Endless
Die Endless is 'n gesin van kosmiese wesens wat in die Amerikaanse strokiesboeke verskyn wat deur DC Comics gepubliseer word. Die lede van die gesin, van oud tot jonk, is: Destiny, Death, Dream, Destruction, Desire, Despair en Delirium.
Die karakters van die Endless is deur Neil Gaiman geskep en het die eerste keer in die strokiesboekreeks The Sandman (1989-'96) verskyn. Hulle verteenwoordig natuurlike kragte in die DC Universe. Hulle word uitgebeeld as van die magtigste wesens in die wêreld van dié karakters[1] en verskil in dié heelal van gode, wat deur sterflikes se geloof geskep is. Die karakter Dream is die hoofkarakter van The Sandman-reeks, maar al die Endless-karakters speel groot rolle.
Die Endless is 'n disfunksionele gesin van sewe sibbes. Hulle verskyn in verskillende vorme, maar word meestal uitgebeeld met 'n wit vel en swart hare, met die uitsondering van die rooikoppe Delirium en Destruction. Hulle voorkoms verander dikwels om te voldoen aan die verwagtings van dié wat hulle ontmoet of die situasie waarin hulle is.[2]
Funksies en domeine
wysigIn die strokiesboeke bestee die Endeless die grootste deel van hulle tyd aan die vervulling van hulle funksies as verteenwoordigend van natuurlike kragte. Death lei byvoorbeeld die siele van afgestorwenes weg van die ryk van die lewendes, terwyl Dream toesig hou oor die ryk van drome, nagmerries en verbeelding. 'n Merkwaardige faset van hulle uitbeelding is dat hulle nie "verteenwoordigend" of "verpersoonlikings" van hulle funksies is nie; as kosmiese wesens ís hulle bloot hulle funksies.
Sommige van die Endless is meer toegewyd aan hulle werk as ander. Die jonger Endless, veral Desire, meng dikwels in in die sterflikes se lewe. Destruction, ook bekend as "The Prodigal," het sy pligte heeltemal gestaak.
Die Endless
wysigDie Endless het nie eiename nie, hoewel Dream verskillende name vir homself gebruik. Die sibbes word elk uitgeken aan sy funksie.
- Destiny,[3] die oudste van die Endless, is 'n blinde man in 'n grys of bruin kleed (pers in die vroeë strokies) en hy dra 'n groot boek, die Cosmic Log. Die boek is aan hom vasgeketting (of hy aan die boek) en in die boek is die hele bestaan neergeskryf – die verlede, hede en toekoms. Destiny lyk of hy die meeste van die Endless toegewyd is aan sy funksie en verantwoordelikhede. Destiny is die enigste sibbe wat nie in The Sandman ontstaan het nie; hy is in 1972 deur Marv Wolfman en Bernie Wrightson geskep vir Weird Mystery Tales.[4][5]
- Death is 'n besadigde Gotiese vrou. Sy dra 'n silwer anch (wat die hiernamaals verteenwoordig), en dit is haar simbool. Sy het 'n merk soortgelyk aan die Oog van Horus om haar regteroog. Haar domein is die Sunless Lands. Sy kom beter as die ander Endless met Dream oor die weg. Sy bring een dag per eeu as 'n sterfling op aarde deur, waar sy lewe en sterf. Sy is sag en vriendelik met byna almal; as 'n mens haar teëkom as jy sterf, is dit "soos om 'n ou vriend te ontmoet".
- Van Dream is daar twee weergawes:
- Dream (Morpheus) word uitgebeeld as beide lord en die heerser van alle drome en fiksieverhale. Sy gesig en liggaamsbou is gebaseer op 'n mengsel van dié van Neil Gaiman in sy 20's, Robert Smith, voorsanger van The Cure, die balletdanser Faroech Roezimatof[6][7] en Peter Murphy, voorsanger van Bauhaus.[8] Dream is 'n lang, bleek man met wilde, donker blouswart hare. Hy dra 'n vormlose mantel. Sy oë is poele skadu's met ligflikkers in. Hy is onder baie name bekend, veral "Morpheus".
- Dream (Daniel) is Morpheus se opvolger. Hy is ook 'n lang, bleek man, maar het wit hare en dra wit klere. Nes Morpheus, is sy oë poele skadu's met ligflikkers in die middel. Voordat hy die nuwe Dream geword het aan die einde van The Sandman, was hy 'n jong seun met die naam Daniel. Hy is die kind van Lyta Trevor-Hall en die spook Hector Hall en is in 'n droom verwek. Sy benadering is sagter as Morpheus s'n. Sy simbool bly dieselfde: die droomhelm.
- Destruction is 'n groot, sterk man met rooi hare. Hy het soms 'n baard en soms nie. Destruction het sy pligte as 'n Endless 300 jaar gelede gestaak en onmin onder die sibbes veroorsaak. Die ander Endless noem hom sedertdien "the Prodigal" of "Brother" in plaas van "Destruction". Hy wil graag kreatief en produktief wees, maar het nie die vermoë nie. Sy simbool is 'n swaard.
- Desire is androgeen; sy kan verskyn as óf 'n man óf 'n vrou óf nie een van die twee nie óf albei. Desire het 'n wrede streep en kom nie goed met Dream oor die weg nie. Hulle verhouding het eons gelede versuur nadat Desire Dream verlief laat raak het op 'n vrou wat hom eindelik vir iemand anders verlaat het. Desire se simbool is 'n silwer gekleurde glashart en hulle woon in "The Threshold". Hoewel Desire en Despair 'n tweeling is, is Desire in 'n sin ouer as Despair.
- Despair en Desire is 'n tweeling. Despair het twee weergawes:
- Die Eerste Despair het baie soos haar latere weergawe gelyk, maar sy was langer en het tatoes gehad. Sy was ook spraaksamer en meer selfversekerd as later. Daar word geskimp dat sy verantwoordelik kon gewees het vir die vernietiging van die planeet Krypton (waar Superman vandaan kom) as 'n manier om die uiterste wanhoop te skep. Daar is gesuggereer dat sy vermoor is en dat die een wat daarvoor verantwoordelik was, sal ly tot aan die einde van die lewe.[9]
- Die Tweede Despair is 'n kort, vet vrou met 'n grys gesig en skewe tande. Sy is permanent nakend in die strokies. Despair het 'n koel, stil intelligensie. Sy is geneig om haar vel te sny met 'n ring met 'n haak wat sy dra en ook haar simbool is. Sy kom goed met Desire oor die weg, maar anders as Desire geniet sy verwoesting.
- Delirium is die jongste lid van die Endless. Sy is 'n klein meisie wie se vorm die meeste verander. Haar hare is wild en kleurryk, en haar klere is ongewoon en pas nie by mekaar nie. Haar enigste fisieke eienskap wat dieselfde bly, is dat haar een oog (gewoonlik die regteroog) smaraggroen met silwer vlekkies is en die ander een ligblou. Hulle kan egter ook omgeruil word. Haar simbool is 'n abstrakte, vormlose blerts kleur. Sy was eens as "Delight" bekend, maar die een of ander traumatiese gebeure het haar verander. Haar simbool as Delight was 'n blom.[10]
Verwysings
wysig- ↑ Jimenez, Phil (2008). "Endless, The". In Dougall, Alastair (red.). The DC Comics Encyclopedia. New York: Dorling Kindersley. p. 115. ISBN 978-0-7566-4119-1. OCLC 213309017.
- ↑ The Sandman Vol.6: Fables & Reflections, p.145, Vertigo, ISBN 9781563891052
- ↑ Wallace, Dan (2008). "Destiny". In Dougall, Alastair (red.). The DC Comics Encyclopedia. New York: Dorling Kindersley. p. 100. ISBN 978-0-7566-4119-1. OCLC 213309017.
- ↑ McAvennie, Michael; Dolan, Hannah (2010). "1970s". DC Comics Year By Year: A Visual Chronicle. Dorling Kindersley. p. 152. ISBN 978-0-7566-6742-9.
- ↑ "The Sandman Connection: How Vertigo's Flagship Title Crossed Over With the DCU". ComicsAlliance. 8 Julie 2010. Besoek op 1 April 2018.
- ↑ Curiel, Jonathan (18 April 2014). ""The Sandman" Speaks: Neil Gaiman and Mike Dringenberg on the Glories of Their Graphic Novel". SF Weekly. Besoek op 26 April 2014.
- ↑ {{cite web|title=Comics in Context #72: F. O. G. - Neil Gaiman and Charles Addams.|url=http://ca.ign.com/articles/2005/02/12/comics-in-context-72-f-o-g?page=4%7Caccess-date=22 September 2012|first=Peter |last=Sanderson|date=February 11, 2005
- ↑ McKean, Dave; Gaiman, Neil (1997). The Collected Sandman Covers, 1989-1997. Watson-Guptill. p. 1. ISBN 9780823046324.
- ↑ Sandman: The Wake.
- ↑ Gaiman, Neil, The Sandman, Vertigo Comics, September 2014.
Ander bronne
wysig- Bender, Hy (1999). The Sandman Companion. New York: Vertigo DC Comics. ISBN 1-56389-644-3.
- Carey, Mike (2005). Lucifer: Exodus. New York: Vertigo DC Comics. ISBN 1-4012-0491-0.
Skakels
wysig- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.