Datavleg (Internet)

Datavleg (Engels: mashup) is 'n webwerf waarin dié inhoud daarvan geskep word deur die integrasie van inligting vanuit meer as een bron. Die resultaat kan 'n nuwe en vindingryke webgebaseerde diens verteenwoordig.

Oorsig

wysig

'n Datavlegtoepassing is 'n voorbeeld van die Web 2.0 wat deur sommige waarnemers beskou word as 'n voorbeeld van die rigting waarin die web ontwikkel. Dit is ook 'n voorbeeld van interaktiewe webtoepassings wat gebaseer is op inhoud van eksterne datavelde om totaal nuwe dienste te skep.

Hierdie tipe dienste is besig om 'n toenemend gewilde verskynsel op die web te word. Datavleg se gewildheid word toegeskryf aan interaktiewe gebruikersdeelname en die unieke samevoeging van derdepartydata.

'n Rigiede beskrywing en definisie van datavleg is nie op hierdie stadium moontlik nie aangesien dit 'n dinamiese en vinnig ontwikkelende veld verteenwoordig. Die oorsprong van die term in Engels (mashup) gee ook insig in die agtergrond van dié term. Dit word geleen van pop-musiek waar 'n mashup beskou word as 'n nuwe liedjie wat geskep word deur die vermenging van vokale en instrumentele snitte van twee verskillende liedjies (gewoonlik ook van verskillende musiekgenres). Soos die vervlegte liedjies, word datavleg daargestel deur die innoverende samestelling van inhoud (gewoonlik van nie verwante data), saamgestel vir menslike (eerder as rekenaar-) verbruik.

Datavleggenres

wysig

Kaartdatavleg

wysig

Bemagtig deur inligtingstegnologie is mense besig om groot hoeveelhede data te versamel wat verbind kan word met spesifieke plekke. Sodanige diverse data kan grafies op kaarte voorgestel word. Een van die grootste kataliste vir datavleg was Google se bekendstelling van Google Maps-programmeerkoppelvlak (API). Dit het dit vir webontwikkelaars (insluitende stokperdjie beoefenaars) moontlik gemaak om alle tipes data (enigiets van kernongelukke tot Boston se CowParade-koeie) op kaarte voort te stel. Dit is gevolg deur bekendstelling van koppelvlakke deur Microsoft (Virtual Earth), Yahoo (Yahoo Maps), en AOL (MapQuest).

Video- en fotodatavleg

wysig

Die ontstaan van webwerwe wat foto's en sosiale netwerke huisves soos Flickr met koppelvlakke wat die deel van foto’s moontlik maak, het tot 'n verskeidenheid van datavlegtoepassings gelei. Aangesien inhoudverskaffers metadata assosieer met die beelde (soos wie die foto geneem het, waar en wanneer dit geneem is en so meer) kan ontwerpers foto’s vervleg met ander inligting wat verbind kan word met die metadata. 'n Datavlegtoepassing mag byvoorbeeld die lirieke van 'n liedjie of gedig analiseer en 'n mosaïek of collage van relevante foto's skep of 'n sosiale netwerk vertoon gebaseer op 'n foto se metadata (soos voorwerp, datumstempel, en ander metadata). Nog 'n voorbeeld kan wees indien inset van 'n webwerf (soos 'n nuus webwerf, soos CNN) geneem word en die teks in foto's omgeskakel word deur metedata van foto’s te vergelyk met woorde gebruik in die nuus.

Soek-en-koop-datavleg

wysig

Soek en koop datavlegtoepassings bestaan reeds voor die term datavleg (mashup) geskep is. Voor die bestaan van Web-koppelvlakke het vergelykende aankoop instrumente soos BizRate, PriceGrabber, MySimon, en Google's Froogle gebruik gemaak van besigheid tot besigheid (b2b) tegnologië of skermskraaptegnologie om vergelykende prysdata weer te gee. Ten einde soek-en-koop-datavleg te fasiliteer het verbruikerswebwerwe soos eBay en Amazon hul API's vrygestel sodat inhoud makliker in sulke programmering benut kan word.

Nuusdatavleg

wysig

Nuusvoorsieners (soos die New York Times, BBC, of Reuters) gebruik sindikasietegnologie soos RSS en Atom sedert 2002 om nuusverspreidingtoevoere oor verskeie onderwerpe daar te stel. Gesindikeerde toevoer datavlegdienste stel gebruikers in staat om verpersoonlikte "koerante" te skep wat die gebruiker se spesifieke behoeftes aanspreek. 'n Voorbeeld is Diggdot.us wat toevoere kombineer van tegnologie georiënteerde nuusbronne Digg.com, Slashdot.org, en del.icio.us.