In meteorologie is 'n lugstorting[1] of valwind[2] (Engels: downburst) 'n sterk afwaartse en uitwaartse stroomwindstelsel wat in 'n puntbron in die lug ontstaan en radiaal waai: in reguit lyne in alle rigtings vanaf die impakgebied op die grond. Dit ontstaan onder diep, klam konvektiewe omstandighede, soos cumulus congestus- of cumulonimbuswolke.

'n Illustrasie van 'n lugstorting by 'n lughawe. Die lug beweeg af totdat dit die grond tref en versprei dan in alle rigtings. Dit werk op die teenoorgestelde manier as 'n tornado.

Dit kan skadelike winde veroorsaak en word soms met 'n tornado verwar, waar winde teen hoë snelhede om 'n sentrale gebied sirkel en lug na binne en na bo beweeg. Lugstortings duur gewoonlik 'n paar sekondes tot 'n paar minute. Dit is veral sterk in donderstorms.

Beskrywing

wysig

Lugstortings word meestal geskep deur 'n gebied waar lug aansienlik deur reën afgekoel word en sterk winde in alle rigtings versprei nadat dit die grond getref het.

Droë lugstortings word verbind met donderstorms met min reën,[3] terwyl nat lugstortings geskep word deur donderstorms met 'n aansienlike hoeveelheid reën.[4] Mikro- en makrostortings is lugstortings op onderskeidelik 'n klein en groot skaal. 'n Seldsame soort lugstorting is 'n hittestorting, wat geskep word deur vertikale lugstrome agter ou stortingsfronte en 'n streep donderstorms waar reën afwesig is.[5] Hittestortings genereer aansienlik hoër temperature vanweë die gebrek aan reënverkoelde lug in hulle vorming.

Lugstortings word aansienlik in lugvaart bespreek omdat hulle vertikale skuifwinde skep wat gevaarlik vir vliegtuie kan wees, veral terwyl hulle opstyg of land. Verskeie noodlottige vliegongelukke in die afgelope dekades word toegeskryf aan dié verskynsel en in die opleiding van vliegpersoneel word baie gedoen om hulle te leer om lugstortings/skuifwinde te herken en daarvan te herstel. Opsporings- en weervoorspellingstegnologie is ook by talle groot lughawens aangebring. Dit help vlieëniers en lugverkeerbeheerders om besluite te neem oor die veiligheid en wenslikheid van optredes in die omgewing van lughawens tydens storms.[6]

Verwysings

wysig
  1. "Lugstorting" (Internetwoordeboek). Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Woordeboek. Pharos. Besoek op 30 November 2024.
  2. "Valwind" (Internetwoordeboek). HAT. viva-afrikaans.org. Besoek op 30 November 2024.
  3. Fernando Caracena, Ronald L. Holle en Charles A. Doswell III. Microbursts: A Handbook for Visual Identification. Besoek op 9 Julie 2008.
  4. US Department of Commerce, NOAA. "Downbursts". www.weather.gov (in Engels (VSA)). Besoek op 15 Junie 2022.
  5. "Oklahoma "heat burst" sends temperatures soaring". USA Today|1999-07-08. 8 Julie 1999. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Desember 1996. Besoek op 9 Mei 2007.
  6. "Downbursts". PennState. Besoek op 15 Junie 2022.

Skakels

wysig