Krabat (2008)
Krabat is 'n Duitse rolprent wat in 2008 onder regie van Marco Kreuzpaintner verfilm is. Die film is gebaseer op die gelyknamige roman van Otfried Preussler (Engelse titel: The Satanic Mill) asook die gelyknamige Sorbiese legende.
Krabat | |
---|---|
Regisseur | Marco Kreuzpaintner |
Produksieleier | Jakob Claussen Thomas Wöbke Uli Putz Bernd Wintersperger |
Draaiboek | Roman: Otfried Preussler Draaiboek: Michael Gutmann Marco Kreuzpaintner |
Met | David Kross Daniel Brühl Christian Redl Robert Stadlober Hanno Koffler Paula Kalenberg Anna Thalbach Charly Hübner en ander |
Musiek deur | Annette Focks |
Kinematografie | Daniel Gottschalk |
Redigeerder | Hansjörg Weißbrich |
Verspreider | 20th Century Fox |
Uitgereik | 7 September 2008 |
Speeltyd | 115 min. |
Land | Duitsland |
Taal | Duits |
Begroting | 8 miljoen € |
Amptelike webtuiste |
Verhaal
wysigIn die tyd van die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) word die 14-jarige wees Krabat 'n leerjonge in 'n meul naby Schwarzkollm in die Lausitz. Hy besef vinnig dat sy meester hier 'n "swart skool" bedryf waarin hy en sy elf metgeselle 'n opleiding in swart toorkuns ontvang. Elke jaar moet een leerjonge sy lewe opoffer sodat dié van die meester verleng kan word. Die enigste redding vir Krabat en sy metgeselle sal die liefde van 'n meisie wees.
Ontstaan
wysigDie verhaal rondom die towenaarsleerling Krabat is 'n Sorbiese legende wat veral deur die werke van Jurij Brězan (Die schwarze Mühle, 1968; Krabat oder Die Verwandlung der Welt, 1976) en Otfried Preussler (Krabat, 1971) bekendheid verwerf het.
Die rolprent is onder meer naby Sibiu in Roemenië en in ateljees in Bottrop, Duitsland geskiet. Om 'n egte historiese atmosfeer te skep, is daar nie gebruik gemaak van elektriese beligting nie. Die lig het deurgaans van die son, kerse, vuur en ander nie-tegniese bronne gekom. Kleure wat in die tyd van die Dertigjarige Oorlog uiters kosbaar was, soos byvoorbeeld blou, kom glad nie in die rolprent voor nie.
Die wêreldpremière het op 7 September 2008 by die Internasionale Toronto-filmfees plaasgevind. Die Duitse première was op 23 September 2008 in die historiese bioskoop Lichtburg Essen. Die fliek het vanaf 9 Oktober in Duitse rolprentteaters begin draai.
Die rolprent Krabat is die tweede verfilming van die onderwerp. In 1975 is die legende volgens Jurij Brežan se roman onder die titel Die schwarze Mühle en onder regie van Celino Blauweiß vir die Oos-Duitse uitsaaikorporasie Fernsehen der DDR verfilm. Daarnaas is 'n animasierolprent, Krabat, as Tsjeggies-Duitse koproduksie onder regie van Karel Zeman in 1977 vervaardig, wat op Otfried Preußler se roman gebaseer is.