Konstantin von Tischendorf
Lobegott Friedrich Konstantin von Tischendorf (Lengenfeld, in die huidige Sakse, 18 Januarie 1815 – Leipzig, 7 Desember 1874) was 'n Duitse, Lutherse teoloog en Bybelwetenskaplike. Hy was 'n lid van die teologiese fakulteit van die universiteit van Leipzig en is veral bekend vir die ontdekking van die Kodeks Sinaiticus, 'n 4de-eeuse manuskrip van die Bybel, wat in 'n klooster aan die voet van die Sinaigebergte in Egipte gevind is.
Tischendorf het die Kodeks Sinaiticus in Februarie 1859 ontdek. Dit dateer uit ongeveer 330 tot 350 en bevat die Ou Testament in Septuagint-vorm, asook 'n volledige weergawe van Nuwe Testament. Dit is met die hand in Koine-Grieks geskryf en is die wêreld se oudste (oorspronklik) volledige Bybel. Die kodeks kan in die Britse Biblioteek in Londen of as 'n gedigitaliseerde weergawe op die internet besigtig word.[1] Die Kodeks Sinaiticus en die Kodeks Vaticanus (ook uit die 4de eeu, maar minder volledig) is met mekaar vergelyk om tekstuele verskille op te los.
Hy ontdek daarnaas nog 'n aantal ander handgeskrewe Bybelskrifte en versorg 'n kritiese teks van die Nuwe Testament, wat nog steeds van belang geag word. So ontdek hy 'n vyfde-eeuse Bybelteks in die Kodeks Ephraemi Rescriptus onder 'n hagiografie van Efrem die Siriër (St. Efrem) uit die twaalfde eeu.
Tischendorf ontvang in 1865 eredoktorsgrade van die Universiteit van Oxford en die Universiteit van Cambridge. Hy is in 1869 vanweë sy werk tot die adelstand verhef.
Verwysings
wysig- ↑ "Die Kodeks Sinaitius op codexsinaiticus.net". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Februarie 2014. Besoek op 4 Februarie 2017.
Eksterne skakels
wysig- (de) Universiteit van Leipzig
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Konstantin von Tischendorf.