Johan Badenhorst
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Johan Badenhorst is 'n Suid-Afrikaanse skrywer en is in 1959 gebore. Hy ontvang sy laerskoolopleiding by Laerskool Nongoma in Zoeloeland, waar sy pa onderwyser was, waarna hy na Hoërskool Empangeni gaan.
Lewe en werk
wysigReeds op skool begin hy nuus stuur vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Hy studeer Regte aan die Universiteit van Pretoria, behaal 'n honneurs in Strategiese Studies aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en werk dan vir 'n tyd lank by die SAUK. In 1990 sluit hy by Scholtz Films aan waar hy onder andere die televisieprogramme “Boude en blaaie” en “Van die Kaap tot die Kunene” oor die skrywer en swerwerkok Pieter Pieterse vervaardig. Hierdie programme was sy leerskool vir koskook- en reisprogramme en sy inspirasie vir die televisieprogram “Voetspore”, waarvan hy die vervaardiger is. Sedert 2000 onderneem hy en sy span gereelde Afrika-reise, op verskillende roetes, sodat die besienswaardighede en interessante inligting van die kontinent op hierdie manier ontbloot word. Hieruit spruit verskeie reekse van “Voetspore”.
Die sukses van die televisieprogram laat hom besluit om ook die Voetspore- leefstylwinkel en 4x4 monteringsentrum in April 2013 by 'n winkelsentrum in die ooste van Pretoria te begin. Dit verskaf al die benodigdhede vir die mense wat self reise wil onderneem, terwyl die monteringsentrum voertuie uitrus met toerusting soos ekstra water- en petroltenks en spesiale vering.[1] Johan is ook die vervaardiger van die musiekspel “Stuur groete aan Mannetjies Roux”.
Gesinslewe
wysigJohan is getroud met Alma en hulle het drie kinders, van wie Nina die oudste is, Heleen die middelkind en Streicher die jongste. Die gesin bly in Kleinmond in die Wes-Kaap.[2]
Skryfwerk
wysigHy vertel die televisieprogram Voetspore se reisavonture in die boeke In die voetspore van die grotes, Voetspore op die strand,[3][4] Van die Kaap tot Kilimandjaro,[5] Van Kilimandjaro tot by Kaïro, Van Gansbaai tot Gaboen, Casablanca tot die Kaap en Agulhas tot Alexandrië. Dit bevat vertellings oor die reis, meermale op 'n dag-tot-dag verslag van die dag se gebeure, ryklik geïllustreer met foto’s. Voetspore 4x4 kookboek[5] is 'n praktiese kookboek vir mense wat reis.[6]
Publikasies
wysig- 2001: In die voetspore van die grotes
- 2002: Voetspore op die strand
- 2007: Van die Kaap tot Kilimandjaro
- 2007: Voetspore 4x4 kookboek
- 2008: Van Kilimandjaro tot by Kaïro
- 2009: Van Gansbaai tot Gaboen
- 2011: Voetspore: Casablanca tot die Kaap
- 2013: Voetspore: Agulhas tot Alexandrië
- 2014: Voetspore 2 - 'n kookboek vir 4x4-entosiaste
- 2015: Voetspore op die Ewenaar - 'n reis van Lamu tot Muanda
- 2020: Voetspore in Suid-Afrika. 'n Reisgids
- 2021: Voetspore in Suid-Afrika 2. 'n Reisgids.
Bronne
wysig- Botha, Marzahn: "Dié keer volg span spore deur Oos-Afrika" Beeld 26 Julie 2011.
- Retief, Hanlie: "Diep voetspore van 'n ‘brother’" Rapport 20 Julie 2014.
- Blumenthal, Mari: Voetspore: Van een reeks tot sakesukses Geargiveer 9 April 2016 op Wayback Machine (Netwerk24 – intekening benodig.)
Verwysings
wysig- ↑ NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/3469 Geargiveer 9 April 2016 op Wayback Machine
- ↑ Sarie: http://www.sarie.com/bekendes/ons-praat-met-bekendes/johan-badenhorst/#/
- ↑ De Wet, Dawid. LitNet: http://www.litnet.co.za/boekresensie-voetspore-oor-die-ewenaar-deur-johan-badenhorst/
- ↑ https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/johan-badenhorst-van-voetspore-hoe-verder-jy-gaan-hoe-meer-wil-jy-reis/
- ↑ 5,0 5,1 Botha, Liesbeth. “Boeke-Insig” no.2 Somer 2008
- ↑ Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-no2009-5238/