Koperniese beginsel
Voor Kopernikus het die mense op aarde 'n geosentriese beskouing gehad (die aarde staan stil en alles draai daarom). Toe Kopernikus 'n heliosentriese beskouing voorstel (die aarde draai om die son), was dit 'n kontroversiële kwessie, want dit het in effek beteken dat die aarde sy spesiale posisie in ons sonnestelsel afgestaan het.
Wetenskaplikes het hierdie idee verder oorweeg en neem vandag aan dat nóg die aarde nóg enige ander planeet of hemelliggaam 'n spesiale posisie in die heelal het. Hulle noem dit die Koperniese beginsel (Engels: Copernican principle). Die Koperniese beginsel word soms ook die beginsel van middelmatigheid genoem. LW. dat die Koperniese beginsel nié dieselfde is as 'n heliosentriese beskouing nie: 'n heliosentriese beskouing dui slegs daarop dat die aarde nie in die middel van ons sonnestelsel is nie.
Die Koperniese beginsel is 'n filosofiese aanname (soos Stephen Hawking en George Ellis in hulle boek The Large Scale Structure of Space-Time erken). Die feit dat die aarde nie in die middel van ons sonnestelsel is nie, sê niks oor die aarde se posisie in die heelal nie. Die Koperniese beginsel is soos Richard Feynman[1] sê, heel waarskynlik 'n oordrewe verwerping van geosentrisme. Dit word baie goed deur Richard Gott gedemonstreer.
Hoe wetenskaplikes dit verklaar dat geen hemelliggaam 'n spesiale plek in die heelal het nie, is deur die heelal voor te stel as 'n ballon wat opgeblaas word: Die rubber van die ballon is die driedimensionele heelal wat ons vandag sien. Die lug binne en buite die ballon is 'n vierde dimensie. In so 'n model het die heelal nie 'n middelpunt nie, net soos 'n sirkel nie 'n begin- of eindpunt het nie.
Kyk ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ Richard Feynman het die volgende gesê: "... Ek vermoed dat die aanname van eenvormigheid van die heelal 'n vooroordeel weerspieël gebore uit 'n reeks oordrewe verwerpings van geosentriese idees … Dit sou 'n verleentheid wees om te vind, ná die verklaring dat ons op 'n gewone planeet om 'n gewone ster in 'n gewone sterrestelsel leef, dat ons plek in die heelal buitengewoon is … Om die verleentheid te vermy klou ons vas aan die hipotese van eenvormigheid."
Eksterne skakels
wysig- Ons is in die middel Geargiveer 11 Desember 2013 op Wayback Machine
- Aanhalings – Kosmologie Geargiveer 13 September 2013 op Wayback Machine