National Geographic Society
Leuse
Inspire, illuminate, teach.
Stigter
Gardiner Greene Hubbard
Stigtingsdatum
27 Januarie 1888
Hoofkwartier
Washington, DC
Verenigde State
Ledetal
6,8 miljoen
Sleutelpersone
Jean M. Case (voorsitter, 2016-)
Gary E. Knell (hoof uitvoerende beampte/president, 2014-)
Hooforgaan
Board of Trustees
Webtuiste
NationalGeographic.com
Die National Geographic Society (NGS) is een van die wêreld se grootste nie-winsgewende wetenskaplike en opvoedkundige instellings. Die vereniging, wat oorspronklik ter bevordering van aardrykskunde in die lewe geroep is en sy hoofkwartier in Washington, DC in die Verenigde State het, het ook belangstelling in argeologie en natuurwetenskappe, bevorder die bewaring van die natuur en historiese erfenis, en stel belang in wêreldkultuur en -geskiedenis.
Die kenteken van die NGS is 'n geel portretraam wat ook op die voorblaaie van sy tydskrif National Geographic Magazine verskyn en eweneens as kenteken van sy televisiekanaal gebruik word.
Geskiedenis
wysigDie National Geographic Society (NGS) is oorspronklik as 'n klub vir 'n elitêre groep van akademici en welvarende patrone met belangstelling in reis gestig. Op 13 Januarie 1888 het 33 ontdekkingsreisigers en wetenskaplikes in 'n privaat klub, die Cosmos Club wat destyds op Washington se Lafayette-plein geleë was, vergader om 'n "vereniging vir die uitbreiding en verspreiding van geografiese kennis" in die lewe te roep.
Ná die opstelling van sy statuut en organisasiestruktuur is die NGS twee weke later op 27 Januarie geïnkorporeer. Gardiner Greene Hubbard was die vereniging se eerste voorsitter wat ná 'n ampstermyn van nege jaar in 1897 deur sy skoonseun Alexander Graham Bell opgevolg is. Bell se skoonseun Gilbert Hovey Grosvenor is in 1899 as die eerste voltydse redakteur van die vereniging se tydskrif, National Geographic, benoem en het dié amp meer as 'n halfeeu tot en met 1954 beklee, terwyl ook ander lede van die Grosvenor-familie sedertdien belangrike poste in die organisasie gevul het.
Dit was Bell en Gilbert Hovey Grosvenor wat lidmaatskap in die NGS as die vereniging se sentrale bemarkingswerktuig met groot sukses ingespan het en ook 'n baanbrekersrol gespeel het by die gebruik van foto's as narratiewe element in tydskrifte.