perseel het vervolgens deel uitgemaak van die versterkte grens tussen Oos- en Wes-Berlyn, maar was desondanks steeds in Britse besit.[4]
Verwysings
wysig- ↑ (en) BBC News, 18 Julie 2000: Queen opens Berlin embassy. Besoek op 15 Oktober 2017
- ↑ (de) openbuildings.com: British Embassy in Berlin. Besoek op 15 Oktober 2017
- ↑ (de) Berlin Online: Sehenswürdigkeiten – Britische Botschaft. Besoek op 15 Oktober 2017
- ↑ (en) Historic Berlin – the Ultimate Guide to the Berlin of Yesteryear: The British Embassy, where a message from London changed world history. Besoek op 15 Oktober 2017
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Britse Ambassade in Berlyn.
- (en) Webwerf van die Britse verteenwoordiging in Duitsland
- (en) Webwerf van die Britse Ambassade in Berlyn