Hendrik J. Botha
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Hendrik J. Botha is ’n Afrikaanse digter.
Lewe en werk
wysigHendrik J. Botha is in 1958 gebore en word groot op Westonaria aan die Wes-Rand. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom en studeer daarna in die medisyne aan die Universiteit van Pretoria. Na sy internskap en verpligte militêre diensplig is hy ’n algemene praktisyn in Louis Trichardt (tans Makhado). In 1993 vestig hy hom in Bloemfontein en spesialiseer in narkose, waarna hy vanaf 1997 as narkotiseur praktiseer, eers in Klerksdorp en vanaf 2011 in Pretoria. In 2011 skryf hy in vir die M.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad, ’n graad wat hy onder leiding van Joan Hambidge in 2013 met lof behaal. Sy mini-verhandeling wat hy as deel van die kursus indien handel oor “Dokters as digters in die Afrikaanse letterkunde”, terwyl die praktiese vereistes van die graad die gedigte is wat later as “Atropos” gebundel word. Hy woon op ’n kleinhoewe aan die oostekant van Pretoria.
Skryfwerk
wysigHy debuteer met die digbundel “Atropos”.[1] Die titel word verduidelik in die gedig “Lotsbestemming” en verwys na die Griekse mitologie, terwyl die voorbladontwerp ten nouste daarmee saamhang. Zeus se drie dogters Clotho, Lachesis en Atropos beskik oor die mens se lewensdraad: Clotho spin die draad, Lachesis wys dit ewekansig toe en Atropos knip dit willekeurig af. Die gedigte word in ses afdelings verdeel met temas wat behandel word wat insluit herinneringe aan die jeug en verlede; verganklikheid, soos dit veral in die hospitaal ervaar word; liefdesgedigte; herinneringe aan ’n Namibiese plaas; en ’n sterfproses. Die verse munt uit in duidelike segging in ’n klinkklare styl.
Publikasies
wysigJaar | Publikasies |
---|---|
2015 | Atropos |
Bronnelys
wysigInternet
wysig- NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/8596 Geargiveer 18 Augustus 2016 op Wayback Machine
Resensies
wysig- ↑ Ullyatt, Gisela “Beeld” 29 November 2015: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/digter-dokter-skitter-in-vers-20151129 Geargiveer 25 Maart 2016 op Wayback Machine