Ovovivipaar of Ovovivipare voortplanting (eierlewendbarendheid) is 'n metode van reproduksie by diere waar die eier in die moeder se liggaam bevrug en uitgebroei word. Nadat die eier uitgebroei is, skenk die moeder lewend geboorte aan die volledig ontwikkelde jongeling. Die vorm van voortplanting kom by verskeie haaie, reptiele, geleedpotiges, slakke en tweekleppiges voor.

'n Plantluis skenk geboorte nadat 'n eier in haar liggaam uitgebroei is.
'n Waterslang skenk geboorte.

Ovovivipare voortplanting verskil van "normale" lewendbarendheid (vivipaar), soos wat by die meeste soogdiere aangetref word, omdat die embrio nie met 'n plasenta aan die moeder se liggaam geheg is om voedingstowwe te verskaf en afvalstowwe weg te voer nie. Al die nodige voedsel word vooraf saam met die eier verpak; die moederliggaam dien slegs as 'n veilige omgewing vir die embrio. In sommige gevalle (veral by haaie en enkele slaksoorte) tree 'n vorm van kannibalisme op, waar die sterkste nuweling sy broers en susters as voedsel verbruik.

Die Guppie is 'n voorbeeld van 'n akwariumvis wat 'eierlewendbarend' is. Die "lewende fossiel", die Selakant is ook ovovivipaar. Ander voorbeelde sluit in die Marmer-drilvis en al die spesies wat aan die familie Dasyatidae behoort.

Sien ook

wysig