Flaterwater

wit vloeistof wat aangewend word om foute op papier uit te wis
Hierdie artikel is een van die Top Tien-artikels in die Afrikaanse Wikipedia Skryfkompetisie vir hoërskole 2024
Ons jong Afrikaanse Wikipediane is nog besig om hulle vaardighede te oefen. Hulle mag nou na die kompetisie weer verder aan hulle artikels redigeer en verbeter. Geniet asseblief die artikel met dit ingedagte.

Flaterwater is 'n wit vloeistof wat aangewend word om foute op papier uit te wis. Die behoefte om foute reg te stel wat tydens die skryfproses gemaak word, bestaan al so lank as wat skryf bestaan. Daar is verskillende handelsmerke van flaterwater soos Wite Out, Liquid Water en Tipp-Ex, om net 'n paar te noem.

Verskillende handelsmerke van flaterwater.

'n Kwassie (wat later deur 'n sponsie vervang is) is aan die binnekant van die dop vasgemaak, dus word die kwas terug in die houer gedruk wanneer die bottel toegemaak word. Wanneer die inhoud van die uitwisservloeistof aan te veel suurstof blootgestel word, word die vloeistof dikker totdat dit uiteindelik onbruikbaar dik gestol is. 'Tipp-Ex' (Wolfgang Dibisch) het 'n produk genaamd 'Tipp-Ex-thinner' vrygestel wat hierdie probleem opgelos het.

Die korrigerende vloeistof, ook uitgeken as “Tipp-Ex” was ontwikkel deur die besigheid van dieselfde naam; Tipp-Ex GmbH & Co.; in 1965. Die 'Tipp-Ex' vloeistof het die lig gesien ses jaar nadat die besigheid die oorspronklike korreksiepapier ontwerp het. Die woord self het van Duits en Latyns af gekom. 'Tippen' was Duits vir 'om te tik' terwyl 'ex' Latyns is vir 'niks meer'. In die jaar 2000 is die Liquid Paper-produk en handelsnaam verkry deur Newell Rubbermaid. Liquid Paper word nou in sommige streke van die wêreld onderskryf deur Papermate, 'n bekende skryfinstrumenthandelsmerk (ook besit deur Newell).

Geskiedenis

wysig

Liquid Paper

wysig
Liquid Paper was die eerste flaterwater.
Bette Nesmith Graham: Ontwerper van 'Liquid Paper'.

Dit word aanvaar dat Bette Nesmith Graham[1] 'Tipp-Ex' vervaardig het. Die produk wat deur haar ontwikkel is, was egter 'Liquid Paper'. Sy was die persoon wat die heel eerste flaterwater geformuleer het. Sy was 'n enkelma in die laat 1940's en wou 'n kunstenaar geword het, maar het op die ou einde as 'n sekretaresse by 'n bank werk gekry, waar sy vakansies ekstra geld verdien het deur die bank se vensters en mure te verf. Sy was nie 'n goeie tikster nie en was toe gedwing om 'n nuwe elektriese tikmasjien te gebruik wat baie sensitiewe sleutelsnellers gehad het. Die tikfoute het opgehoop en wanneer sy 'n uitveër probeer gebruik het, sou koolstofink oor die hele bladsy smeer. Graham se deurbraak het gekom toe sy besef dat skilders eerder oor hul foute verf as om dit te verwyder. Met haar agtergrond as kunstenaar, het sy die geleentheid aangegryp en klein botteltjies wit tempera verf te meng wat sy dan sou gebruik om wysigings te kon maak op haar tikwerk. Dit was vinniger en skoner as 'n uitveër, en feitlik onsigbaar op die bladsy. Graham het niemand vertel van die eerste paar bottels van haar witterige konkoksie nie en het dit in die geheim gebruik.

Ander sekretaresses het wel opgemerk dat haar tikwerk feitlik foutloos was en het aangedring om ook daarvan te bekom, ten einde hul eie tikwerk te verbeter. Baie aande het sy laat wakker gebly om botteltjies in haar kombuis te vul. Sy het voortgegaan om met die stof se formule te eksperimenteer totdat sy die perfekte kombinasie van verf en verskeie ander chemikalië bereik het. Haar eerste werknemers was haar tienerseun, Michael Nesmith, wat later lid van die popgroep, The Monkees, geword het, en sy vriende, wat vir 'n dollar per uur in haar motorhuis gewerk het. Hulle het leë plastiek tamatiesousbottels met tregteragtige tuite gebruik om die vloeistof in klein naellakbottels te giet, etikette per hand op te plak en die punte van die kwassies skuins te sny.

Nadat sy per ongeluk haar eie besigheid se naam op 'n vel papier van haar werkgewer se maatskappybriefhoof geplaas het, is sy afgedank uit haar tiksterpos as sekretaresse by Texas Bank And Trust,[2] wat haar 'n kans gegee het om 'n voltydse kleinsake-eienaar te word. Sy het oor naweke van Dallas na San Antonio en Houston gereis om haar produk te adverteer. Graham het haar produk aan IBM aangebied, wat die aanbod van die hand gewys het, ten spyte daarvan dat sy groot bestellings van General Electric ontvang het. Elke nuwe deurbraak het meer werknemers en meer ruimte vereis. Dit het haar gedwing om haar onderneming van haar motorhuis na 'n sleepwa te verskuif, later na 'n vierslaapkamerhuis en uiteindelik na 'n splinternuwe internasionale hoofkwartier van 35000 vierkante meter in die middestad van Dallas. Teen 1968 was die produk – herdoop tot Liquid Paper – winsgewend.

Haar besigheid het teen 1975 vyf-en-twintig miljoen bottels vervaardig en 'n groot deel van 'n multimiljoen-dollar-mark gehad wat heelwat kompetisie meegebring het, soos Wite-Out. Na hierdie sukses en groot welvaart, het Graham voortgegaan om twee organisasies te stig, die Gihon-stigting, wat toelaes en finansiële ondersteuning gegee het aan vroue wat hulle in die kunste wou bekwaam, en die Bette Clair McMurray-stigting, wat dieselfde vir vroue wat hul eie besighede wou begin, gedoen het. Ses maande voor haar dood in 1979 is haar maatskappy vir $47,5 miljoen met tantième aan die besigheid Gillette Corporation verkoop. Haar seun het die helfte van sy ma se nalatenskap van meer as $50 miljoen geërf. Die ander helfte het 'n gedeelte van die Gihon-stigting gefinansier, wat hierna die Council on Ideas gestig het, 'n dinkskrum met 'n toevlugsentrum noord van Sante Fe, Nieu Mexico, wat vanaf 1990 tot 2000 aktief was en gewy is aan die ondersoek van wêreldprobleme. Daarbenewens het dit ook 'n gedeelte van Graham se nalatenskap, die Bette Clair McMurray-stigting gefinansier, wat fokus op die ondersteuning van projekte soos Texas Woman: A celebration of history, wat skuiling en berading aan mishandelde vroue voorsien het, loopbaanvoorligting vir ongehude moeders en selfs universiteitsbeurse aan volwasse vroue uitgereik het.

Flaterwater (Tipp-Ex) korreksie papier.

Tipp-Ex

wysig

Wolfgang Dabisch van Eltville, Wes-Duitsland was die tweede persoon om 'n nuwe soort flaterwater te formuleer. Hy het die Tipp-Ex-regstellingspapier vervaardig, wat in 1958 'n patent op gekleurde film ingedien het vir die regstelling van tikfoute. Daarna het hy 'n maatskappy gestig met dieselfde naam. Die Tipp-Ex Sales & Distribution-maatskappy is kort daarna in Frankfurt gestig deur Otto Carls. As gevolg van die uitvinding van Tipp-Ex, het dit moontlik geword om tipografiese foute wat op 'n tikmasjien gemaak is, uit te wis. Die tikmasjien sou terug gespasieer word na die letter wat verander moes word, die regstellingspapier sou agter die lint geposisioneer word waarna die regte letter dan ingetik word. Die vraag na regstellingspapier het baie vinnig gegroei en belangstelling van internasionale verspreiders meegebring. Tipp-Ex het sy eerste regstellingsband bekendgestel in 1992, gevolg deur die suksesvolle Pocket Mouse in 1995 wat 'n topverkoper geword het. Die korreksiepen is in 1998 bekendgestel, terwyl die reeks uitgebrei is na uitveërs/verskeie soorte uitwissers. In 2000 is die nuwe sponsie aangepas vir al die bottels vir regstellingsvloeistof. Tipp-Ex is in 1997 deur Bic oorgeneem.

Wite-Out

wysig

Wite-Out dateer terug na 1966, toe Edwin Johanknecht, 'n versekeringsmaatskappyklerk, probeer het om 'n probleem op te los wat hy waargeneem het met die regstellingsvloeistof wat destyds beskikbaar was. Die probleem was dat ink of fotostatiese kopieë steeds gevlek het wanneer die vloeistof aangewend is. Johanknecht het saam met sy medewerker, George Kloosterhouse, 'n kelderwaterdigter wat met chemikalië geëksperimenteer het, hulle eie regstellingsvloeistof ontwikkel en bekendgestel as 'Wite-Out WO-1Erasing Liquid'. In 1971 het hulle dit wettiglik geregistreer as Wite-Out Products, Inc. Op 5 Februarie 1974, is die handelsmerk 'Wite-Out' by die Amerikaanse patent- en handelsmerk geregistreer. Vorige formulasies van Wite-Out wat tot en met 1981 verkoop is, het 'n waterbasis gehad en was dus wateroplosbaar. Alhoewel dit die skoonmaakproses vereenvoudig het, het dit ook lank geneem om droog te word. Die formule het ook nie goed gewerk op die fotostatiese media soos getikte kopieë nie. Archibald Douglas het in 1981 die maatskappy gekoop en het die maatskappy gelei na olie-gebaseerde formules met vinniger droogtye. Daar is drie verskillende produkte geskep, elkeen spesifiek ontwerp vir verskillende media. Nuwe probleme het ongelukkig ontstaan: 'n aparte bottel verdunner vir hierdie produkte was nodig, maar die spesifieke verdunningsmiddel wat gebruik is, was berug daarvoor dat dit bygedra het tot osoonuitputting. In Julie 1990 het die besigheid hierdie probleme aangespreek met die bekendstelling van 'n geherformuleerde 'For Everything' regstellingsvloeistof. Die Franse korporasie Société Bic het Wite-Out Products oorgeneem in 1992. Wite-Out se verkope het wêreldwyd met byna 10 persent gegroei teen 2017. AdWeek het gespekuleer dat die toename in verkope te wyte was aan kunstenaars wat die vloeistof gebruik het as verf. Vandag is flaterwater steeds 'n noodsaaklike item op enige student of onderwyser se skryfbehoeftelys.

Kores

wysig

Wilhelm Koreska het in 1887 die maatskappy Kores gestig in Wene, Oostenryk. Hy het 'n kleinhandelwinkel geopen om kantoorbenodigdhede en papier te verkoop. Hy het die geleentheid aangegryp om 'n formule vir die vervaardiging van koolstofpapier te koop, wat sy hele gesin betrek het om handgemaakte koolstofpapier te produseer. Die handgemaakte koolstofpapier word dus die eerste produk wat die Kores-handelsmerk dra. Kores neem in 1901 'n moderne fabriek in Wattgasse, Hernals in Wene, in gebruik, waar 'n wye reeks tikmasjienbenodigdhede vervaardig word. In 1912 het Kores 'n nuwe reeks tikmasjienlinte bekend gestel. Koreska se seuns, Wilhelm Junior en Robert, het in 1919 by Kores aangesluit en die maatskappy se internasionale uitbreiding versnel. Die besigheid het fabrieke in Sjanghai, Kaïro, Wene, Berlyn, Barcelona, Parys en regdeur Oos-Europa gevestig teen 1939. Kores het in 1958 die tydskrif “Kores Illustrierte” gepubliseer en die beroemde Italiaanse aktrise Gina Lollobrigida het op een van die volumes se voorblaaie gepryk. Teen die laat 1950's het Kores ikoniese status in Italië bereik. Soveelso dat die vooraansig van die paleis Carminati, by die Piazza Duomo, die Kores-logo, wat 'n vroulike tikster bevat, op sy dak laat aanbring het. Hierdie teken het 'n embleem geword van die vroulike werksrevolusie. Dié beweging het tussen 1970-1980 plaasgevind. Vroulike werkers was vir baie werkgewers in daardie tydperk feitlik onsigbaar. Dit was egter onmoontlik om 'La signora Kores' bo-op die gebou mis te kyk en terwyl ander advertensies verander of verdwyn het, het die tikkende Kores Dame daar gebly tot 1989. Die broers, Robert en Peter Koreska, het in 1968 die Kores Holding Zug AG in Switserland gestig en produksie van regstellings begin. Kores Praag Verkoopskantoor word gestig en op 26 Maart 1968 is Industries Kores SA in die Bagota Kamer van Koophandel geregistreer, in Colombia.

Kores het in die 1970's motorrenspanne ondersteun wat aan die gesogte motorwedrenne '24 Hours of Le Mans' deelgeneem het. Dit is die wêreld se oudste aktiewe sportmotorwedren, wat jaarliks sedert 1923 naby die dorp Le Mans, Frankryk gehou word. Verskeie Franse spanne het die motors met die Kores-embleem op bestuur. By die 'Le Mans Classics' kan hierdie motors deesdae gesien word by die klassieke sportmotorbyeenkoms wat op die terrein van Le Mans gehou word. Die ikoniese Kores se “tikkende dame” het weer in 1995 op die bemarkingsmateriaal van Pedro Almodovar se fliek “The Flower of my Secret” gepryk.

In 2003 word 'n nuwe patent vrygestel, droë korreksieband, soos dié wat destyds op tikmasjiene gebruik is, genaamd 'Scooter', met stabiliserende wiele. Kores se korreksiepen het in 2005 die lig gesien. In 2007 het Kores hul 120ste bestaansjaar gevier by die Gloriette in Wene terwyl die 2Way korrigeerband vrygestel is. In 2008 word 'n nuwe reeks inkleurpotlode wêreldwyd vrygestel. Die vervaardiging van gomstafies word in 2009 gevestig in die Tsjeggiese Republiek en in 2010 word die balpuntpen-skryfreeks en patent van die K-Pen ontwerp bekend gestel. Clemens Koreska het die besigheid as die vierde generasie oorgeneem in 2013. In 2014 is die Kores Eco Glue Stick, 'n gepatenteerde gom, gemaak van 75% hernubare hulpbronne, bekendgestel. Die Oostenrykse regering het Kores met die Oostenrykse Ecolable beloon vir die vervaardiging van omgewingsvriendelike gomstafies. In 2014 word Kores vir die eerste keer gekroon met die Superbrands-status in Tsjeggië. Die toekenning bring hulde aan die sterkste en waardevolste handelsmerke ter wêreld. 2015 was die begin van die patent K-Marker se produksie met die unieke, industriële ontwerp. In 2017 het Kores hul 130ste bestaansjaar gevier. Ter geleentheid van die herdenking, het Kores 'n onvergeetlike reis na Meksiko vir die Kores-span en hul vennote uit Europa en die Middel-Ooste georganiseer. In 2019 het hulle begin met die skoolproduktereeks, soos liniale, gradeboë, skêre ensovoorts. PASTEL- en STYLE- produklyne sowel as innoverende produkte soos uitwisbare kleurpotlode, het begin in 2021.

Snopake

wysig

Snopake is 'n skryfbehoeftemaatskappy wat skryfbehoeftes vervaardig van hoë gehalte, wat wissel van plaknotas tot tabletbykomstighede. Snopake stel al sedert 1955 foute reg, dus was Snopake een van die wêreld se eerste regstellingvloeistowwe. Battelle Institute of America het in 1955 Snopake ontwikkel vir die regstelling van getikte kopieë vir reproduksie binne die drukkersbedryf. Ronald. E. Southey van Colyer and Southy Ltd, wat Snopake Correction Fluid vervaardig, het onder lisensie van Battelle Development Co, Snopake in die Verenigde Koningkryk bekendgestel. Toe die patent na 'n geruimde tyd gedurende die sewentigerjare verstryk het, het dit ander soortgelyke produkte in staat gestel om tot die mark toe te tree, wat deur tiksters en kantoorpersoneel in die algemeen verwelkom is. In 1988 is Snopake Correction Fluid verkry deur Sternstat Bpk en verander na Snopake Bpk. Die hoofkantoor in Londen bemark hulle produkte in meer as 70 lande. Die handelsmerk se hoofprodukfokus is om kwaliteit, funksionele en bekostigbare maar betroubare produkte vir alledaagse gebruik te vervaardig.

Cello (Correct-X)

wysig

Pentel Co. Ltd (Japan) is gestig in 1946, en is vandag 'n internasionale skryfbehoeftehandelsmerk wat wêreldwyd deur verbruikers erken word en is bekend vir sy innovasie en kwaliteit produkte. In 1993 is Pentel Suid-Afrika (Edms) Bpk. gestig as die Suid-Afrikaansbedryfde maatskappy van Pentel, wat Pentel-produkte vanuit Johannesburg versprei. Pentel Suid-Afrika versprei 'n wye reeks balpuntpenne, meganiese potlode, regstellingsprodukte (vloeistof en band), merkers en kunsprodukte aan kliënte regoor die Republiek van Suid-Afrika. Die maatskappy het baie ver gevorder sedert dit in 1946 gestig is in Tokio, deur voormalige voorsitter, Yokio Horie, wat dit sy missie gemaak het om kryt en pastelle te ontwikkel wat mense kon help om hul kreatiwiteit uit te druk. Horie het in 1951 daarin geslaag om kryt en pastelle te kombineer om sy eerste produk te verkoop.

In 1963 het die besigheid onder die aandag van die wêreld gekom toe hulle die 'Sign Pen', 'n akrielveselpen wat 'n rewolusie in die manier waarop ons skryf, veroorsaak het. Dit het ook opslae gemaak toe dit op 'n beurs in die Verenigde State opgemerk is en daarna in die hande van President Lyndon B. Johnson beland het.

Die maatskappy het sy naam verander na Pentel Co. Ltd. in 1971, wat die noue verband weerspieël tussen verf, en pastelle en penne. Pentel se heel eerste klepbeheerde regstellingspen was ontwikkel vir netjiese, akkurate toesmeerdery. Micro Correct, 'n regstellingspen met 'n metaalpunt, was ook ontwerp. Die jongste toevoeging tot die regstellingspenfamilie is die nuwe Correct Express, wat 'n unieke formule het wat dit in staat stel om glad en eweredig droog te word, dus 'n plat oppervlak vorm om oor te skryf. Pentel se regstellingsreeks sluit ook langdurige of hervulbare regstellingsbande in.

Prittworld

wysig

In 1969 het Henkel die wêreld se eerste gomstafie ontwerp. Byna 50 jaar nadat die eerste gomstokkie vervaardig is, het Henkel meer as 1 miljard gomstokkies in 121 lande verkoop. Die Pritt-stafie was in 1971 in meer as 38 lande beskikbaar. In 1995 het Henkel die rolaangedrewe besigheid van die Duitse maatskappy Pelikan gekoop. Hy het sy rolreeks verder uitgebrei om nuwe en kompakte ontwerpe vir regstelling en gomprodukte te vervaardig. Terwyl ander die nuwe eeu op 'n groot manier begin het, het Henkel die jaar 2000 begin met die bekendstelling van die smalste regstellingsrolpen vir enkelkarakterfoute. Pritt is nie net 'n wêreldwye handelsmerk nie, dit het op Maart 2001 'n “heelal-wye” handelsmerk geword. Die Soyuz ruimteskip is vanaf die Baikonur Cosmodome in Kasakstan afgevuur met 'n groot vrag Pritt produkte, bestem vir die Internasionale Ruimtestasie. In 2003 het Henkel 'n nuwe reeks produkte begin vervaardig. “PowerPritt” kombineer die krag van veeldoelige gom met die gerieflike vorm van 'n Glue Stick, “No More Scissors” is 'n deursigtige kleefband met geperforeerde kante sodat dit maklik met die hand geskeur kan word en “KidsArt” was hul splinternuwe kunsreeks. In 2005 het Henkel die “Correction Comfort Roller” bekendgestel en nie lank daarna nie, het die “Glue Compact Roller” ook gou suksesvol geword deur die prys te wen vir 'produk vir die jaar'. In 2009 het Pritt 'n reeks vloeibare gom bekendgestel wat beskikbaar was in 40g- en 90g-bottels. 2010 was die jaar van die “ECOmfort Correction Roller”, vervaardig van skulpe wat van 89% hernubare materiale gemaak is. In dieselfde jaar het Pritt die nuwe “Refill Roller” -reeks, met middelpad- en sywaartse regstellingsrollers, ontwerp. Pritt het in 2011 die “Best Pritt Stick Ever” bekendgestel, wat uit 90% natuurlike bestanddele geformuleer was. Pritt het hul gekleurde gomstokkies bekendgestel in 2014 en 'n jaar later die “Magic Stick”. In 2017 het Pritt nuwe regstellings- en gomrollers bekendgestel.

Bestanddele

wysig

Regstellingsvloeistof word gemaak met behulp van verskillende chemikalië om 'n vloeistof te skep wat oor spelfoute versprei word. Vanaf 2009 lys die MSDS'e[3] flaterwater wat titaandioksied, oplosmiddel nafta, minerale spiritus, boomhars, dispergeurmiddel en geure bevat. Liquid Paper het in die 1980's onder die loep gekom weens kommer oor ontspanningsnuif. Die organiese oplosmiddel 1,1,1- trichlooretaan (TCA) is oorspronklik as 'n verdunner in die produk gebruik. Dit gaan maklik deur die bloedbreinversperring en kan na akute blootstelling baie dodelik wees. Daar word vermoed dat flaterwater wat TCA bevat giftig en kankerwekkend is. Latere studies het getoon dat, hoewel die verdunner giftig was, was daar nie verder bewyse van kankerveroorsakende elemente nie. 1,1,1-Trichlooretaan is ook 'n 'osoonafbrekende chemikalie', aangesien dit een van die stowwe is wat verantwoordelik is vir skade aan die aarde se osoonlaag. Sedert 2000 word dit nie by Tipp-Ex gevoeg nie, en is vervang deur alifatiese koolwaterstowwe. Daar was verskeie studies wat sterftes met TCA, wat in korreksievloeistowwe gebruik is, verbind het. Die eerste chemikalië is titaandioksied, wat 'n kleurindeks van pigmentwit het. Volgende is die oplosmiddel nafta, petroleum en ligte alifaties. Boomhars, minerale spiritus, geur, kleurstowwe en dispersiemiddel word ook gekombineer om hierdie wit vloeistof te skep. Die verdunningsmiddel, trichlooretaan, word nie meer in die korreksievloeistof gebruik nie weens die giftigheid daarvan wat op die Proposition 65[4] te voorskyn kom. In sekere regstellingvloeistowwe word ander bestanddele gebruik soos:

  • PP-Polipropylene word gemaak van propileen en etileen, twee afvalprodukte van die olie- en gasbedryf.
  • LDPE-Laedigtheid poliëtileen is die liggewig termoplastiese vervaardiging van die monomeer etileen.
  • EVA-Etileenvinielasetaat is die kopolimeerder van etileen en viniel asetaat.
  • EPPE-EPPE is 'n kombinasie van EVA, PE en MPE.

Bronnelys

wysig
  • Liquid Paper. Unknown.

https://en.wikipedia.org/wiki/Liquid_Paper

Besoek: 20/09/24

  • History of the correction fluid. Office Supplies Supermarket

https://medium.com/@supermarketuk/history-of-the-correction-fluid/cc51f133407c

Besoek:20/09/24

  • Liquid Paper. Unknown.

https://www.wikiwand.com/en/articles/Liquid_Paper

Besoek:21/09/24

  • Correction Fluid. Unknown.

https://www.madehow.com/Volume-4/Correction-Fluid.html#ixzz5B3imY5kO

Besoek:22/09/24

  • Who Still Buys Wite-Out, and Why? David A. Graham

https://www.theatlantic.com/technology/archieve/2019/03/who-still-buys-wite-out-and-why/567311/

Besoek: 25/09/24

  • Why is it called 'Tipp-Ex'? Julia Smith

https://unstuckmonster.com/2013/06/why-is-it-called-tippex/

Besoek: 25/09/24

  • What Chemicals Are In Correction Fluid? Editorial Team

https://sciencing.com/chemicals-correction-fluid-5241276.html

Besoek: 26/09/24

  • Welcome to Pentel!. Unknown.

https://www.pentel.co.za/about-us/

Besoek:27/09/24

  • Pritt History. Unknown.

https://www.pentel.co.za/en/about-pritt/history.html

Besoek: 27/09/24

Verwysings

wysig