Lenni-Lenape
Die Lenape of Lenni-Lenape (die latere "Delawares", soos hulle genoem is deur die Europeërs) was omstreeks 1600 'n versameling los georganiseerde inheemse volkere in die gebied van die benede-Hudson en die Delaware. Die volk het bestaan uit onder andere die volgende afdelings: Minsi, Minisink (Munsee) en Muheconneok (Mahican: nie te verwar met die Mohegan-stam nie).
Die Lenni-Lenape word beskou as die oudste deel van die stam van die Anishinaabeg, 'n versameling Algonkies-sprekende volke in Noordoos-Amerika. Die Anishinaabe-volkere, waaronder die Ojibweg, die Odaawaag, die Potawatomi en die Omàmiwininiwak (Algonkin), en verwante volkere soos die Shawnee en die Abenaki, beskou die Lenni-Lenape nog altyd as hul voorganger.
Die Lenni Lenape het landbou op klein skaal beoefen om hul rondswerwende bestaan as jagter-versamelaars aan te vul. Die Lenape-Indiane was voor die koms van die eerste Nederlandse koloniste die oorspronklike bewoners van die gebied wat vandag die baai van New York en die Delaware-vallei uitmaak. Hul Algonquian-taal staan ook bekend as Lenape of Delaware. Die woorde moccasin, powwow, squaw, tomahawk en totem is uit hierdie taal afkomstig.
Teenswoordig woon daar Lenni-Lenape-gemeenskappe in die deelstate Colorado, Delaware, Kansas, New Jersey, Ohio, Oklahoma, Pennsilvanië en Wisconsin, en in die Kanadese provinsie Ontario.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Lenape. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |