C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS)

C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS) is 'n komeet van die Oortwolk wat op 9 Januarie 2023 onafhanklik deur die Purple Mountain-sterrewag en die asteroïedwaarskuwingstelsel ATLAS in Suid-Afrika ontdek is. Die komeet sal op 27 September 2024 tydens perihelium 0,39 AE van die Son af wees[1][3] en sal dan met die blote oog sigbaar wees.[5][6][7]

C/2023 A3 (Tsuchinshan–ATLAS)

Komeet C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS) op 26 April 2024.
Ontdekking
Ontdek deur: Purple Mountain-sterrewag
ATLAS Suid-Afrika
Ontdekkingsdatum: 9 Januarie 2023[1]
Alternatiewe name: A10SVYR
Wenteleienskappe A
Afelium: 90 000+ AE[2]
Perihelium: 0,3914 AE[3]
Eksentrisiteit: 1,000008 (epog 2200)
Wentelperiode: Miljoene jare
Maks. wentelspoed: 67,33 km/s @ perihelium[3]
Baanhelling: 139,1°
Volgende perihelium (voorspel): 27 September 2024 18:00 ± 20 minute[3][4]

Waarnemingsgeskiedenis

wysig

Tydens 'n soektog deur die asteroïedwaarskuwingstelsel ATLAS by Sutherland in Suid-Afrika is 'n asteroïedagtige voorwerp met 'n geraamde magnitude van 18,1 waargeneem op foto's wat op 22 Februarie 2023 geneem is, toe die komeet sowat 7,3 AE van die Son af was.[8] Nadat die eerste berekenings van sy wentelbaan gedoen is, is opgemerk dit was dieselfde as 'n voorwerp met 'n magnitude van 18,7 waaroor die Kleinplaneetsentrum by die Purple Mountain-sterrewag berig het. Dié is gesien op foto's wat op 9 Januarie 2023 geneem is. Dit is later as verlore beskou omdat dit nie weer opgemerk is nie.[8] Gebaseer op die naamgeekonvensie vir komete, is dit na albei sterrewagte genoem.[8]

Die voorwerp is daarna waargeneem op foto's wat op 22 Desember 2022 deur die Zwicky Transient Facility (ZTF) in die Palomar-sterrewag geneem is, toe dit 'n magnitude van 19,2-19,6 gehad het. Dié foto's het ook onthul dat dit 'n baie gekondenseerde koma en 'n klein stert gehad het, wat daarop dui dat dit 'n komeet is.[1]

 
Komeet C/2023 A3 (Tsuchinshan–ATLAS) soos waargeneem op 10 Mei 2024.

Toe die ontdekking aangekondig is, is geraam dat die komeet 'n totale magnitude van 3 sal hê tydens perihelium.[8] Sy maksimum helderheid kan bereik word drie weke ná perihelium, in middel Oktober, wanneer dit na raming van die vierde magnitude sal wees.[8] Hersiene data van Junie 2024 dui daarop dat die komeet 'n skynbare magnitude van 2,2 kan hê, wat die gemiddelde helderheidstempo van langperiodekomete in die binneste Sonnestelsel is. Dit kan egter 'n magnitude helderder wees danksy verstrooiing na vore.[9]

Die komeet het teen Januarie 2024 'n skynbare magnitude van 13,6 bereik en volgens Bob King was dit sigbaar deur 15-duim-teleskope met 'n vergroting van x142.[10] Die komeet het toe deur die sterrebeelde Weegskaal en Maagd beweeg.[10] Teen einde April het dit 'n magnitude van sowat 10 bereik en kon dit deur klein teleskope gesien word. 'n Kort stert was sigbaar.[11]

In Mei en Junie het die verheldering afgeneem, en die komeet het tussen magnitudes 10 en 11 gebly. 'n Stowwerige stert van 5 tot 15 boogminute het ooswaarts gestrek.[9] In middel Junie het die komeet die sterrebeeld Leeu binnegegaan en daarna sal dit in die gloed van die Son verdwyn tot laat in September.[10]

In die laaste week van September sal dit soggens gesien kan word. Dit sal beter sigbaar wees in die Suidelike Halfrond, en dit sal na voorspelling tot die tweede magnitude verhelder het. Perihelium vind plaas op 27 September.[10] Op 9 Oktober 2024 sal die komeet 3,5 grade van die Son af wees.[12] Dit sal middel Oktober in die aandlug sigbaar wees.[10]

Wentelbaan

wysig

Die komeet het 'n retrograde wentelbaan en 'n baanhelling van 139°. Dit bereik op 27 September 2024 sy perihelium, op 'n afstand van 0,391 AE. Die naaste afstand aan die Aarde sal op 12 Oktober 2024 wees: 0,47 AE (minder as die helfte van die afstand tussen die Aarde en die Son). Dit sal nie naby enige reuseplanete in die Sonnestelsel kom nie.[8] Die swak hiperboliese baan kan tot gevolg hê dat die komeet uit die Sonnestelsel gewerp word. In die jaar 2237 sal dit na verwagting 200 AE van die Son af wees.[13]

Verwysings

wysig
  1. 1,0 1,1 1,2 "MPEC 2023-D77 : COMET C/2023 A3 (Tsuchinshan–ATLAS)". minorplanetcenter.net. Besoek op 1 Maart 2023.
  2. Horizons output. "Barycentric Osculating Orbital Elements for Comet C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS)". Besoek op 1 September 2023.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 "Horizons Batch for C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS) on 2024-Sep-27" (Perihelion occurs when rdot flips from negative to positive). JPL Horizons. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 April 2023. Besoek op 1 September 2023. Perihelion as defined at epoch 2024-Sep-01 is QR= 3.91402E-01 (0.3914 AU).
  4. "Small-Body Database: C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS)". ssd.jpl.nasa.gov. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2023. Besoek op 1 September 2023.
  5. D'Anna, Pasquale (28 Februarie 2023). "Arriva una nuova cometa forse visibile ad occhio nudo!". Passione Astronomia (in Italiaans). Besoek op 1 Maart 2023.
  6. "New comet – C/2023 A3 – could be bright in 2024". earthsky.org. 3 Maart 2023. Besoek op 8 April 2023.
  7. King, Bob (16 Maart 2023). "Anticipating Comet Tsuchinshan-ATLAS (C/2023 A3)". Sky and Telescope. Besoek op 8 April 2023.
  8. 8,0 8,1 8,2 8,3 8,4 8,5 "Electronic Telegram No. 5228". Central Bureau for Astronomical Telegrams. 28 Februarie 2023. Besoek op 1 Maart 2023.
  9. 9,0 9,1 Green, Daniel (17 Junie 2024). "Electronic Telegram No. 5404: COMET C/2023 A3 (TSUCHINSHAN-ATLAS)". Central Bureau for Astronomical Telegrams. Besoek op 21 Junie 2024.
  10. 10,0 10,1 10,2 10,3 10,4 King, Bob (31 Januarie 2024). "The best comets in 2024". Sky and Telescope. Besoek op 3 Februarie 2024.
  11. Atkinson, Stuart (26 April 2024). "Have you seen Comet C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS) yet? We've been keeping an eye on it..." www.skyatnightmagazine.com (in Engels). Besoek op 13 Mei 2024.
  12. "Horizons Batch for C/2023 A3 (Tsuchinshan-ATLAS) Solar elongation on 2024-Oct-10". JPL Horizons. Besoek op 3 Maart 2023.
  13. C/2023 A3 outbound at 200 AU

Skakels

wysig