Domodedowo-lughawe

internasionale lughawe in Moskou, Rusland

Die Moskouse Domodedowo-lughawe (Russies: Московский аэропорт Домоде́дово) is ’n internasionale lughawe op die dorp Domodedowo in die Moskou-oblast, Rusland. Dit is sowat 42 km suid-suidoos van die middestad van Moskou. Domodedowo is die grootste lughawe in Rusland wat betref passasiers- en vragverkeer (22,25 miljoen passasiers het die lughawe in 2010 gebruik, wat ’n toename van 19,2% is vanaf 2009), en is saam met Sjeremetjewo en Wnoekowo een van die drie hooflughawens van Moskou.

Moskouse Domodedowo-lughawe
Московский аэропорт Домоде́дово
Lugfoto van Domodedowo
IATA: DMEICAO: UUDD
Opsomming
Tipe lughawe Openbaar
Eienaar/Operateur East Line-groep (Группа Ист Лайн)
Bedien Moskou, Rusland
Ligging Domodedowo
Spil vir
  • Ak Bars Aero
  • Moskovia Airlines
  • RusLine
  • S7 Airlines
    • Globus Airlines
  • Ural Airlines
  • Yamal Airlines
Hoogte bo seevlak 588 vt / 179 m
Koördinate 55°24′31″N 37°54′22″O / 55.40861°N 37.90611°O / 55.40861; 37.90611
Webtuiste domodedovo.ru
Landkaart
UUDD is in Rusland Moskou-oblast
UUDD
UUDD

Ligging binne die Moskou-oblast

Aanloopbane
Rigting Lengte Oppervlak
m vt
14C/32C (Vorige) 2 600 8 531 Beton
14L/32R 3 800 12 467 Versterkte beton
14R/32L 3 500 11 483 Versterkte beton
Statistieke (2013)
Passasiers 30 760 000
Lugbewegings 253 500
Bron: DAFIF

In 2003 het die lughawe ’n uitbreidingsprogram begin om wyerompvliegtuie te huisves. Die aanloopbaan, rybane en parkeerterreine is vergroot en versterk. In Maart 2009 is aangekondig dat die lughawe se aansoek geslaag het; dit was die eerste Russiese lughawe wat goedgekeur is vir vliegtuie soos die Airbus A380.[1]

Geskiedenis

wysig
 
Domodedowo se terminaal soos dit in Junie 1974 gelyk het.

Die lughawe is genoem na die dorp Domodedowo, waar dit geleë is. Vlugte het in Maart 1964 begin met ’n vlug na Swerdlofsk. Die lughawe, wat ingestel was op langafstandvlugte in die Sowjetunie, is amptelik in Mei 1965 geopen. ’n Tweede aanloopbaan, langs die eerste een, is 18 maande later in gebruik geneem.

In 1993–1994 het die East Line-groep, wat deur Dmitri Kamensjik gestig is, in verskeie geriewe by die lughawe belê, onder meer ’n nuwe doeaneterminaal en spysenieringsdienste.[2] In laat 1996 het die East Line-groep die terminaalgeriewe geprivatiseer. Sedert 1998 word die aanloopbane, lugverkeerbeheer en kommunikasiegeriewe aan East Line verhuur.

In die 2000's het East Line belê in die herbou en modernisering van die verouderde lughawegeriewe. Teen 2009 is die vloeroppervlak vergroot van 70 000 m2 in 2004 tot 135 000 m2. Met die opknapping is groot lugdienste soos British Airways, El Al, Swiss, Japan Airlines en Austrian Airlines weggelok van die ander Moskouse lughawe Sjeremetjewo. Hul voorbeeld is deur ander groot lugdienste soos Lufthansa gevolg. Aeroflot het ook sekere vragoperasies na Domodedowo verskuif. Die lughawe het daarna die hooflughawe vir verskeie Russiese lugdienste geword. Domodedowo het Sjeremetjewo verbygesteek wat passasiergetalle betref en die besigste lughawe in Rusland geword. Die getal passasiers by Domodedowo het gestyg van 2,8 miljoen per jaar in 2000 tot meer as 22 miljoen in 2010.[3]

Terroristeverwante voorvalle

wysig

Domodedowo was die teiken van twee terroristeverwante voorvalle. In 2004 het Moslem-selfmoordbomaanvallers verby sekuriteit beweeg en aanboord van twee passasiersvliegtuie geklim. Hulle het die bomme laat afgaan nadat die vliegtuie opgestyg het. Ondanks verhoogde sekuriteit was daar nog ’n sluipmoordbomvoorval op 24 Januarie 2011 toe ’n Islamitiese militante die terminaalgebou binnegegaan en ’n bom in die aankomsaal laat ontplof het; 37 mense is dood en 173 beseer. Nog strenger maatreëls is sedertdien ingestel.

Vervoer

wysig

Treine

wysig

Die lughawe het ’n treinstasie met dienste na die Paweletsk-spoorwegterminaal in Sentraal-Moskou. Daar is ook Aeroexpress-sneltreine en gewone passasierstreine.

Die lughawe kan bereik word met ’n verbinding van die Moskouse Ringstraat en die Kasjirskoje-snelweg. Taxi's, limousines en gewone motors kan in die lughawe gehuur word.

Galery

wysig

Verwysings

wysig
  1. Heavy Metal, Aviation Week & Space Technology, 70, 10 (9 Maart 2009), bl. 14
  2. ""Домодедово", откройся!" (in Russies). Wedomosti. 10 Mei 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Januarie 2015. Besoek op 15 November 2011.
  3. "Московский аэропорт Домодедово провел интерлайн-конференцию "DME Connections 2011"" (in Russies). Domodedowo. Nuusvrystelling. 10 November 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 September 2018. Besoek op 15 November 2011.

Eksterne skakels

wysig