Wikipedia:Skryfkompetisie vir hoërskole
Die Afrikaanse Wikipedia Skryfkompetisie vir hoërskole is 'n inisiatief wat deur die Afrikaanse Wikipedia geloods is om nuwe jong gebruikers vir die Afrikaanse Wikipedia te werf en die Afrikaanse Wikipedia as 'n betroubare studiehulpbron onder skoolleerders en binne die onderrigstelsel te vestig.
Deur hierdie kompetisie hoop die Afrikaanse Wikipedia om jong skrywers oor te haal om aktiewe gebruikers te word en sodoende die toekoms van die Afrikaanse Wikipedia te verseker.
Agtergrond
wysigDie kompetisie is vir die eerste keer in 2023 aangebied en 16 skole met 'n totaal van 60 leerders het ingeskryf. Hoërskoolleerders (graad 8 tot graad 12) kon as spanne of as individue deelneem. Leerders moes artikels volgens die vereistes van die Afrikaanse Wikipedia skep en op die platform publiseer waarná die artikels deur gekose individue beoordeel is. Die kompetisie is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, FEDSAS en Pretoria FM aangebied.
Wenners
wysigDie wenners vir 2023 is op Pretoria FM aangekondig en het op 16 November 2023 by die Afrikaanse Wikipedia se 22ste verjaarsdagfunksie hul pryse ontvang.
Die wenners was 'n graad 11-span van Hoërskool Die Anker met hul artikel oor voedingsfeite-etiket. Hulle het R10 000 in prysgeld ontvang asook 'n wisseltrofee. Die span het bestaan uit ses leerlinge: Vicky-Lee Puchert, Xiaomei Smit, Caroline du Preez, Sharminique Breytenbach, Anke Cornelius en Chanelle Liebenberg.
Die tweede plek was toegeken aan 'n graad 8-span van die CVO Skool Pretoria wat 'n artikel oor die Verskroeideaardebeleid geskryf het. Die span het bestaan uit Hendré Strauss en Daniel Strydom. Hulle het R6 000 prysgeld ontvang.
In die derde plek was 'n leerling van Sonneveld Akademie, Marlizelle Burger, met haar artikel oor Joseph Patrick Kennedy. Sy het R3 000 prysgeld ontvang.
Die toekoms
wysigDie kompetisie vind weer in 2024 plaas en registrasie het reeds op 9 Julie 2024 geopen. Die kompetisie word ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Rapport, FEDSAS, Pretoria FM en die Afrikaans 100-projek.
Bronne
wysig- Afrikaanse Wikipedia-gemeenskap.
- Rapport
- Pretoria FM
- Maroela Media [1]