Die fiskaal was in die tydperk van die bestuur van die Kaap deur die VOC die landdros en die hoof van die polisie.

Geskiedenis

wysig

Aanvanklik was dit ‘n baie ondergeskikte pos. In 1689 het die Here XVII ‘n nuwe amptenaar met ‘n heelwat hoër rang na die Kaap gestuur met die titel van Fiskaal Independent of dan onafhanklike fiskaal. Hierdie nuwe amp is op verskeie plekke waar die VOC besittings gehad het, ingevoer. Hy het regstreeks onder die Here XVII gestaan. Die kommandeurs of goewerneurs kon hulle nie ontslaan nie. Sy pligte was omvattend. Hy moes toesig hou oor die amptenare en veral waak dat geen privaathandel en korrupsie plaasvind nie. Hy kon grond toeken, moes ‘n stelsel van beheer oor die finansies ontwikkel, alle staatsdokumente was vir hom ter insae en hy was ampshalwe lid van die Politieke Raad. Verskeie bekleërs van die pos het hul wye magte misbruik en groot rykdom opgebou. Hulle was geregtig op ‘n derde van alle boetes wat deur die hof van kleinsake ingevorder is. In 1828 is die pos vervang met ‘n prokureur-generaal. Die woord fiskaal leef nou nog slegs voort in die amp van waterfiskaal, die amptenaar betrokke by damme en kanale en die voël genaamd janfiskaal (fiskaallaksman).

Bekende fiskale

wysig

Bekende persone wat die pos van fiskaal aan die Kaap beklee het was

  • Johan (Joan) Blesius (*Breukelen, 1656 - †7 of 8 April 1711), fiskaal van 18 November 1694 tot sy dood
  • Willem Cornelis Boers (*Katwijk aan den Rijn, 4 Februarie 1744 - †Den Haag, 31 Maart 1803), fiskaal-independent
  • Hendrik Crudop
  • Daniël Denijssen (†Kaapstad, 19 Februarie 1855), regter tydens die Baataafse bewind, daarna fiskaal tydens die Britse bewind
  • Pieter de Neyn, fiskaal vanaf Februarie 1672
  • Abraham Gabbema (*Den Haag, ongeveer 1630 - †na 1688), VOC-amptenaar, eerste fiskaal, aangestel 1657
  • Cornelis Joan Simons (aktief in die jare 1689 tot 1708), regsgeleerde, onafhanklike fiskaal, besoekende kommissaris aan die Kaap
  • Cornelis Joan Simonsz (*Utrecht, ongeveer 1660-1665 - †Utrecht, 1727), eerste onafhanklike fiskaal van 3 Oktober 1690 tot 20 September 1694
  • John Truter
  • Cornelis van Beaumont (*Breda, voor 1700 - †Kaapstad, 14 Junie 1724), opvolger van sy skoonpa Blesius as fiskaal
  • Pieter van Reede van Oudtshoorn
  • Joachim van Plettenberg
  • Willem Stephanus van Rijneveld (*Kaapstad, gedoop 24 Maart 1765 - †Kaapstad, 14 Augustus 1812), president van die raad van justisie, amptenaar, fiskaal in die 1790’s

Bibliografie

wysig
  • Böeseken, A.J.: Die Nuusbods. Kaapstad: Nasou, 1966