Kiwidore Fillis
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Kiwidore Fillis is 'n Afrikaanse digter.
Lewe en werk
wysigKiwidore Ezau Fillis is op 11 Oktober 1960 op Worcester gebore as een van agt kinders. Sy laerskoolopleiding is by die NGK Oefen Primêre Skool en hy matrikuleer in 1978 aan die Hoërskool Esselenpark op Worcester. In 1984 kwalifiseer hy as onderwyser met Afrikaans as hoofvak aan die Onderwyskollege Suid-Kaapland op Oudtshoorn. Hy gee skool aan Bonne Esperance Primêr op De Doorns, naby Worcester, en is lid en oudvoorsitter van die Breedevallei Dichters. Later word hy onderwyser aan Hex Park Primary School op Worcester, waarna hy ’n pos aanvaar as assistent-kultuurbeampte van die Breedevallei Munisipaliteit op Worcester.
As politieke aktivis in die tagtigerjare spandeer hy ook tyd in die Victor Verster-gevangenis in Paarl. Hy is in 2000 'n leiersfiguur met die stigting van Breërivier Onafhanklik, 'n politieke beweging van onafhanklike kandidate wat aan die verkiesing in die Breedevallei Plaaslike Munisipaliteit deelneem. In 2006 stel hy homself verkiesbaar as ANC-verteenwoordiger in die plaaslike regeringsverkiesings. Hy het 'n groot passie vir die All Blacks-rugbyspan en hy is voorsitter van die All Blacks-ondersteunersklub op Worcester. Hy is ook 'n rugbyskeidsregter. Hy is getroud met Beatrice.
Skryfwerk
wysigOp kulturele gebied maak hy 'n groot bydrae deur leerlinge van die omgewing aan te moedig om gedigte te skryf, wat hy dan in bloemlesings laat saamstel en publiseer.
Sy gedigte word opgeneem in versamelbundels soos “Nuwe stemme 3” en “Groot verseboek”. By verskeie geleenthede lees hy van sy gedigte in die openbaar voor, onder andere by die bekendstelling van “Nuwe stemme 3”,[1][2] by Woordfees op Stellenbosch en tydens 'n spesiale Valentynsdagviering by die Afrikaanse Taalmuseum. Hoewel hy twee digbundels en 'n roman aan hoofstroomuitgewers in Suid-Afrika voorlê, word al hierdie geskrifte vir publikasie afgekeur. Hy publiseer self sy digbundel “Hierdie taal van my”.
Publikasies
wysigJaar | Publikasies |
---|---|
2011 | Hierdie taal van my |
Bronnelys
wysigTydskrifte en koerante
wysig- Van der Merwe, Joline “Onderwysman ’n taalliefhebber” “Worcester Standard”. 20 Februarie 2014
Internet
wysig- Fillis, Kiwidore. Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2006/04/26/DB/17/2504lees.html
- Gordon-Hendricks, Petro. Die Burger: http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/dieburger/2011/05/29/KS/12/SDNuus001-002-SDNuus001-kykiehoorie020111-408-KENGCZ.html[dooie skakel]
- Rooi, Jacob. Rapport: http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/rapport/2000/10/29/2/18.html[dooie skakel]
- Van der Merwe, Joline. Netwerk24: http://www.netwerk24.com/ZA/Worcester-standard/Nuus/jong-digters-se-werk-in-bloemlesing-verewig-20151215-2?mobile=true Geargiveer 10 November 2016 op Wayback Machine
Resensies
wysig- ↑ Hambidge, Joan “Rapport” 12 Junie 2005: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2005/05/16/VB/8Bk/01.html
- ↑ Visagie, Andries “Beeld” 20 Junie 2005