Die Afrikaanse Patriot

(Aangestuur vanaf Die Patriot)

Die Afrikaanse Patriot was die eerste Afrikaanse koerant. Die eerste uitgawe is op 15 Januarie 1876 onder redaksie van C.P. Hoogenhout in die Paarl gepubliseer, hoofsaaklik as mondstuk van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).[1] Dit was aanvanklik 'n maandelikse tydskrif, maar is twee jaar later in 'n weeklikse publikasie omskep.[2]

Voorblad van "Die Afrikaanse Patriot", 'n koerant in 'n vroeë vorm van die Afrikaanse taal.

Die eerste uitgawe het slegs 50 intekenaars gehad. Die koerant is sterk veroordeel omdat dit Afrikaans as 'n literêre taal bevorder het. Destyds is Afrikaans as 'n kombuisweergawe van Nederlands beskou.[3] Teen die derde jaar het die aantal inskrywings na 3 000 gestyg. Die ondersteuning was hoofsaaklik aan die lesers in die Transvaalse Republiek te danke.[3]

Die koerant het baie van sy lesers in 1892 verloor nadat dit Cecil Rhodes in sy konflik teen Paul Kruger, destyds die president van Transvaal, ondersteun het. Die Afrikaanse Patriot moes uiteindelik sy deure in 1904 sluit.[3]

Die Afrikaanse Patriot is later deur die Paarl Post opgevolg.

Verwysings

wysig
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. "Die Patriot is published in Paarl" (in Engels). South African History Online. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 23 September 2014.
  3. 3,0 3,1 3,2 Pieter J. Fourie (1 September 2008). Media Studies: Media history, media and society. Juta and Company Ltd. p. 34. ISBN 978-0-7021-7692-0.